Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Die Einde - Vrede van Vereeniging,
31 Mei 1902

Die samesprekings op Vereeniging het op 15 Mei begin met genl Beyers as voorsitter. Afgevaardigdes moes hulle menirrg uitspreek of daar met die stryd voortgegaan moet word in die lig van die heersende omstandighede. Daar was ernstige meningsverskil onder die afgevaardigdes; daar was diegene onder leiding van genl Botha, wat gevoel het dat die stryd nie voortgesit kan word sonder die gevaar van nasionale selfmoord nie.

Daar was ook diegene wat soos genl De Wet gevoel het dat die stryd moes voortgaan en dat die Britse regering uiteindelik gedwing sou wees om vrede te sluit. Almal was dit egter op een punt eens - geen vrede indien die Britse regering nie die onafhanklikheid van die Republieke waarborg nie. Hiervoor was die Britse regering hoegenaamd nie te vinde nie - onvoorwaardelike oorgawe of oorlog tot die einde, was hulle antwoord! Genl De la Rey het nooit onnodig sy mening oor 'n saak gegee nie, maar wanneer hy gepraat het, het almal geluister en sy mening het groot gesag gedra. Hy het ook nooit toegelaat dat sy gevoel met hom op loop sit nie en het altyd 'n saak koel en kalm opgesom. Hy het die vermoëë gehad om 'n ingewikkelde situasie in duidelike taal, kort en bondig te stel.

Sy standpunt het gevolglik groot gewig gedra toe hy o.a. sê:
"Er wordt gezegd: wij moeten vechten tot het bittere einde. De Comdt-Genl heeft gevraagd of dat bittere einde gekomen is. Elkeen moet dat voor zich zelven beslissen. Men moet er aan denken, dat alles, vee, goed, geld, man, vrouw en kind, opgeofferd is. Bij mij lopen vele menschen bijna naakt. Er zijn mannen en vrouwen, die niets meer aan hebben, dân het schoone vel op het naakte lichaam. Is dit niet het bittere einde? Het zijn alleen de vechtende burgers, die van de noodige kleeding voorzien zijn, die zij van de vijand nemen.

"Daarom meen ik dat de tijd nou gekomen is om te onderhandelen met de vijand."

Op 11Mei is met Kitchener en Milner in Pretoria onderhandel oor vrede met gunstiger voorwaardes en hoewel Kitchener baie inskiklik was, wou die aartsvyand van die Boerenasie, Lord Milner, niks weet nie. Op voorstel van Kitchener word besluit dat genls Hertzog en Smuts aan die kant van die Boere en Milner en sir Richard Salomon aan die kant van die Britte, 'n dokument - 'n Akte van Oorgawe - sou opstel vir voorlegging aan die Britse regering en die afgevaardigdes in Vereeniging. Hierdeur kon die verdrag nie die kleur kry van'n eerlose oorgawe waarna Milner en Chamberlain so hard gestrewe het nie.

Die inhoud van die akte is oorgekabel Londen toe en op die 21e is die finale verdrag teruggekabel Pretoria toe. Dit moes onveranderd aanvaar word of afgewys word voor middernag 31 Mei. Die Boereverteenwoordigers het tot die oggend van 31 Mei hiermee geworstel, maar dit was volkome duidelik dat die meerderheid nou ten gunste van vrede is. Uiteindelik is met 54 teen 6 besluit om die vredesvoorwaardes te aanvaar. Dieselfde dag vertrek die lede van die twee regerings na Pretoria waar die vredesverdrag met Groot-Brittanje geteken word.

Dit was die einde van die twee Republieke.

Wapens word neergelê - Terug huis toe

Op Doornkom het De la Rey se kommandos op 6 Junie 1902 bymekaar gekom. Hier het De la Rey op 'n wa geklim en die burgers en offisiere toegespreek en die vredesvoorwaardes aan hulle voorgelees. A!mal het wel gehoor dat dit vrede was, maar daar was baie wat nie geweet het dat die onafhanklikheid ook prysgegee is nie. Kemp skryf:
"Onuitspreeklik bittere droefheid omklem 'n ieder hart. Groue grysaards en baardlose seuns het gesnik en geween toe hulle op versoek van genl De la Rey hul getroue wapens neerlê aan die voete van die koppie."

Slegs offisiere is toegelaat om hul wapens te behou. Talle het hulle yewere stukkend geslaan en die wat nog ammunisie oorgehad het, het die hele nag geskiet om dit op te kry. Die volgende oggend het genl Walter Kitchener met sy transportwaens opgedaag om die wapens van genl De la Rey te ontvang.

Die prys van oorlog

Die Britse regering het aanvanklik beraam dat die oorlog nie meer as £10 miljoen sou kos nie. Dit het uiteindelik £228 miljoen gekos wat selfs vir die ryk magtige Brittanje 'n duur prys was. Die Britse "War Office" het gemeen dat 15 000 soldate die twee Republieke binne drie maande sou oorrompel. Dit het uiteindelik 450 000 man bykans drie jaar geneem. Die Britse verliese was 22 000 man - die Boere ongeveer 6000 burgers. Die grootste en mees tragiese verlies was die 26 251 vrouens en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het.

Uit "Die Geskiedenis van ottosdal kommando" deur P.J. de Jager