Die Myburghbond van Suid-Afrika

The Myburgh League of South Africa

Voorsittersverslag

1999 – 2000

19 / 04 / 2001

 

 

 

 Geagte Raadslede.

 

Weens my afwesigheid na Holland en Amerika verlede jaar het ons nie vergadering gehou nie en rapporteer ek dan vandag die aktiwiteite van die Bond oor die afgelope twee jaar.

Aangesien ek reeds in die nuusbrief breedvoerig oor sekere onderwerpe gehandel het gaan ek dit , om tyd te bespaar , nou nie weer noem nie. Dit staan u nogtans vry om nog vraë oor van die punte in die nuusbrief te vra en dit op hierdie vergadering onder algemeen te bespreek.

 

  1. Programmering van Geslagsregisters .
  2. Die programering van die geslagsregisters vorder nie so vinnig as wat ek gedink het dit sou gaan nie. Die rede is dat elke familielid fisies ingetik moet word, aangesien my voorganger Wyle Oom Philip al sy werk met die hand gedoen het, en ons derhalwe niks op stiffies het, sodat ons net sy inligting kan oordra op die nuwe program nie.

    So moet elke getroude paar se huwelik ook ingetik word, voordat die program enige kinders vir die betrokke ouerpaar sal aanvaar. Nietemin het ons reeds 921 name en 274 huwelike geregistreer en probeer ek om minstens elke aand tyd af te staan om te probeer om minstens +- 20 name met die huwelike wat mag voorkom in te tik.

    Met die inprogramering van een huisgesin behels dit die volgende : Die invoering van die vader en moeder met hulle geboorte , doop en of sterfdatums. Die aanduiding van of dit ‘n manlik of vroulike lid is, en waar gebore en waar gedoop. Die invoer van die verwysingsnommers en beroepe. Enige ander inligting oor die ouerpaar waar hulle gewoon of gewerk het, en enige ander inligting oor die persone wat van belang mag wees. Die inligting oor wie se seun of dogter van watter ouers Daarna moet die huwelik weer ingevoer word met huweliksdatum , waar getroud en of daar ‘n seremonie was aldan nie. Egskeiding in dien daar enige was en met wie geskei en wanneer? Daarna word die kinders een vir een ingevoer met die meeste van die vraë hierbo genoem. In my nuusbrief het ek genoem dat ons +-60% deur die registers is, maar die afgelope twee maande het ons, nadat ons van sekere groot familietakke navraag gekry het , tot die besef gekom dat daar baie meer Myburghs in die land is as wat ons ooit oor kon droom. Die lyste van ongekoppeldes is selfs dikker as dié wat reeds gekoppel is. Daar wag tans 23 briewe en navraë oor die familie en elf voledige kwartierstate wat deurgewerk moet word, wat nie een in Oom Philip se boek of op ons komper is nie. Drie van hierdie kwartierstate tel oor die 130 name. 

  3. Navraë en Genealogiese werk die afgelope twee jaar.
  4. Die algelope twee jaar het daar ‘n Genealogiese ontploffing hier ter lande sowel as oorsee binne familieverband plaas gevind, en so het die Bond dit ook ondervind veral in die laaste agt maande. Ons word oorval van navraë oor die Bond en familieverbintenisse met ander families in die land. Ons het gepoog om meer te konsentreer op lede wat die familienaam dra en wat ernstig is om lede van die Bond te word. Tog word baie van ons tyd en geld verspil deur lede wat entoeasties navraag doen, en dan nadat hulle die inligting ontvang het,net nie weer van hulle laat hoor nie. Hierdie lede verwag soms die onmoontlike van jou en neem aan die Bond skuld hulle al die inligting wat hulle verlang en hulle is volgens geboorte geregtig daarop.

    Ons sal op hierdie vergadering net soos ander familiebonde en Genealogiese instansies ernstig moet dink aan een of ander heffingsfooi vir nie lede en lede van ander families wat inligting verlang oor hulle verbintenis. Hierdie soort inligtingsfooi word by baie Bonde en instansies gehef om inligting op te soek en aan te stuur. Sulke versoeke neem soms baie ure se navorsing in beslag , soms ‘n paar telefoonoproepe , ‘n groot koevert met al die seëls wat daarop moet gaan en al die motiveringsmateriaal om die lid sovêr te kry om minstens aan te sluit of ‘n antwoord te produseer.

  5. Afrikaanse Genealogiese Forum en Kultuurforum.
  6. As stigterslid van die grootste Afrikaanse Genealogiese Forum in die werêld het die Myburghbond die afgelope twee jaar ‘n fenomenale bydraë tot Genealogiese navorsing binne die globale sfeer gemaak Genealogiese navorsers van oor die hele werêld is tans ingeskakel by die forum waar Genealogiese navorsing met Afrikaans as voertaal gedoen word, en is dit veral vir ons oorsese navorsers ‘n voorreg om in hulle moedertaal aan die besprekeninge deel te neem. Ons het gedurende die maande Jan 2000 tot Feb 2001 maandeliks 1100 – 1200 E-Pos Boodskappe oor Genealogie hanteer, waarvan gemiddeld 60 tot 80 die onderwerp Myburgh/Kruger, Myburgh/Botha , Myburghbond of van een of ander familievan wat navraag doen oor een of ander konneksie met die Myburghs. Ek het op die oomblik vir vier maande verlof op die forum gevra om my agterstallige werk in te haal, en staan ons Natalse verteenwoordiger vir my in, en stuur die E-pos wat ek van kennis moet neem vir my deur. My dank ook aan Mike Myburgh wat getrou sorg dat ek alle inligting en navraë in verband met die familie ontvang.

  7. Besoeke aan begraafplase en inspeksie van familiegraftes
  8. Ek het reeds breedvoerig in die nuusbrief gerapporteer oor die begraafplase en ek wil hier my dank uitspreek teenoor Dalene Oertell wat vir my die hele Lady Grey Begraafplaas saam met haar helpers gaan opskryf het en alles vir die Bond op stiffie geplaas het.

    My dank ook aan Mev Anita Nell van Somerset Oos wat die Begraafplase in Gramhamstad en begraafplase in die Albanydistrik, sowel as die sterfteregisters van Gramhamstad met soveel ywer, graf vir graf en naam vir naam deurgeloop en deurgelees het, en alles op band vasgelê het. Sy en haar man het onlangs verhuis na Swaziland, maar sodra ek hulle nuwe adres het, sal ek names die Bond ‘n bedankings brief aan haar rig.

  9. Navorsing oor die Familie in samewerking met Dalene Oertell
  10. Gedurende die afgelope twee jaar het die Myburghbond ‘n persoon bygekry as medenavorser wat ongelooflik baie werk en navorsing sonder enige vergoeding vir ons gedoen het. Dalene Oertell het nie net kosbare navorsingwerk gedoen nie, maar is ook nou betrokke by ons betrokenheid met die skrywe en navorsing van die opvolgboek van die ,, Rebelle van die Stormberge" Wanneer Dalene ‘n stuk navorsing voorlê, weet jy dadelik dit kom van haar, want deeglikheid en voledigheid is haar wagwoord. Haar intesiewe en onbaatsugtige navorsing het ons Bond al ‘n hele paar honderd rand gespaar en nog nooit het sy een dag iets gevra vir al haar werk nie.

    Ek hoop dat die Raad later in hierdie vergadering my voorstel sal oorweeg om Erelidmaatskap van die Bond aan hierdie hardwerkende, getroue navorser en medegenealoog toe te ken. Dalene doen as sulks nie intensiewe navorsing net op die Myburghs nie, maar sedert sy by die Bondskantoor se aktiwiteite betrokke geraak het, het sy ons telkens verras met al die deeglike en elke keer omvattende ondersoeke wat sy namens die Bond gedoen het en nog besig is om te doen, nou, sowel as in die toekoms. Haar eintlike teikengebied is al die families rondom Lady Grey, Aliwal Noord en Barkly Oos. In haar afwesigheid wil ek namens die Bond groot dankie sê aan Dalene Oertell vir alles wat sy vir die Bond en vir die Myburghs gedoen het en nog doen.

  11. Oom Abrie Oosthuizen skrywer van ,,Die Rebelle van die Stormberge"
  12. Of die Myburghs van die Boland en Wes Kaap dit nou wil erken of nie , maar die Bastion van die Myburghs is gesetel vanaf die Overberg deur die Groot Karroo, Kaapse Middelande, Oos Kaap en Noord Oos Kaap, met die uitsondering van enkele families in die Vrystaat , Natal en Transvaal wat almal uitlopers is van die bogenoemde hooftakke.

    Na aanleiding van my intensiewe navorsing die afgelope vyf jaar, my besoeke aan Kerkargiewe, Museums en begraafplase kan ek vandag Genealogiese staaf dat die grootste konsentrasie van die familie in hierdie gebiede geleef en gewoon het, en tans nog steeds die geval is. Dit is ook in hierdie hinterland wat die geskiedenis en familietafereel van die Myburghs ontvou. Dit is ook in hierdie streek en veral in Noordoos Kaapland met die Kaapse Middellande ,Stormberge en Drakensberg as brandpunte waar die Myburghs ‘n deel van die geskiedenis van hierdie land geskryf het, wat steeds onbekend aan baie mense is. Dit is dan ook hier waar A.V. Oosthuizen die rol van die Myburghs saam met Komdte. Olivier, Kritzinger, Jan Smuts, Scheepers, die onverskrokkeWillem Fouchee en Christoffel Myburgh saamvat oor daardie ,,storm-en-drang-jare" van die Anglo Boeroorlog . Dit is ook dan hier waar Oom Abrie en myself besluit het oor ‘n opvolgboek op die ,, Rebelle van die Stormberge" wat die pynlike moeilike herstel jare van na die oorlog sal weergee. Die bitterheid , ontberings en verarming en dan die opstaan uit die stof van die oorlog.

    In sy boek het Oosthuizen ‘n stuk geskiedenis van die Myburghs saamgevat wat seker van groot belang vir die Myburghs van die genoemde streek is, maar wat terselfder tyd as maatstaf kan dien aan elkeen wat reken hy of sy is ‘n Afrikaner in murg en bloed.

    Oor hoe ek hierdie saak sal aanpak en watter voordeel die Bond later uit die verkope van die boek sal kry moet ons nog bespreek. Hy het ook al sy vorige navorsing aan die Bond beskikbaar gestel, asook al sy navorsing oor Komdt Stoffel Myburgh. Ek sal weer in my volgende nuusbrief oor hierdie aangeleentheid rapporteer. Die ware feite van omstandighede van daardie tyd word steeds verdoesel, en hierdie boek sal die ware feite van hanskakies, verraaiers, lojaliste, jingos en dorpswagte vir die eerste maal na ‘n honderd jaar na die oppervlak bring. 

  13. Enkele punte voortspruitende uit familienavraë en telefoongesprekke oor die Bond.
    1. Ons het nooit geweet van die bestaan van die Bond nie.(OVS en Transvaal)
    2. Die Bond was eksklusief net vir sekere lede. ( Overberg )
    3. Wat van vergaderings by ons? ( Ander dele van die land? ) Natal en Vrystaat
    4. Hoekom is al die Raadslede in die Weskaap? ( Die Bond is daar gestig )
    5. Wat van Taksaamtrekke in ander dele van die land? Vrystaat.( Ons het alreeds

twee gehou in Johannesburg en Dordrecht )

6 Die Bond is net vir die Myburghs van die Kaap ( Definitief nie. Ons doel is om

die Bond uit te bou na al die familietakke in die land en ook na ons oorsese

familielede. Lede reeds aangesluit in VSA.)

7.7 Daar moet aan maniere gedink word om die Bond meer bekend te stel sodat die

verskillende families kan kennis dra van die Bond ( Transvaal ) ( As meer lede

aansluit sal ons finansiële vermoe verbeter en sal ons die Bond meer aggressief

kan bemark. )

7.8 Hoekom is die studiebeurs net eenmalig en nie vir die daaropvolgende jaar nie.

( Die Raad voel dat ons deur die eenmalige toekenning meer Myburgh gebore studente help en die Raad sal dit her oorweeg sodra daar genoeg lede aangesluit het, wat ons finansieel sterker sal maak. Op die oomblik moet ons binne ons begroting doen wat die beste is ) Uitenhage.

    1. Wat van Myburgh gebore Matrikulante wat uitstaande prestasies op Hoërskool behaal het en graag wil gaan studeer , maar van wie die ouers nie al
    2. die finansies kan by bring vir die kind se eerste twee jaar nie. ( Lid van die Bond uit Queenstown ) Ek sal die saak by die volgende vergadering

      met die Raad opneem en weer terug rapporteer.

    3. Bloemfontein , Ons moet die Bond baie meer bekend stel, met ‘n definitiewe beleid na vore kom wat elke Myburgh gebore persoon sal motiveer om by die Bond te wil aansluit en terselfder tyd trots kan laat voel om lid van die Bond te wees. Ons moet in so ‘n posisie kom dat ons, soos met die studiebeurs ons lede op ander gebiede ook kan bystaan sodat elkeen wat lid van die Bond is, die gevoel van samehorigheid , ondersteuning en samewerking kan ondervind. Nie net op Genealogiese en kultuur gebied nie maar ook binne familieverband.

( Wat bedoel u daarmee , gee ‘n paar voorbeelde? )

Op die gebied van werkskepping, advertensie deur ons Tuisblad op Internet oor verskillende produkte en dienste wat van ons familielede lewer. In hierdie tyd moet ons op onsself aangewese wees vir oorlewing in hierdie land, as ons die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe wil laat bly.

Dit is ‘n mondvol wat u voorstel en waarmee ek graag met u wil saamstem, maar soos enige instansie is ons ook maar aangewese op net soveel finansiële vermoë as wat ons tot ons beskiking het. Maar ek sal dit op die agenda plaas en die saak met die Raad opneem. Daar was al sulke gedagtes geopper deur lede van die Raad.

8 Opsommend :

Geagte Raadslede, na aanleiding van bogenoemde vraë uit verskillende dele van die familie behoort dit vir ons duidelik te wees , dat die Myburghbond van Suid Afrika in ‘n rigting begin beweeg, wat nie net gaan beteken die opskrywe van familierekords en geskiedenis nie, en is dit my oorwoë mening dat die Raad met erns sal moet besin oor waarheen en wat ons met die Bond in die toekoms wil doen. Ek is bereid om die leiding te neem en te administreer, maar ek sien die toekoms nie meer as net ‘n eenmanspoging nie, maar as ‘n familiespanaksie waar in ons almal op een of ander wyse betrokke sal moet raak as ons uitvoering wil gee aan enige beplande toekomsvisies. Ek hoop en vertrou dat ons vandag met sekere voorstelle of idees na vore sal kan kom, wat kan dien as ‘n vertrekpunt vir bogenoemde vraë.

  1. Bedankings:

Ek bedank u almal wat my deur die afgelope twee jaar ondersteun het met u hulp en bystand om die belangrike roeping binne familieverband te volbring. Tenspyte van ons daaglikse private beroepe , sal ek graag wil sien dat Raadslede in ‘n mate meer betrokke sal raak by die aktiwiteite van die Bond. Veral hier in die Weskaap waar ek vêr van verwyderd is , met die werwing van lede en die bemarking van die Bond.

My dank ook aan ons streeksverteenwoordigers en medenavorsers hier plaaslik, sowel as die oorsee wat my die afgelope jaar getrou bygestaan het. Hierdie persone was vir my van onskatbare waarde wanneer dit gekom het by die versameling van inligting soos sterftesertifikate, familieinligting ens.

 Hiermee wil ek ook al die lede van die Meijburgfamilie in Holland bedank vir die wonderlike gasvryheid en hulp tydens ons besoek aan ons stamland. Veral aan Aad en Hanneke Meijburg vir hulle moeite met die beplanning van die toer deur die Meijepolder en na die de Meijeriviergebied, sowel as al die reelings vir die geskiedkundige familiebyeenkoms die aand in Ijsselstein. My dank ook aan my eweknie Cornelius ( Cees ) Meijburg vir al die moeite met die opstel van hulle familiekwartierstate, sowel as die gewaardeerde navorsing van die Genealoog M.R.H.Calmeyer wat hy vir die Bond, by die Certraal Bureau voor Genealogie in Den Haag, so netjies saamgebind het. Ek hoop en vertrou dat wanneer hierdie familielede in die nabye toekoms, besoek aan ons hier in Suid Afrika kom aflê, ons hulle met dieselfde Myburgh gasvryheid sal ontvang soos hulle ons ontvang het.

Laastens , dank aan my Hemelse Vader vir die Genade , gesondheid en geleentheid aan my gegun om al my familielede in Suid Afrika en oorsee te kon dien en om sodoende bymekaar bring wat bymekaar hoort.

Ek dank u.

 

________________________

Freek Myburg

Voorsitter / Genealoog

 

  Terug na Tuisblad/Back to Homepage