voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


balboapark, san diego -
'n wetenskapfiktiewe utopia

   
jens friis
     

 
Nes 'n wetenskapsfiktiewe Utopia uit die 1950's staan Balboapark op San Diego se heuwelkruin.
Ontspanne mense stap met breë voetpaadjies verby kleurvolle blombeddings, suurstofproduserende bome en esteties stimulerende geboue. Van verkeer is hier nie sprake nie. Ook nie van rommel nie. Is dit hoe daar eens gehoop is stede in die 21ste eeu sal lyk?
Destyds is Balboapark as 'n eersteklas kulturele woonbuurt uitgelê. Op 485 hektaar staan 15 museums en gallerye. Weinig hiervan is wêreldleiers, maar uitgebreide, indrukwekkende versamelings is volop. Tesame vorm dit 'n kompakte oorsig van onse planeet.
In 1868 het San Diego 'n stuk grond opsy geskuif vir 'n park. 'n Veertig jaar later is dit Balboapark gedoop na die eerste Europeër wat die Stille Oseaan sou gadeslaan, Vosco Nunez de Balboa. Die Spaans-barok styl met Maja-invloede gee aan die destydse visie van die toekoms 'n onverwagse sensualiteit. Dit is grootliks gebou vir die Panama-California Exposition in 1914-15. Hieronder is die grootste buitenshuise orrel. Die res het gevolg toe die California-Pacific International Exposition tydens 1935-36 hier plaasgevind het.
Die Museum of Photographic Arts (MoPA) het my dalk die meeste beïndruk. In 2000 is dit verviergroot met onder meer 'n filmteater, vergrote uitstalruimte en biblioteek met 27 000 stukke. Die permanente versameling sluit werke in van die fotowêreld se grotes waaronder Henri Cartier-Bresson, Dorthea Lange en Ansel Adams. Vir die klassieke 1941 Orson Wells film, Citizen Kane, is dié museum se voorste fasade ingespan.
'n Waarskynlik ongeëwenaarde uitstalling is in die San Diego Model Railroad Museum - die grootste van sy aard. As 1/87 of 1/160-skaalmodelletjies van treine in ewe klein landskappe jou fassineer is dié die plek.
Moeg gestap deur die wydse Balboapark is dit tyd om op 'n 1/5-skaal miniatuur-treintjie te klim na San Diego Dieretuin. Dié dieretuin spog met meer as 800 spesies en subspesies waarvan talle op die rand van uitsterwing staan. Verseker is hierdie dieretuin te groot (40 ha) om tjoef-tjaf kaf te draf.
Na 'n uur se staan voor die pandahok wou dié reuse teddies niks anders doen as dut in die son. Minstens was die koalas wakkerder. Anders sou ek maar teleurgesteld gewees het oor die R150 wat 'n toegangskaartjie kos. Olifante en leeus kan ek en jy immers in Suid-Afrika ook sien.
Meer as 400 000 kunsliefhebbers stroom jaarliks na die San Diego Museum of Art. Stop 'n uitgebreide reisende uitstalling nie hier nie, is sy wêreldreis nie volledig nie.
Anders as die ander gallerye in Balboapark is toegang tot die Timken verniet. Dié gallery spog met werke van Reubens tot Hals.
Een van die beste redes om die Mingei International Museum te besoek is vir sy geskenkwinkel wat tjok en blok geprop is met goete wat jy nie sommer elders kry nie. Dit is die ideale plek om geskenke vir geliefdes tuis te koop, want die Mingei word gewei aan volkskuns. So, wat sal dit wees: 'n Amerikaanse kwilt of eerder Japanese keramiek?
'n Interessantheid by die San Diego Aerospace Museum is 'n propperse volskaalmodel van Leonardo da Vinci se klapvliegtuig ("ornithopter") en die Wright-broers se 1903-vliegtuig. Aangesien San Diego 'n voorste Amerikaanse militêre basis is, is dit gepas dat talle vlieggoed by die museum vegvliegtuie is soos 'n Russiese MiG en 'n Duitse Messerschmitt. Heelwat afgetrede weermagpersoneel word as vrywilligers ingespan wat 'n besoek veel meer eg maak.
Die ander museums moes ek skiep. Twee volle dae was niks anders as 'n warrelwind besoek. Daar was nog veel meer.
Helaas het die beloofde toekoms nooit gearriveer - soortgelyke kulturele areas is daar nie elders nie, behalwe in San Diego.

  • Vir die kultureel-versadigdes is die buitenste terras van die Prado-restaurant 'n ideale plek om verkwik te word in van die mees voorspelbare weer in Noord-Amerika: sonnige en warm dae.

sou jy gaan

  • Info: Balboa Park Visitors Centre, House of Hospitality, 1549 El Prado, Suite 8, San Diego, California 92101-1661. Tel. (619) 231-9494.
  • Tye: Museums en gallerye is oop tussen 10:00 en 16:00. Sommige is gesluit op Maandae. Daar kan langer in die dieretuin rondgeloop word. Dit is oop tussen 09:00 en 16:00 en somers (Junie - September) tot 21:00.
  • Toegangsfooi: Sien 12 museums vir $21 met 'n Balboa Park Passport. Die duurste van die enkelkaartjies is $12. Sommige museums is op Dinsdae gratis. 'n Kaartjie tot die dieretuin werk uit op sowat R150.
     

j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's