Myburghbond van S.A.
Nuusbrief No 3 - Oktober 1999.
Geagte Familiegenote,
Ses maande is alreeds verstreke na die laaste Raadsvergadering en verskeie dinge het gebeur gedurende die tyd, terwyl ons nou in die laaste pylvak van hierdie millenium is.
Ek rapporteer so volg aan u :
1. Lidmaatskap van Gisa ( Genealogiese Instituut van S.A.)
Die Myburgbond het ook weereens, soos dit in baie gevalle in ons Genealogiese geskiedenis was, die leiding geneem en die eerste familiebond in die land gewees wat lidmaatskap by GISA verkry het, op Vrydag 21 Mei 1999. Ons het ook by die geleentheid die Geslagsregisterboek ,, Die Myburghs van S.A. deur P.A.Myburgh " aan GISA geskenk ter aanvulling van hulle Genealogiese Bronnedata.
Lidmaatskap van GISA stel ons instaat om noue skakeling en samewerking met ander Genealogiese instansies soos die GGSA, die P.E. Genealogiese navorsingsgroep, die RGN en alle Genealogiesenavorsers van die verskillende Familiebonde dwarsdeur die land te kan bewerkstellig.
Gedurende Sept 1999 is die volgende volume van die Suid Afrikaanse Geslagsregisters,
Volume 5 dan ook bekend gestel wat al die vanne wat met L en M begin in saamgevat is.
Die Bond wil egter hier sy terleurstelling uitspreek dat die Outeur van ,, Die Myburghs van S.A. " mnr P.A.Myburgh en sy hele familie tak nie in die geslagsregister verskyn nie, terwyl die inligting van die van Myburgh grootliks uit die Bron geneem is. Die Voorsitter sal hierdie saak met die Direkteur van GISA opneem en aan die Raad terug rapporteer. Daar sal ook ander aspekte oor die opstel van die Suid Afrikaansegeslagsregister met GISA opgeneem word.
Ek is tans nog besig met onderhandelinge met die Staatsheraldikus oor die ontwerp van die Bondswapen. Op die oomblik het daar ‘n vraag ontstaan oor die krans van die huis van Oranje wat op die wapen verskyn. Want volgens inligting van die Kantoor was wapens met die krans van die Huis van Oranje net deur die Staat aan adelike families toegeken. Volgens die boek ,, De Geskiedenis van het Geslacht Mijburgh, oudtyds Mijburgh van der Vos " deur die Nederlandse Genealoog M.R.H. Calmeyer kwoteer ek as volg:
Aan deze streek ontleende ook het adelyk Geslacht van der Mye ( Von Mijburgh), dat in de 13e en met 16e eeuw in Zuid-Holland en Uitrecht bloeide, en waarvan de stamhoewe nog steeds niet ver van Bodegraven aan de Mye riviertje in wezen is, zyn naam.
Uit laatst bedoelde streek stamt het talryke Kaapse geslacht, Meyburgh ( Myburgh), dat aanvangt met Jan Lambert Myburgh van Leiderdorp sic burger te Kaapstad en aldaar 9 Nov 1687 gehuwd met Anna Maria de Laar van Amsterdam.
Onderhandelinge is nog steeds aan die gang en sodra ons meer nuus het rapporteer ons weer aan u.
Kennisgewings is reeds uitgestuur aan alle tersiêre inrigtings vir die studiebeurs vir volgende jaar en daar was alreeds twee navraë vanaf Stellenbosch en Potchefstroom.
Na beraadslaging met ons rekenmeester, Mnr Jeff Myburgh het ons besluit om die beurs se waarde vir volgende jaar op R6000 te stel. Weens die lae rentekoerse wat tans heers was hierdie besluit geneem en indien die rentekoerse in die toekoms styg sal ons die besluit in heroorweging neem. Lede wat nie tevrede is met die besluit nie moet die Kantoor onverwyld skakel.
Die volgende persone het in die afgelope maande aansoek gedoen om lidmaatskap.
Brig Mossie Myburg, Pretoria ( Transvaalse Streeksverteenwoordiger )
Mnr Petrus Philippus Myburg, Pretoria.
Mnr Douw Myburgh, Helderkruin,1724.
Hennie Myburgh van Rawsonville het met die kantoor kontak gemaak en ook baie behulpsaam gewees met addisionele inligting oor hulle familietak.
Elmarie Myburgh sowel as Oppel Myburgh van Stellenbosch doen navraag oor die studiebeurs, en ‘n voorstel word gedoen dat ons volgende jaar al die Myburghstudente op die Stellenbosch by ‘n klein byeenkoms sal toespreek.
Jacobus Hendrik (De Villiers ) Myburgh van die Wes Transvaal doen aansoek oor die Bond asook die studiebeurs. Jacobus se moeder was ‘n Myburgh maar weens verwerping van die De Villierstak het hy sy Oupa Jacobus Myburgh se van aangeneem. Verskeie ander persone het ook inligting gevra oor familiebande met die Myburghfamilie.
6. Afrikaanse Genealogiese Forum op Internet.
Sedert Junie 99 was die Bond ook een van die stigters van die eerste Afrikaanse Genealogiese Forum, asook Afrikaanse Kultuurforum op die Internet, en het afrikaanse genealogiese navorsers van dwars oor die land, sowel as van oorsee aangesluit. Die forums gaan elke dag nog steeds van krag tot krag en speel ‘n baie belangrike rol in die globale genealogiese veld, sowel as die bewaring van ons kultuurerfenis vir die nageslag.
Genealogiese inligting word op gereelde basis uitgeruil en hierdie inligting is van onskatbare waarde by die familienavorsing van indiwiduele navorsers.
Die Bond is ook intens betrokke by die Kultuurforum waar ons medestryders is vir die handhawing en voortbestaan van Afrikaans, en ook betrokke is by die die honderdjarige herdenking van die Anglo Boereoorlog.
Dit is glad nie ongewoon dat die Bondskantoor daagliks tussen 20 en 30 navraë of briewe ontvang nie, en tussen 10 en 15 van die briewe moet antwoord.
7. Die Philippus Cornelis Familietaksaamtrek - 25 September 1999
Ek het op die 25ste September 1999 ‘n familiesaamtrek by die Brumameer in Johhannesburg toegespreek. Daar was so +- vyf en twintig lede teenwoordig plus die verteenwoordiger van die Transvaalstreek en sy gade, die Voorsitter , twee lede van die Joostenberg tak, Paarl, en tien lede van die Frederick Jacobus tak van Lemoenfontein, Dordrecht.
Ek kon met groot sukses die boodskap van die Bond aan die lede oordra, te danke aan die hoogs proffesionele ondersteuning van ‘n skyfievertoning soos deur een van ons Bondslede, Mej Henrietta (Cassi) Myburg, van die Universiteit van Pretoria vir die geleentheid voorberei. Cassi het baie ure op die projek spandeer en in die proses die Bond baie koste gespaar. Cassi , is ons 1999 studiebeursstudent en namens die Bond wil ons haar bedank vir al haar hulp met die projek. Hierdie skyfiereeks kan weer by ander familiesaamtrekke ook gebruik word. Ons dank ook aan Brig. Mossie Myburg en sy gade vir hulle hulp met die akkommodasie en vervoer van die voorsitter na Johannesburg vir die saamtrek. Baie dankie ook aan Mike Myburgh, Natal verteenwoordiger, en ons jongste bondslid Douw Myburgh van Helderkruin vir al die reëlings wat julle getref het om die dag moontlik te maak.
Die broer van die voormalige voorsitter van die Bond, Oom Robert Ian Douglas M. Myburgh was ook teenwoordig en het ook in sy toespraak die klem geplaas op die belangrikheid van dié vrou binne die genealogiese opset in die familie. ( Die vroulike geslag het hom hartlik toegejuig vir sy siening ) Ons dank ook aan sy seun Ian Myburgh wat vanaf Vanderbijlpark spesiaal gereis het na Pretoria, om sy vader na die saamtrek in Johannesburg te bring.
By hierdie geleentheid is daar ook twee erelidmaatskapsertifikate aan twee lede van die Lemoenfonteintak oorhandig. Oom Jacobus Frederick Myburg (85) en tannie Martha Wheeler ( Myburg ) 82. Albei die twee ou lede van die familie het met groot moeite gesorg dat hulle persoonlik hulle sertifikate kom ontvang. Ons dank ook aan hulle kinders wat so pragtig gehelp het, met hulle vervoer na Bruma. Die oorhandiging is deur die Transvaalse verteenwoordiger, Brig. Mossie Myburg gedoen.
‘n Baie geslaagde wynproesessie, geborg deur ons familiekelders , De Meye Wyne, van Jan en Philip Myburgh, is voor die middagete aangebied, en al die wyne wat te koop aangebied was, is verkoop en as ons meer kiste beskikbaar gehad het, sou die lede dit ook gekoop het. Ons dank ook aan De Meye Wyne, vir hulle aandeel om die hele geleentheid ‘n sukses te maak. Ek heg ook ‘n paar fotos aan.
8. Familieregisters en Brothers Keepers genealogiese program
Ons was reeds vêr gevorder met die invoer van die Familiename op die komper toe ek tot my ontsteltenis moes uitvind dat die program wat ons van Port Elizabeth gekry het, glad nie versoenbaar is met enige ander genealogiese programme in die land nie. Ek kan geen inligting van ander genealogiese navorsers ontvang of aflaai nie. Met ander woorde ek bevind my op ‘n geisoleerde genealogiese eiland of soos in ‘n doodloopstraat. Ek het toe dadelik een van die heel modernste programme aangeskaf en met hulp van Danie Viljoen van Pretoria, die Afrikaanse weergawe geinstalleer. Die program is baie gebruikersvriendelik veral met die hantering van Afrikaanse vanne. Maar hoe goed dit ook al werk dit beteken ek moet al die Myburghs, sedert 1665 tot op hede weer invoer.
Ek moet ook elke Myburgh lewend sowel as die reeds gesterf oor laat trou, en die gestorwenes se dood weer aanteken en invoer. Ek kan ook glad nie die data van die vorige program oorlaai nie. So die hele geslagsregister moet weereens ingevoer word, en so ook al die ontkoppeldes wat nog nie geprogrammeer is nie. Op die oomblik is daar ses familietakke wat ek geindentifiseer het, wat glad nie aangeteken is nie.
Dan is daar in elkeen van die takke wat reeds in die boek is, geskat, ongeveer 100 nuut gebore lede wat nog nie aangeteken is nie, en dit kan selfs meer wees.
Ek doen weereens ‘n dringende oproep op my raadslede, streeksverteenwoordigers en bondslede om enige nuwe toevoegings, hetsy deur geboorte of huwelike asseblief vir my aan te stuur.
Ek spandeer minstens vyf ure per dag aan Bondsake, ek vra net ‘n paar uur per jaar van u, sodat ons die familie inligting in twee jaar se tyd volledig kan publiseer.
9. Genealogieseargief op die Internet
Weereens soos in die verlede het ons familiebond met die inisiatief na vore gekom dat daar ‘n Genealogiese Argief op die internet daar gestel moet word. Ons verteenwoordiger in Amerika het met positiewe inligting van oorsese internet argief moontlikhede terug gerapporteer, wat die hele idee by ons plaaslike Genealogiese forum weer opnuut laat opvlam het. Die moontlikheid dat ons binne afsienbare tyd ons eie Suid Afrikaanse Genealogiese Internet Argief kan hê, is nie vêrgesog nie. Finansies is gewoonlik die grootste struikelblok, maar daar was reeds voorstelle dat dit op ‘n ,Betaal soos jy gebruik’ stelsel gedoen word. Ons is ook seker dat daar iewers borge gaan wees wat ons sal kan help, totdat die stelsel op eie finansies kan voortgaan .
Dit sal elke navorser in staat stel om enige inligting in verband met sy familie of die van ‘n ander familie wat aan sy familie koppel vanaf die internet te verkry. (Korrespondensie ingesluit )
Hierdie is ‘n internasionale poging vanuit die Bondskantoor en ek het reeds aan verskeie Universiteite en Instansies plaaslik, sowel as oorsee geskryf oor die saak. Die ,Salt Lake City Church’ het reeds hulle bereidwillig getoon om te help met inligting sowel as finansies. Ons sal later wanneer ons meer inligting het weer aan u rapporteer.
Die Kwartaalblad ,,Familia’’ wat in 1964 op Joostenberg, Historiese familieplaas van P.A.Myburgh die lewe gesien het, is nou ook op Diskette (CD) beskikbaar. Hierdie opgawes bevat enorme hoeveelhede Genealogiese inligting en kultuurgeskiedenis. Lede wat belangstel kan die Voorsitter skakel.
Familiegroete uit die Bondskantoor.
____________________
Freek Myburg
Voorsitter / Genealoog
Laat die erwe van ons Vadere vir ons Kinders erwe bly!!
![]()