|
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-mail e-pos |
| Click here for English |
Later het hy as opgeskote seun sy vakleerlingskap in die wamakersbedryf by 'n ene De Vos op Worcester deurloop, maar diep in sy hart het hy gesmag na 'n meer avontuurlike lewe.
Avonture
Op negentienjarige ouderdom trek hy noordwaarts saam met ander gesinne die binneland in, op pad na die jagvelde. 'n Vol Vaalrivier stuit hul tog, maar die vindingryke jong Greeff het gou 'n werkspan saamgestel en begin bou aan die eerste pont oor die Vaalrivier, naby waar Bloemhof vandag geleë is. Na meer as 'n jaar is die pont voltooi, maar die besigheid is goed, want heelwat jaggeselsskappe en ander trekkers maak van sy dienste gebruik.
Hierdie pontlewe het hom gou verveel, en hy verkoop sy "besigheid" vir 500, 'n klein fortuin in daardie dae. Hy skaf vir hom 'n wa en osse aan, en besluit om sy eie jagtog anderkant die Vaalrivier aan te durf.
Die binneland was egter woes en vol verrassings, en na onderonsies met vyandige stamme in die jagvelde, verloor hy al sy besittings om net met sy perd, sy bediende en 50 in sy sak terug te keer Kaapkolonie toe.
Op pad terug na sy familie in Tulbagh en Durbanville, staan hy oor in Hopetown, waar hy Susanna Maria Redelinghuys ontmoet en ds. J.Murray bevestig hulle in 1855 in die huwelik. Hul eersteling (eerste van veertien kinders!), Jacoba Elizabeth, of Nonnie genoem, is in Tulbagh gebore. Nonnie sou jare later die vrou word van die beroemde Boeregeneraal en "Leeu van Wes-Transvaal" Koos de la Rey.
|
|
Sannie en Hendrik Greeff met 5 van hul kinders, 1875 |
|---|
Die avontuurgees het Greeff egter nie gelos nie en hy trek weer noordwaarts met sy gesin oor die Vaalrivier. Met sy aankoms in die omgewing waar Lichtenburg vandag geleë is, vind hy die omgewing aangenaam, en in 1858 betrek hy die plaas Elandsfontein, waarvoor hy die Zuid Afrikaansche Regering (ZAR) 5 sjielings jaargeld moet betaal. In 1860 koop hy 'n aangrensende plaas, Doornfontein, by ene Pieter Peach vir 275.
Doornfontein, 4678 morge groot, was 'n uitsoekplaas met sterk fonteine en 'n pragtige vlei wat dit van 'n ander buurplaas, Kaalplaats, geskei het. Hier was genoeg en goeie bome vir vuurmaakgoed, maar ook uitstekende landbougrond en weiveld.
Al meer plase in die omgewing het ook bewoners gekry, soos die gesinne van Abram Swanepoel, Abram de Villiers, Karel Weyer, Hans de Beer, die Van den Bergs, Krugers, Ludicks, Oosthuizens, Redelinghuyse, Pretoriuse, Steinmans, Sneyderse en Viljoens.
Greeff het hierdie plaas as sy basis gebruik, geboer in die somer, gaan jag in die winter. Tydens die jagtogte het sy vrou Sannie volstruisvere bymekaar gemaak. By tuiskoms het sy dan die vere gewas en gepluim, en verkoop. Met die geld wat sy so bymekaar gemaak het, het sy die aangrensende plaas Kaalplaats gekoop.
Die Gebedsverhoring
Op pad huis toe van 'n jagtog in 1862 uit die rigting van die Marico, het hulle die pad effens byster geraak. Dit was 'n baie droë jaar, en hul water het opgeraak. Greeff het die gebied nog nie goed geken nie, en kon nie water kry nie. Die kinders (toe al vier) het al aan't huile gegaan, oor die dors wat hulle nie verstaan nie. Greeff het uitgespan, en die veld ingeloop met die hoop om tog 'n pannetjie of iets te vind. Hy sien 'n klompie bome in 'n holtetjie staan, en besluit om daar op sy knieë te gaan en die Hoër Hand vir uitkoms te vra.
In sy gebed beloof Greeff dat as hy water kry, hy op sy vyftigste verjaardag sal terugkom na dieselfde plek om sy dank te kom betuig. Hy hoor toe 'n stem:"Kyk in daardie boom. Daar is water", maar dink dit is sinsbedrog en wil aanstap. Weer hoor hy die stem:"Kyk in daardie boom. Daar is water".
Hy kyk na die bome in die holtetjie en sien 'n groot ou witstinkhoutboom tussen die ander staan en stap nader. So op borshoogte vurk die stam in twee, en - ongelooflik - in die holte wat daar gevorm het, is heerlike koel water, genoeg vir hul onmiddelike behoefte! Sy gebed is verhoor!
- Sestien jaar later keer Greeff en sy hele familie terug na hierdie plek vir 'n dankdiens, 'n tradisie wat vandag nog vasstaan. Talle van Greeff se nasate kom steeds op hul vyftigste verjaardag hier 'n dankgeleentheid hou. Op hierdie plek, sodat 10km noord van Lichtenburg op die Manana-pad, is die Greeff-monument opgerig. -
Na hierdie ervaring het Greeff hom nou meer gevestig op die boerdery, en al minder gaan jag.
Ons wil 'n Dorp hê
Potchefstroom was die naaste handelsentrum, en sowat 150 km of "14 uur rijdens te paard" vêr. 'n Boefte vir dorp met eie kerk en winkels het al sterker geword, en Greeff en die boere in die omgewing het Doornfontein met sy baie water en genoeg vuurmaakgoed en boumateriaal as aangewese plek gesien.
Erwe is begin uitmeet en 'n leivoor is aangelê uit die fontein vir "natte erven" en die eerste intrekkers het begin inbeweeg. In 1865 is die eerste aansoek om dorpstigting aan die Volksraad gerig, onderteken deur 132 manspersone in die gebied, en het hulle sommer ook 'n aantal dorpsregulasies begin saamstel. Greeff wou die dorp Lichtenburg doop, 'n naam wat hy van sy geboorte saamgedra het, en omdat hy wou hê dit moet 'n dorp wees wat sy lig sou laat skyn oor hierdie gebied, nie net wat gasvryheid en voorspoed betref nie, maar ook op geestelikie gebied.
In 1868 verskyn die naam "Lichtenberg" ('n fout wat vandag nog gemaak word) reeds op die amptelike kaart van die ZAR, maar geen reaksie is al van die Volksraad verkry nie. Weer kom die manne bymekaar om oor dorpsregulasies te praat en weer 'n beroep op spoedige proklamasie van die Volksraad te verkry. Die bekende Voortrekkergeleerde, J.G.Bantjes, het hom toe ook reeds op Lichtenburg gevestig, en onderteken dan ook die regulasies as getuie.
Eindelik proklamering
Eindelik is Lichtenburg toe in die middel van die winter, op 25 Julie, in 1873, amptelik as dorp geproklameer deur Pres. T.F.Burgers.
Van toe tot nou het daar baie interessante dinge gebeur, soos Greeff se skoonseun, Jacobus Herculaas de la Rey, wat hom hier kom vestig het, die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie, die ongelooflike ryk diamantdelwerye wat die wêreldmark op die rand van ineenstorting gehad het, die voorspoed op landbougebied, die brandende vlei... Dit alles het meegewerk om Kommandant Hendrik Adriaan Greeff (1828-1884) se drome en ideale vir Lichtenburg te laat realiseer om vandag steeds 'n pragtige, groeiende dorp te wees wat sy lig laat skyn oor hierdie gebied - werklik 'n trots vir Noordwes!
Kom vat 'n slukkie van ons water...en jy sal ons nooit vergeet nie.
(Bron: Lichtenburg 1865-1985 van A.D.Bosman)