|
|
|
|
|
|
|
|
Philip Albert Myburgh en Majorie Myburg
Philip Albert Myburgh 21/7/1910 - 21/1/1992 Philip Myburgh was een van die grondleggers van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika. Hy was ook die Stigter van die Myburgh-familiebond wat vandag oor die hele land, sowel as in verskeie oorsese lande, aktief besig is met die bevordering van samehorigheid, verwantskap en belange van alle lede van die Myburgh-familie. Die historiese plaas Joostenberg was sy lewe. Hier is hy in 1910 gebore en hier is hy ook oorlede en is sy as uitgestrooi. Behalwe vir die vier jaar wat hy in die Tweede Wêreldoorlog was, het hy en sy geliefde eggenote, Majorie, hulle hele lewe op Joostenberg gebly. Hulle het saam die plaas Joostenberg, wat in 1756 gebou was, volledig gerestoureer en dit 'n middelpunt vir staatkundige en kulturele aktiwiteite gemaak. Hulle deure was altyd oop vir enige besoeker, of hy nou 'n lid van die Familie was of nie, almal was altyd welkom op Joostenberg. Vir menige familielid was 'n besoek aan Joostenberg en hierdie lieflike, gasvrye mense 'n ryke ervaring wat nie maklik vergeet kan word nie. Philip Albert Myburgh was 'n kultuurmens en Godsmens wat op sy nederig en beskeie manier 'n groot invloed gehad het op almal wat hom geken het en met hom in aanraking gekom het. Sy gesinslede, sowel as sy familiegenote deur die land, was sy lewensprioriteit, en sy heengaan sal nog lank in die genealogiese sfeer van die Myburghs van Suid Afrika gevoel word. In die jare sestig en sewentig het politieke en godsdienstige leiers van diverse rigtings in klein groepe informeel op Joostenberg met mekaar kom praat, wat dikwels tot nuwe insigte gelei het. Ook historici het dikwels in die ou groot voorkamer saam kom koffie drink. So het 'n aantal bekende genealoë dan ook op 18 Junie 1964 gehoor gegee aan Philip se oproep, en is die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika gestig, wat seker vandag oor die 2000 lede het. Op dié dag was ook besluit om 'n kwartaalblad, Familia, uit te gee waarin die resultate van individuele genealogiese navorsing beskikbaar gestel sal word tot voordeel van mede navorsers. Hierdie blad word nog steeds gepubliseer en is tans in sy 35ste jaargang en wyd gelees deur menige genealogiese navorser. Ander stigterslede op die geskiedkundige dag was Dr Cor Pama, Dr Con de Villiers, Dr J.A. Heese, Louis Hiemstra, André Hugo, Johannes van der Bijl, Anna Böeseken en Ds Charles Hopkins. In 1987 het Philip die resultaat van sy onvermoeide en jarelange navorsing in die unieke werkstuk, Die Myburghs van Suid Afrika, gepubliseer. Volgens 'n boekeresensie in die Burger 10/3/1988: "Uit boeke wat die afgelope tyd oor bekende families die lig gesien het en die moeite werd is om te vermeld. Die mooiste uitgawe is seker dié van die veteraan van ons genealoë Mnr P.A. Myburgh se Die Myburghs van Suid-Afrika". Die skrywer het 'n reuse werk vir die familie verrig en dit is 'n boek om op trots te wees. Die Myburghs van Suid Afrika bring hiermee hulde aan 'n geliefde Familieleier en Voorsitter wat diep spore in die kulturele en historieselewe van sy familie en sy volk getrap het. Geskryf deur F. J. Myburg Voorsitter/ Genealoog Myburghbond van S.A.
Met erkenning aan: Die Burger Wyle Dr Cor Pama Dr R.T.J. Lombaard |
|
|
|