Stadshuis en Horlosie

Up

Ouwerkerk
Geskiedenis
Esme Bull Navorsing
Help asseblief
Belangrike Persone
Stamvaders
Tydlyn
Wapen
Koerantknipsels
Sk's
Beaufort-Wes Brokkies
Stories

Up
Eerste Verkeersknope
Stadshuis en Horlosie
Hospitale en Geneeshere
Natuurrampe
Stoomtreine
Plaasskole

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DIE HISTORIESE OU STADHUIS

Die Stadhuis wat op 20 Julie 1866 in gebruik geneem is, is deur die argitek James Bisset ontwerp. Dit was die eerste stadhuis in die Karoo. Dit het die Munisipaliteit, wat in 1837 uitgeroep is en die eerste wat in Suid-Afrika was, gehuisves.                                     

 Omdat die dorp in die vorige eeu feitlik geen ander saal van enige aard gehad het nie, was dit vir baie doeleindes gebruik soos aangeteken in munisipale notules tot 1914.

  • Dit het die munisipale kantore en raadsaal gehuisves
  • Die stadsaal self is vir danspartye, verjaarsdagpartytjies, bazaars, blommetentoonstellings, skaatsdoeleindes, ens gebruik. Op 24 Mei (Koningin Victoria se verjaarsdag) was daar elke jaar groot fees gevier.
  • 1869: Toestemming aan die posmeester om die kamer links van die voorportaal te gebruik as poskantoor.

Ds Colin Fraser van die NG Kerk se dogter het ‘n vertrek in die stadhuis as skoolklaskamer gehad.

Eerw. P Teske het die stadsaal vir skool- en ander godsdiensbyeenkomste

gebruik, aangesien sy kerk in die oorstroming weggespoel het

  • 1867: Een van die grootste  kamers is aan die Afdelingsraad verhuur
  • 1880: Die bevelvoerende offisier van die “Beaufort West Volunteer Rifles”, ‘n soort staatkommando, het ‘n vertrek gehuur as kantoor.
  • 1882: Twee vertrekke word verhuur aan die goerwerment as telegraafkantoor
  • 1885: Besluit om ‘n deel van die biblioteek asook kommissaris Pritchard (prokureur) se kantoor aan die telegraafdepartement te verhuur, omdat hulle meer ruimte vir die posdiens nodig het.
  • 1894: Brief van die posmeester-generaal dat die gehuurde kamers op 30 November ontruim sal word. ( Die biblioteek het toe daarheen verskuif.)
  • 1895: Twee kantore word verhuur aan prokureur CD de Smidt.
  • 1899 – 1902: Gedurende die Anglo Boere-oorlog is die gebou as ‘n hospital gebruik.
  • 1905: Skole gebruik die stadsaal vir “drilling purposes”.
  • 1911 – 1913: Sondagskool van die NG Kerk in die stadsaal gehou, omdat die kerk te klein was vir die kinders
  • 1913: Die goewerment huur kamers in die stadhuis as magistraatskantoor vanaf 16 September 1913 tot einde 1914.

Ja, almal se toevlug was maar na die ou Stadhuis. Daar is nog baie, maar te veel om op te noem.  Vandag vorm die ou Stadhuis deel van die museum en huisves uitstallings van twee Beaufort-Wes seuns nl Prof Chris Barnard- en Dr Eric Louw. 

23 Junie 1885  word besluit, op voorstel van kommissaris Oliff, om die populierbome voor en langs die stadhuis te verwyder en sipresbome te plant. 

Die Sipresboom wat op die sypaadjie voor die Stadhuis staan is die laaste oorlewende boom van ‘n ry sipresbome wat eerw. Paulus Teske in 1885 geplant het. Die Stadhuis is saam met die ou Sipresboom op 3 Desember 1965 tot nasionale gedenkwaardighede verklaar.

 DIE STADHUISHORLOSIE VERTEL DIE VERHAAL VAN SY AANKOMS EN VERBLYF OP BEAUFORT-WES

 Die NG Kerk en die Dorpsraad kon nie tot ‘n vergelyk kom in verband met die aankoop van ‘n nuwe betroubare horlosie vir die kerk nie. Die Raad besluit dat daar nie langer met so ‘n belangrike saak gesloer kan word nie en dat daar ‘n nuwe Stadhuishorlosie vir die stadhuis, wat voltooiing nader, aangekoop moet word. Vir hierdie doel is ek toe so gou as moontlik uit Engeland hierheen ingevoer en kort na voltooiing van die stadhuis, in November 1866, is ek behoorlik in die toring geïnstalleer. Die installasiewerk is aan Raadslid Tobias Mynardt vir die bedrag van £20- toevertrou. Hy het dit baie deeglik en stewig gedoen. 

Met my twee klokke en hamers kon ek sedertdien by wyse van ‘n helder klank die tyd elke kwartier aangee. Langs my, in die toring, is ‘n ander groot klok met ‘n lang tou aangebring. Hierdie klok se “stem” kon baie vêr gehoor word en is vir die Historiese Aandklokreël om 9 uur in die aand en vir uitsonderlike gebeurtenisse soos brande gelui. Om my te bereik, het opwenner F Austin gebruik gemaak van ‘n trap uit die ou biblioteekkamer net links van die stadhuis se voorportaal. 

Die “Beaufort-tyd” soos deur my aangegee, was ongelukkig nie altyd van die betroubaarste nie. Vanaf 1879 het dit gelukkig beter gegaan. Die plaaslike Posmeester het vriendelik onderneem om die “Kaapstadtyd”, soos aan hom telegrafies verstrek, aan die Munisipaliteit oor te dra. In die jare wat gevolg het kon ek toe baie goeie diens aan my dorp lewer. Mnr Austin het my uiters stiptelik versorg. Sy vertrek in 1905 was vir my ‘n persoonlike gevoelige verlies. Dis so jammer dat sy opvolgers, Jacobson en Johnson onderskeidelik, nie altyd die nodige aandag aan my gegee het nie en dat my diens aan die publiek gevolglik daaronder moes ly. 

Die swak versorging was die oorsaak dat my tydhouvermoë ook verswak het. Die dorpenaars het dus begin mor en kla. Daar word weereens met die Posmeester onderhandel en in Junie 1912 beloof hy om elke Dinsdag om 12 vm. ‘n tydsein aan die Munisipaliteit te verstrek waarvolgens ek dan reggestel is en die klok langs my in die toring gelyktydig gelui is, sodat die dorpsmense verder weg kon hoor om hulle horlosies ook reg te stel. 

Op 2 Julie 1918 kry ek my laaste “pleegouer” in die persoon van mnr MC Ellis, oupa van die huidige fietshandelaar, mnr M Ellis (Tim). Vir £1- per maand het hy sy uiterste bes gedoen om my ratte glad te laat loop en om my stiptelik gereeld op te wen. 

My diensbaarheid het reeds in 1895 ‘n groot knou gekry. In daardie jaar koop die NG Kerk van Beaufort-Wes ‘n groot, nuwe horlosie met ‘n harde “stem” wat vanuit ‘n hoër posisie uit, die kerktoring, baie verder as ek hoorbaar was. Toe moes ek maar tevrede wees om tweede viool te speel, totdat die Stadsraad uiteindelik in 1935 besluit het om my nie verder te gebruik nie. 

Vir baie jare was ek verplig om teen my sin te “swyg”, totdat die gedagte die Raad begin pla het. Onder aansporing van Raadslid WGH Vivier word die deskundige raad van mnr Joop Mojet ingeroep en tot my groot blydskap word bevind dat my paar kwaaltjies sonder groot koste reggedokter kon word. Mnr Mojet het intussen vertrek maar na 30 jaar van stilswye het mnr JH Snyders, plaaslike horlosiemaker, tog daarin geslaag om my van “kop tot toon” so deeglik na te gaan, dat ek daarna weer lustig die tyd kon aftik. Mnr Snyders het my gereeld versorg en tweekeer per maand opgewen. 

In September 1968 was daar ‘n Stadsraadverkiesing en toe kla die kiesers dat my tyd verskil van die kerkhorlosie. Om verwarring te voorkom word my “oppasser” gevra om my stil te maak. Vanaf daardie dag was ek stom tot vandag toe.

 Bron: Hooyvlakte deur WGH en S Vivier Navorsing deur FV Hanekom

Ouwerkerk Geskiedenis Esme Bull Navorsing Help asseblief Belangrike Persone Stamvaders Tydlyn Wapen Koerantknipsels Sk's Beaufort-Wes Brokkies Stories Up Eerste Verkeersknope Stadshuis en Horlosie Hospitale en Geneeshere Natuurrampe Stoomtreine Plaasskole