Myburghbond van Suid Afrika

Nuusbrief No 4 – Des 2000

Geagte Familiegenote,

Die jaar 2000 is verby en ek hoop dat u almal ‘n geseënde Kersfees gehad het en is my wense aan u almal ‘n voorspoedige, suksesvolle en veilige nuwejaar. Mag die God van 2000 u ook in 2001 met Sy Genade en Liefde omsluit, sodat daar niks op u pad sal kom wat Hy en u nie tesaam sal kan hanteer nie.

Ek rapporteer soos volg aan u:

1.Die Bondsstudiebeurs

Die suksesvolle student van ons studiebeurs vir 2000 was Elmarie Myburgh van die Universiteit van Stellenbosch. Ek rapporteer dan ook aan u dat Elmarie haar studies die jaar met groot sukses voltooi het en volgende jaar haar studies aan die Universiteit van Kaapstad gaan voortsit vir haar Meestersgraad. Ons sê baie geluk aan Elmarie en wens haar alle sukses toe met haar studies in die toekoms.

Ons Beursstudent vir 1999, Henriétta Myburg is tans besig om haar Doktorsgraad in Mikrobiologie aan die Universiteit van Oxford , Engeland te voltooi. Ons wens Henriétta ook alle voorspoed toe met haar studies oorsee. Een aansoek is reeds ontvang vir die 2001 beurs en studente word herinner dat alle aansoeke die kantoor moet bereik voor of op 28 Feb 2001.

2.Aansluiting van nuwe lede sedert die laaste Raadsvergadering in Mei 1999:

18/5/99 Henrietta Myburg, 117 Banbury Road, Oxford, Engeland.( Beursstudent 1999)

12/6/99 Brig. Petrus Philippus (Mossie) Myburg, Posbus 277, Newlands , Pretoria.

12/6/99 Petrus Philippus Myburg, Posbus 277, Newlands , Pretoria .

20/9/99 Douw Gerbrand Myburgh , Quailstraat Wes 867, Helderkruin,1724.

25/9/99 Jacobus Frederick Myburg, 104 Berea Road , Judiths Paarl, Johannesburg.(Erelid)

25/9/99 Martha Wheeler ( Myburg ) (Erelid )

28/4/00 Hendrik Albertus Stephanus Myburgh, Bus 58057, Newville, 2114

14/5/00 Elmarie Myburgh, Posbus 1406, Uitenhage,6229. ( Beurstudent 2000 )

15/6/00 Jan Gabriel Myburgh, Posbus 59360, Karenpark, Pretoria.

15/8/00 Gerhard Wilhelm Myburg , Chalmersstraat 16, Queenstown, 5319.

05/4/00 Magdalena Susanna Patterson ( Meyburgh ), 12117 Sable Court, Richmond,

(Eerste Internasionale Lid ) Virginia, VA 23233, VSA.

03/11/00 Prof. Francois Philippus Myburg, Normandielaan 81, Bloemfontein,9301.

04/12/00 Pieter Abraham Myburgh, Langberg, Victoria Wes, 7070

20/12/00 Frederick Jacobus ( Rikkert ) Myburg , 505 Oak Run Drive, Raleigh, 27607

(2de Internasinale Lid ) Noord Carolina, VSA.

20/12/00 Christiaan Bernard ( Berno) Myburg , 505 Oak Run Drive, Raleigh, 27607

( 3de Internasionale Lid ) Noord Carolina, VSA

30/12/00 Ds Johannes Lodewikus Myburg, Webbstraat 12, Southernwood, Oos Londen.

3. Die volgende familielede en persone het kontak met die Bond gemaak of navraag gedoen:

Genl. Koos Myburgh, Windhoek, Namibia.

Mnr Johan Myburgh , Landbouweekblad, Kaapstad.

Andre Van Rensburg ,Australie.( Familieverbintnis en opsteller van stamouergesk.)

Joe Botha ( Botha / Myburghnavorsing )

Barry Kruger ( Medenavorser na die P.C.Myburghtak en Kruger/Myburghnavorsing )

Prof Barend Venter ( Venter/Myburghnavorsing)

Andrew Kok , navraag oor die stigting van ‘n familiebond.

Basie Haasbroek, Richardsbaai. ( Familieverbintenisse Haasbroek/Myburgh)

Andre Kellerman , Stellenbosch ( Vroëre verbintenis en kennis van Oom Philip Myburgh)

Dalene Oertel , Port Elizabeth. ( onskatbare navorsing verleen op die Myburghs van Lady Grey )

Danie Viljoen , Pretoria ( Raadgewer en hulp met Genealogiese Program )

Eric Swardt ( GGSA Nasionale Begraafplaasprojek )

Jan Schutte , Lichtenburg. ( Lichtenburgmuseum )

Ds Johan en Hetsie Erasmus, Lyseienaar van die Afrikaanse Genealogiese Internet Gespreksforum.

Mineke van Oord, Uitrecht, Holland ( Hulp en raad met reëlings vir ons Stamlandbesoek)

Mnr Peters, Streeksachief , Woerden , Zuid Holland.( Inligting oor Meijburgfamilie Holland )

Pieta en Gerard Meijburg, Ridderkerk, Holland.

Aad en Oom Pleun Meijburg, Holland.

Theunis Myburgh, Texas, VSA.

Philippus Arnoldus Meyburgh , Florida, VSA

Jan Daniel du Toit , Swellendam. ( Du Doit / Myburgh navraag )

Anitra Petersen ( Myburgh ) doen navraag oor graftes van haar Myburghvoorsate in SomersetWes .

4. Die Afrikaanse Genealogiese en Kultuurforums op Internet.

Weereens het die Forums onder die bekwame leiding van die lyseienaar Ds. Johan Erasmus feitlik uit hulle nate gebars. Genealogiese navorsers het van rondom die werêld hierdie jaar aangesluit en is dit onbetwisbaar die belangrikste en grootste Afrikaanse Genealogiese en Kultuur navorsingsforums tans op die Internet. Hier word byna op elke denkbare Afrikaanse familie en ook op baie Engelse families navorsing gedoen, inligting uitgeruil en verskaf medenavorsers wat naby Staatsargiewe , Kerkargiewe en ander bronne van Genealogiese inligting bly, onbaatsugtige diens aan die lede wat vêr verwyder is van die tipe instansies. Ons wil ons grootste dank uitspreek teenoor al hierdie navorsers wat so baie van hulle tyd op offer in argiewe en soms volle dae in begraafplase

deurbring om inligting oor sekere families in te vorder vir hulle medenavorsers. Mag God julle seën in hierdie belangrike werk om, die erwe van ons vaardre vir ons kinders erwe te laat bly.

5.My besoek aan ons Stamvaderland Holland . 16 April 2000

Uiteindelik het die langbeplande en verwagte besoek aan ons land van herkoms op die 16de April 2000 aangebreek toe ons op die Internasionale lughawe van Schiphol geland het. Met ‘n vol gemoed en groot dankbaarheid teenoor die God van ons vaadre, het ons ons eerste verrassing en ondervinding van Hollandse gasvryheid ervaar, toe ons vriende van sovêr as Tiel in Zuid Holland al die myle na Schipollughawe gereis het om ons sesuur die oggend met ‘n koppie warm koffie te verwelkom. ‘n Oomblik wat ek seker nooit in my lewe sal vergeet nie, want ons sou hulle eers vier dae later ontmoet het in hulle tuisdorp Tiel. Nel en Jaap Veldhuÿsen het ons van daardie oomblik onder hulle sorg geneem , al ons hotelbesprekings gedoen en ingangskaartjies gereël by Keukenhof se Tulpeskou en ander besienswaardighede en ons nog op kanaalboottoer deur Amsterdam geneem.

Maandag 17 April

Die volgende dag het ons toe op eie stoom per trein en bus Keukenhof se tulpeuitstallings besoek , die geskiedkundige stad Leiden en toe na die stad Den Haag .Dinsdag 18 April - Die volgende dag het ons ‘n besoek aan die Centraal Bureau voor Genealogie gebring en sou ek graag meer tyd daar aan navorsing wou bestee het, maar ons vol program het ons dit nie toegelaat nie. Ek moet sê die inligting wat hulle my verskaf het , het ek reeds gehad en selfs meer. Van Den Haag is ons met ‘n groot haas op ‘n vinnige besoek aan die stad Delft om na die blou porselein ware te kyk en voetseer en moeg het ons die middag twee uur die sneltrein na Zuid Holland gehaal vir die Meijburgfamiliesaamtrek die aand in Ijsselstein.

Die Mejiepolder en de Meijerivier

Weereens was ons verras deur die warm verwelkoming deur die Meijburgfamilie op Woerdenstasie. Ons gasvrou en heer vandaar was Anneke en Aad Meijburg wat ons na die hoogtepunt van ons hele besoek sou vergesel. Die besoek aan die Meijepolder en die de Meijerivier waar ons voorouers gewoon en gewerk het. Die oomblik toe ek uit die motor my voete op die grond langs die de Meijerivier sit , het my gemoed so vol geword en het dit vir my gevoel ek betreë heilige grond. Die oomblik was te groot om te kon glo ek was daar en het ek so gewens dat ek dié groot oomblik, wat ek so lank na gehunker het, met my mede familiegenote hier in Suid Afrika kon deel. Hier waar die wortels van my familie diep in die aarde van die Meijepolder vasgevang is. Dit is ‘n plat landskap met die tipiese Hollandse plaashuisies al langs die rivier af tot waar dit uitmondt in de oude Rynrivier by Zwammerdam. Ons kon ongelukkig nie die gemeenskapskerkie en begraafplaas besoek nie want ons het nie tyd gehad vir vooraf reëlings nie. Dit was ‘n groot jammerte maar hopelik met ‘n volgende besoek.

Ek sluit ‘n foto van die besoek aan die De Meijerivier en die familiebyeenkoms in Ijsselstein in.

Die Familiebyeenkoms te Jan van Goyenlaan , Ijsselstein.

Na lang dag van voetseer geloop, sneltrein gery, en die groot oomblik in die de Meijepolder het ek gedink die dag sal nou rustiger verloop. Ons het nog nie eers ons koffers na ons kamers geneem en kans gekry om ons hare te kam nie, toe die eerste gesinne Meijburgs al begin arriveer. Van heinde en vêr het hulle gekom, van Rotterdam en Ridderkerk in die suide tot so vêr as Friesland in die Noorde. Die son gaan eers 9.30 daardie tyd van die jaar onder en die familie het in twee groepe gekom, maar tussen 8.00 en 10.00 was almal daar en kon ek die groete van die Myburghs van Suid Afrika oordra in ‘n kort toespraak en het ook Cees Meijburg, die familie se Genealoog in Holland ook dieselfde doen. By hierdie geleentheid het hy dan ook aan ons die voledige navorsingsstukke van die Genealoog M.H.R Calmeyer oor die Meiburghs van Holland oorhandig.

Dank u wel aan Cornelis ( Cees ) Meijburg voor je moeite met de inlichtung van M.H.R. Calmeyer.

Hy het my ook van ‘n voledige kwartierstaat van die nasate van:

Bartholomeus Joosten Meijburgh van der Vos * ca. 1550 van Maassluis en Ydetgen Ariënsdochter getroud in de gereformeerde kerk, Maassluis, oorhandig.

Dit was ‘n groot geskiedkundige oomblik vir beide families, want dit is die eerste maal in 335 jaar dat daar ‘n amptelike byeenkoms gereël is, waar die nasate van Lambert Lambertz Meijburg wat in 1665 naar de Kaap verhuis het, weer herontmoet met die Meijburgs wat daar in die stamland agter gebleven het. Ons het dan ook die geleentheid op ‘n paslike wyse beklink deur die vier bottels De Meije Wyne en die twee van Meerlust, wat ek met groot moeite en met gewaagdheid in my rugsak deur die doeane op Jan Smuts en Schiphollughawens gesmokkel het, nek om te draai. Na nog ‘n uur was daar nie meer Hollanders of Afrikaners by daardie byeenkoms nie, en het almal net een taal gepraat. ( Ek sou wat wou gee om net ‘n bandopname van die gekuier daarna te kon opneem ) Daar was tot in die vroeë ure van die volgende dag familie uitgelê en staaltjies vertel. Moeg, voetseer, en lyfseer het ek die hollandse wenteltrap teen tweeuur na die solderkamers bestyg, ‘n warm stort geneem en salig sommer bo op die komberse aan die slaap geraak om eers die volgende oggend negeuur wakker te skrik toe ons gasvrou vir ons oggendkoffie bring.

 Ons besoek aan Holland en die familiebyeenkoms het ‘n genealogiese ontploffing in die geledere van die Meijburgs van Holland veroorsaak. So by so dat hulle alweer op die 16de September ‘n groot familiebyeenkoms te Ridderkerk gereël het, waar ek as gasspreker sou optree. Weens omstandighede so kort op my vorige besoek het ek maar my toespraak per E-Pos gestuur en het my eweknie Cornelis Meijburg (Cees) dit aan die lede voorgelees. Die behoefte vir die stigting van ‘n Nederlandse Meijburgbond was deur baie van die lede tydens ons besoek genoem en is ons tans besig met onderhandelinge oor die stigting van so ‘n Bond met ‘n oorkoepelende Raad wat sal bestaan uit lede van albei Bonde se rade om so ‘n koordineerende funksie tussen die twee bonde te bewerkstellig. Hierdie saak sal op die volgende Raadsvergadering op die agenda wees.

19 April : Ons gasheer Aad Meijburg het ons op ‘n baie interresante (stap) toer deur Ijsselstein geneem, waar ek dan ook tergedagtenis aan my besoek vir my by die klompevervaardigers ‘n paar Hollandse houtklompe moes koop. Ek het nooit kon droom dat ek met die goed sal kan loop nie , loop heel gemaklik , maar is beslis bedoel vir die nat, sagte grondoppervlaktes van Holland. Daarna het Aad ons al die pad na die stad Tiel geneem, met sy gasaangedrewe motor, om weer aan te sluit by Nel en Jaap Veldhuÿsen. As ons gedink het nou gaan bietjie kans kry om skuins te lê het ons weereens die Hollanders se goedheid en gasvryheid totaal onderskat.

Skaars het ons middagete genuttig of Jaap kondig aan dat hulle ons Noord Holland na Friesland toe gaan neem en dan oor die groot Afsluitdyk wat oor die Ijsselmeer gebou is. Ons het Tiel teen twee uur verlaat weer verby Ijsselstein, Uitrecht, verby Hilversum en Almere-Stad, deur Lelystad en ‘n vinnige besoek aan die skilderagtige visserhawe Urk, oor Emmeloord, Lemmer tot op ‘n groot melkplaas naby Heerenveen. Hier het ons ‘n familielid se melkery besoek en toe ek my kom kry toe moet ek help koeie melk ( 200 met ‘n tien punt melkmasjien en die boer melk hulle stoksiel alleen. Blykbaar is dit ‘n instelling in Friesland dat jy help met die melkery as jy ‘n besoeker is, gelukkig is ek gewoond daaraan en die koeie hanteer en reageer om die roep van hulle name. Na die melkery gewas is, moes ek ook nog saam op die luukse vierwieltrekker om die stalmis in die lande te gaan insny. In Holland mag geen stalafval of enige afvalstowwe gestort of gestoor word nie, nie eers tot die volgende dag nie.)

Vandaar is ons oor Sneek en Bolsward oor die 36 myl lange afsluitdyk , terug oor Hoorn, Purmerend, weer verby Amsterdam, Uitrecht om baie moeg die volgende oggend eenuur weer in Tiel binne te ry. (‘n Sirkelrit van oor die 350 myl in ‘n middag en aand is ‘n lang afstand in Hollandse terme ) 20 April : Die volgende dag het ons ‘n goeie insig gekry in die gemeenskapslewe van Holland en wat ons veral op geval het, was hoe dat die mense omsien na hulle oues van dae. Almal kry pensioen op ‘n sekere ouderdom , maar na jou aftrede help jy volgens jou vorige opleiding of amp om sekere gemeenskapsdienste te verrig. Sommige werk so vier dae per week en andere twee dae per week.

Die aand het hulle ons weer al die pad terug geneem na Schiphollughawe waar ons baie swaar afskeid geneem het van vriende wat ons seker vir die res van ons lewe voor dankbaar sal wees.

Ek wil dan ook van hierdie geleentheid gebruik maak om namens die Myburghs van Suid Afrika ons dank uit te spreek teenoor Hanneke en Aad Meijburg, sowel as Nel en Jaap Veldhuÿsen vir al hul moeite en gasvryheid om ons besoek aan ons stamland ‘n onvergeetlik ervaring te maak. Wat hulle vir ons gedoen het, het hulle ook vir die Myburghs van S.A. gedoen en hoop ek dat met hulle beoogde besoek aan ons land , die Myburghs van S.A. hulle met dieselfde vriendelikheid en gasvryheid sal ontvang.

Sesuur die volgende oggend het ons Holland verlaat op ons reis verder na die VSA.

 6. My besoek aan Richmond, Virginia

Dit was dan ook my voorreg gewees om ‘n lidmaatskapsertifikaat aan ons eerste Internasionale lid, Magdalena Susanna ( Meyburgh ) Patterson te gaan oorhandig. Mandie het ons dan ook op tipies Suid Afrikaanse wyse verwelkom en onthaal. Die oomblik toe ek haar groet, was ek bewus dat hierdie ‘n vrou uit Suid Afrikaanse aarde is en ook die manier waarop sy ons later die aand onthaal het. Mandie is 35 jaar al in die buiteland maar praat haar moedertaal nog glad en wyer om haar wortels en familiebande met haar land op te gee. Mandie is ook ‘n aktiewe lid van die Afrikaanse Genealogiese Forum op Internet. Ons sê ook baie dankie aan Mandie en haar gesin wat ons so tuis laat voel het en haar toegewydheid op die navorsing van die Meyburghtak van haar familie. Mandie se ouers is oorspronklik uit Hofmeyer, in die Oos Kaap.

Ons wil ook baie dankie sê aan ons streeksverteenwoordiger in die VSA. Zander Myburg en sy eggenoot Chrisné wat geen moeite ontsien het, om tenspyte van hulle besige werksprogram, ons op ‘n besoek na Washington DC, ‘n besoek aan die Withuis, Richmond,Virginia en na verskeie ander belangrike besienswaardighede te vergesel. Zander is ook die ontwerper en samesteller van die Bond se Tuisblad op Internet. Ons sê ook baie dankie vir die kosbare tyd wat hy daaraan afstaan.

7. Besoeke en navraag oor begraafplase en GGSA Begraafplaasprojek

Mev Anitra Pietersen van Stellenbosch het in Augustus navraag gedoen oor die restourasie van die graftes van haar voorouers Johannes Albertus Myburgh * 20.03.1828 en sy eggenote Esther Leonora van Breda *18.08.1835 wat in die Somerset Wes begraafplaas begrawe lê. Volgens haar is die grafte in ‘n baie swak toestand en is ook deur vandale beskadig. Ek het Mev Pietersen meegedeel dat die Bond baie bekommerd is oor die toestand van graftes en begraafplase dwars deur die land , maar dat die Bond op hierdie staduim nie oor die fondse beskik om sulke aksies te loods nie. Derhalwe doen ons tog ‘n ernstige beroep op die nasate van die oorledenes in die verskillende familietakke om die nodige ondersteuning te gee vir die herstel van graftes van hulle voorouers. In die geval van Mev Pietersen, waar die begraafplaas moontlik as ‘n nasionale monument verklaar is , sal ek aan die Nasionale Monumente Kommissie sowel as die Munisipaliteit van Somerset Wes ‘n skrywe rig oor die toestand van die begraafplaas. Maar op hierdie tydstip in ons geskiedenis twyfel ek sterk of munisipaliteite hulle enigsins steur aan die toestand van die begraafplase binne hulle gebied.

Graag wil ek dit weer onder familielede se aandag bring dat die Bond bewus is van die houding van die nuwe bedeling, asook die finansiële toestand van sekere Munisipaliteite en dat sommige begraafplase in ‘n swak en vervalle toestand is. Ongelukkig beskik die Bond nie oor die fondse of mannekrag om verskillende families se voorouers se graftes te herstel nie. Ons moet ook erken dat daar wel sommige munisipaliteite is wie se begraafplase nog in ‘n netjiese toestand is. Dit is egter ‘n onomwone feit dat vir die toekoms, die instandhouding en herstel van graftes van voorouers en familielede op die skouers van die betrokke familietak sal rus. Dit is ook ‘n hartseer waarheid dat sommige nasate van afgestorwenes nooit weer die graftes van hulle ouers en voorouers besoek nie. Die Bond doen ‘n ernstige beroep op al die lede van die verskillende Myburghtakke, om tog maar as dit enigsins moontlik is van tyd tot tyd ‘n besoek aan hulle dierbares se graftes te bring, al is dit dan net om te sien of die graftes nog in ‘n goeie toestand is. U is dit aan hulle verskuldig.

Met my besoek aan begraafplase sal ek wel aan die betrokke familietakke, rapporteer oor die graftes van lede van die familie wat daar begrawe lê.

 Die Sterkstroom Begraafplaas

Tydens my besoek , moet ek rapporteer dat die begraafplaas in ‘n baie goeie toestand is. Behalwe vir die baie ou gedeeltes, is die graftes in ‘n goeie toestand en het ek geen stene gesien wat beskadig of omgeval het nie. Die graftes van Myburgfamilielede is almal in ‘n baie goeie toestand. Ons dank aan die plaaslike munisipaliteit daarvoor.

Lemoenfontein familiekerkhof

Die bergraafplaas is in ‘n pynlike netjiese toestand, te danke aan die toesig van die eienaar van die plaas, Mnr Andre Myburg en die gereelde geldlike bydraes van Mnr Hendrik Myburg van Pretoria, vir die instandhouding van die begraafplaas. Hier is ‘n sprekende bewys van die uitleef van ons leuse ,

,,Laat die erwe van ons vaadre vir ons kinders erwe bly",

en mag dit vir menige familietak tot aansporing wees om hierdie voorbeeld na te volg , of dit nou graftes binne munisipale begraafplase is of selfs enkel graftes iewers in die veld. Die Bond dra dan ook sy dank namens die Lemoenfonteintak van die Myburgs oor aan Mnre Andre en Hendrik Myburg.

Die Suidpark Begraafplaas Bloemfontein

Aangesien hierdie ‘n redelike nuwe bergraafplaas is , is die toestand van die begraafplaas en die stene nog in ‘n goeie toestand. So is ook die enkele graftes van lede van die Myburghfamilie ook nog in ‘n goeie toestand. Daar is ook netjiese teerrybane deur die Munisipaliteit aangebring wat die toeganglikheid van die begraafplaas baie maklik maak.

Cradock Begraafplaas

Weereens een van die groot begraafplase in die Oos Kaap gebied, maar ook in ‘n baie goeie toestand. Die graftes van Myburghlede waaroor ek in my laaste voorsittersverslag gerapporteer het , is ook nog in ‘n baie goeie toestand, alhoewel van die traliewerke baie geroes is. Die begraafplaas is ook baie goed met granietsteenmerkers uitgelê wat dit maklik maak om ‘n betrokke graf te soek. Baie geluk aan Mnr Danie Coetzer, die stadsklerk vir die netjies toestand van die begraafplaas.

Dordrecht Begraafplaas

In hierdie begraafplaas lê baie van Johannes Lodewyk Myburg se afstammelinge begrawe, selfs sommige uit die Anglo Boere Oorlog tydperk. Die graftes van Myburgfamilielede is almal in ‘n goeie toestand en so ook die algemene toestand van die hele kerkhof, behalwe vir die ou gedeelte buite die ringklipmuur. Dit is baie jammer dat die ou gedeeltes in baie gevalle by munisipaliteite verwaarloos word, terwyl daar baie graftes van persone uit ons vorige geskiedenis lê. So is daar ook in die ou begraafplaas graftes wat dringende aandag nodig het, veral die van sandsteen, anders sal daardie erfenis van die Afrikaander vir ewig verlore wees.

 8. Die GGSA Nasionale Begraafplaasprojek.

Die Bond is ook sedert Desember verlede jaar nou betrokke by die GGSA se Nasionale Begraafplaasprojek waar alle begraafplase binne Suid Afrika gekarteer en aangeteken word. Ek is tans besig met onderhandelinge oor die inligting van Aliwal Noord en Burgersdorp. Ek het alreeds sedert verlede jaar ,, stiffies " aan albei die Munisipaliteite gegee, maar weens die plaaslike verkiesings wil dit vir my lyk dat ek weer skrywes aan die instansies sal moet rig.

9. Sterfgevalle van familielede gedurende die afgelope jaar:

Die kennisgewing van afsterwe van Familielede in die verskillende familietakke is vir my van absolute genealogiese belang, vir die op rekord hou van die register. Ek is seker daar is ‘n massiewe klomp inligting van nuwe geboortes, sowel as afsterwes van familielede binne die verskillende familietakke. Vriende ek doen hierdie reuse werk vir die familie stoksielalleen en doen ‘n ernstige beroep op alle lede om asb. vir my die inligting deur te stuur. Help my asb! sonder julle hulp sal ek die familieregister nooit voltooi kry nie. Ek boer nog voltyds, is sekretaris en voorsitter van die Noord Oos kaap Dohnemerinoklub, is intensief betrokke by huidige Afrikaansetaalstryd ter behou van ons moedertaal, nou betrokke by SAGA en die nuwe wapenwette en ook die GGSA se Nasionale Begraafplaasprojek. Ek is ook nog betrokke by die Afrikaanse Genealogiese en Kultuurforums op Internet waar ons maandeliks gemiddel 1000 tot 1200 E-pos boodskappe moet deur gaan en die wat betrekking op Myburghs het te hanteer, by die Bond alleen tussen 60 en 80 E-pos briewe en gewone briewe wat my elke nag tot in die vroeë oggendure neem. Sterk asb my hande en stuur my u inligting van u familietak aan. Ek weet ek kan op u staatmaak.

Die bond kondige met leedwese aan die afsterwe van die volgende lede:

Laat kennisgewings :

Hester Magaretha Myburg ( De Beer ) * 06.06.1916 – 02.11.1996 ( Suid Park Begraafplaas, Btn )

Nicolaas Hendrik Myburg *30.07.1910 – 21.04.1997 ( Suidpark begraafplaas, Bloemfontein )

2000

Skalk Hertzog Myburg * 30.05.1922 – 08.02.2000 ( Cambridge Begraafplaas, Oos Londen)

Robert Mcdonald Myburg *06.01.1913 – 01.02.2000 ( Begraafplaas Sterkstroom )

Martha Wheeler ( Myburg ) * 18.10.1917 – 21.05.2000 (Erelid) Melville, Johannesburg

Jacobus Frederik Myburg * 03.05.1914 – 02.10.2000 (Erelid ) Johannesburg

Francina Johanna Du Plessis (Myburgh) * 01.06.1934 - 23.08.2000 Veras, Pretoria

10. Nuwe geboortes binne Familietakke 1999 - 2000:

Frederick Jacobus Myburg * 26.03.1999 ( Lid ) sv. Zander en Chriné Myburg, Raleigh , VSA.

Martel Nikita Myburgh*17 .12. 1999 dv. Douw en Theuni Myburgh , Helderkruin, Transvaal.

Christiaan Bernard Myburg * 04.11.2000 ( Lid ) sv. Zander en Chriné Myburg, Raleigh , VSA

Uit Noord Holland het ons so pas die boodskap gekry van Cornelis ( Cees ) Meijburg, Workum.

Op 19 december is Frannie, de vrouw van Paul Meijburg, opnieuw van een tweeling bevallen (de tweede tweeling). Het zijn twee meisjes en ze heten Leonie en Suzan Meijburg.

De moeder en kinderen maken het goed.

Ons beste wense ook van die Myburghbond van S.A. aan Corrie en Cees Meijburg.

 11. Myburghbondswapen :

Weens die lae rentekoerse het ek nie die jaar verder met die kantoor van Heraldiek onderhandel nie en sal die saak van die Bondswapen na die jaarlikse finansiële verslag op die raadsvergadering in April/Mei 2001 weer aandag geniet.

12. Myburghgeslagsregisters

Die invoer van die familietakke is +- 50 – 60% reeds op rekord maar baie skakels ontbreek nog. Veral die P.C. Myburghtak se koppeling kon ons nog nie met sukses navors nie, alhoewel ek glo dat ons baie naby die antwoord is, want hierdie tak het baie name en resorteer onder die Johannes Lodewikus afstammelinge.

Die Johannes Lodewikus tak is sovêr die grootste tak wat ek navors en val onder die stamvader Jacobus Meijburg. 90% van die afstammelinge leef en woon, of het geleef in die Oos Kaap en Noord Oos Kaap. Byna elke nuwe lid wat die afgelope ses maande aangesluit het, is afstammelinge van Johannes Lodewikus wat begrawe lê op Ongelukskraal, Burgersdorp, nie vêr van waar ek woon nie ( 35 Km ) Ek het die begraafplaas besoek wat baie vervalle is, maar kon ongelukkig, weens ‘n kwaai Swartwillebeesbul, nie al die graftes mooi afskryf nie. Ek verneem die Swartwillebees is intussen geskiet, so sal ek weer in die nabye toekoms toestemming vra om die begraafplaas te besoek. Ek kon nog nie sy graf opspoor nie maar ek sal geen steen on aangeroerd laat voordat ek dit nie gevind het nie.

Die familietak van Jan Gabriel Myburgh van Pretoria is ook nog ongekoppel maar die tak sal ook in die jaar nagevors word, want dit is ook ‘n redelike groot aantal name. Ek is seker dat ons hier ook met Jan se hulp ‘n deurbraak sal maak.

Ander familietakke het reeds hulle naamlyste ingestuur en is op leêr en sal die jaar nog in geprogrammeer word . ‘n Ander groot tak is die van Johannes Philippus Myburg van Elliot wat ek tans mee besig is. Wat besonders is van die mense van die tak is dat sommige die van spel Meyburg en ander Myburgh, maar te oordeel na die ou grafte wat ek reeds opgeskrywe het kom die speling van Meijburg en Myburg meer algemeen voor. Die rede daarvoor hoop ek om in die volgende maande te ontsyfer. Ek het in Sept 2000 ‘n besoek by een van die oudste inwoners van die tak afgelê, oom ( Rooijan ) Johannes Christoffel Myburgh *25.03.1908 en tant Susanna Magrieta Myburgh ( Van der Walt ) * 29.02.1912 en getroud 06.11.1934. Albei nog gesond en gelukkig na 67 jaar se huwelikslewe. Ek hoop die Here gaan hierdie twee ou mense vir ons nog vir ‘n aantal jare spaar want hulle is vir my ‘n onmisbare skakel met die verlede. Die oom se geheue is so goed dat hy my die name en geboortedatums van sy familie sommer so uit die vuis uit gee en hy was nie ‘n enkele keer verkeerd nie. Hy is ‘n Genealoog se droom! Ek sluit ‘n foto van die paartjie in.

13 Bedankings:

Ek wil graag Prof. Francois Myburg baie dankie sê vir sy intensiewe navorsing op sy tak van die Myburgs, wat ook terloops die Johannes Lodewikus Tak is. Ek glo dat hy in die toekoms met sy diepe belangstelling in die familie vir die Bond ‘n groot aanwins gaan wees.

Uit Victoria Wes het oom Pieter Abraham Myburgh by die Bond aangesluit en stel oom Pieter intens belang in die Bond. Ek is seker dat hy ook daar uit daardie deel vir ons baie Myburghs sal voorstel en oom Pieter het ook alreeds met baie positiewe voorstelle my genader wat ons dan ook by die volgende Raadsvergadering sal bespreek. Hy en sy eggenote gaan binnekort na Bloemfontein verhuis. Ons dank ook aan hom vir sy meelewende belangstelling in die aktiwiteite van die Bond.

Baie dankie ook aan ons streeksverteenwoordiger vir Transvaal, Brig. Mossie Myburg, wat tenspyte van sy besige werksprogram, nog die tyd afgestaan het, om ons met ons vertrek na die buiteland en met ons terugkoms, na Johannesburg Lughawe te kon neem en weer kom haal. Baie dankie Mossie vir die gerustellende wete dat jy daar sou wees met ons vertrek en terugkoms.

Ek bedank ook elke familielid wat my so deur die jaar ondersteun het, en vir u hulp en bystand om die belangrike roeping binne familieverband te volbring. Dank ook aan my Streeksverteenwoordigers, Raadslede en medegenealoë vir hulle getroue hulp en bydraes gedurende die jaar.

En laastens, my dank aan my Hemelse vader dat hy my die Genade en gesonheid geskenk het, Om die belangrike werk namens al my familiegenote in Suid Afrika te kon doen en sodoende :

,,Die erwe van ons Vaadre vir ons erwe te laat bly’’

Dit was my voorreg om u te kon dien!

Ek dank u.

 

 

 

 

__________________________

Freek Myburg

Voorsitter

 Deus mihi munimem

De Heere is mijn Steenrots, mijn Burcht, mijn God op welken ik betrouw, mijn Schild,

en mijn Hoog Vertrek!!

( Psalm 18 : 3 )

  

 

 Terug na Tuisblad / Back to Home Page