Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Die Brandende Vlei

Deur Totie du Preez

Onlangs toe op TV se program 50/50 gewys is van die stukke turf wat met 'n stootgraaf uitgelig word, en dan in vierkantige stukke verkoop, of verwerk, word as vuurmaakgoed, dink ek skielik aan ons eie brandende vlei.

Ek sien in my verbeelding weer die rook wat oral uitslaan. Vandag kan mens jou nie daardie prentjie voorstel as jy uit die dorp ry, deur die vlei, na "Blue Circle Cement" fabriek, of die Koster pad nie.

Lowergroen gras en bome groei waar vroeër net gate, asgate, waar rokies soms uitgekom het, en soms groter wolkdampe te sien was. Dit was turf wat vanaf die jare 1893 of 1894 af en aan onder die grond gebrand het, en die rook na die oppervlakte uitgeborrel het.

Die pragtige Stef Grobler-sentrum kyk uit oor die eerste dam wat in die vlei gebou is om die vure te blus
Soms het dit bedaar, en het ons gedink: "Dit het nou opgehou." Vir 'n jaar of soms net 'n maand of twee was daar geen rook te sien nie, maar dan meteens kom daar weer rook oral uit.

My Oupa het vertel dat in die eerste jare, toe die vlei begin brand het, het die vlamme hoog bo 'n mens se kop uitgetroon. Hulle wat van Manana af dorptoe moes ry, was behoorlik soms benoud. Die vlei wat altyd 'n watermoeras was met allerhande riete en gewasse wat hoog gegroei het, het nou 'n brandende gevaar vir mens en dier geword.

Vandat ek 'n kind was, was die rokende vlei altyd daar. Ons het altyd gewonder hoedat die mense, wat naby die vlei gewoon het, dit kon verdra. Die gedurige halwe rook geur? Seker gewoond geraak. Ook maar gevaarlik gewees om daar naby te kom. Ons was egter so gewoond daaraan dat ons die verbasing van besoekers, oor die verskynsel nie altyd kon begryp nie.

Dan het ons maar verduidelik wat dit veroorsaak het.

Die vlei het uit veen bestaan, wat glo die eerste stadium was in die vorming van steenkool. Veen is die verrrotting van organiese materiaal in moerasagtige plekke. Dit kon mens wel begryp want al die jare was die vlei 'n moerasagtige plek met fluitjiesriet en ander plante wat natuurlik van onder af, jaar na jaar, verrot het, en toe stadig ondergronds begin brand het. Na duisende jare verander veen in steenkool, of eers bruinkool dan steenkool.

Die water wat die moerasse in die vlei veroorsaak het, het opgedroog toe die water, wat van fonteine hoër op is afgekeer is.

Die brande bestaan dus uit 'n onderaardse gasse wat, deur die eeue, aan die brand geslaan het, en die veen later laat brand het. Die brandgate kon maklik meters diep gewees het.

Vir talle inwoners van Lichtenburg was die swart turf goedkoop brandstof. Naby (Burgersdorp) Kieserville was 'n groot gat waaruit die turf in groot stukke uitgesteek is. Dit is op waens gelaai en in agterplase afgegooi. Sodra dit droog genoeg was is dit in klein stukkies gebreek en was dit uitstekende "brandhout" of soort steenkool, want dit het glo gloeiende kole afgegee.

Windseil op een van die damme wat gebou is om die brandende vlei te blus
Die munisipaliteit (soos die stadsraad destyds bekend was) het die turf laat laai en by huise afgelewer teen 10/- (R1) per vrag + 25 sent of 'n halfkroon aan die man wat dit afgelewer het.

Met die "steenkool" kon 'n mens 'n maand, of langer, uitkom met hout ook bygevoeg. Mense vertel dat hulle dit self in die vroeë dertigjare gebruik het.

Enkele persone het in die vlei lelike brandwonde opgedoen terwyl dit gebrand het, en moes in die hospitaal behandeling ontvang. Iemand het aan my vertel dat drie seuntjies 1903 op 'n sandbank in die vlei geloop het, wat ingesak het, en hulle erg verbrand het en dood is. Ook het daar telkens koeie in gate getrap en verbrand. (Die laaste menslike tragedie het in 1965 plaasgevind toe mnr. J.P. Jonker van Pretoria in die brandende vlei beland, en kort daarna aan sy brandwonde oorlede is - red.)

Die stadsraad het talle pogings aangewend om die brande te blus, maar telkens misluk. Die begin van die 70 jare het hulle, op een of ander manier, die brande kon stuit. (Die stadsraad het drie damme in die vleigebied gebou, wat 'n groot deel van die vlei onder water geplaas het, en so grootliks bygedra het tot die blus van die ondergrondse vure in die vlei - red.)

© Copyright: Lichtenburg Museum, 1998, 1999. All rights reserved. Permission to use, copy and distribute documents and related graphics available from this address: museum@lichtenburg.co.za Web Pages designed and compiled by Jan Schutte, Lichtenburg Museum