Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

NICOLAAS PIETER JOHANNES VAN RENSBURG (1862 - 1926)

Die Boereprofeet

Gedurende die eerste vyf-en-twintig jaar van hierdie eeu, was daar sekerlik niemand meer beroemd nie as oom Niklaas van Rensburg, die alom beminde profeet.

Hierdie eenvoudige Boer-pionier het die bonatuurlike gawe besit om in die toekoms te kon sien - die nabye en die verre toekoms - in die vorm van visioene. Hy kon sommige visioene korrek uitlê, maar ander kon hy nie verklaar nie.

As gevolg van hierdie God-gegewe gawe het familielede, kennisse en vreemdelinge, selfs van ver plekke af, hom besoek met die verwagting dat hy hulle met hul probleme sou kon help. Hy het hulle altyd nederig en beskeie vriendelikheid ontvang en hul tevrede laat vertrek.

Hy is op die plaas Rietkuil naby Ottosdal gebore (toe nog die plaas Korannafontein) op 30 Augustus 1862. Daar het hy opgegroei saam met sy broers en susters. Van kleintyd af was hy pretensieloos en het aandagtig geluister na stories uit die Bybel wat sy moeder vir hom gelees het. Sy het hoë verwagtinge van hom geskoester omdat sy kennis van die Bybel verbasend goed was.

Siener Nikolaas van Rensburg
As skaapwagter het hy selfs sy Bybel saamgeneem veld toe en daar homself verdiep in die geskiedenis van die ou Bybelse figure en profete.

Reeds op ‘n jong ouderdom het hy profetiese gawes geopenbaar en veral sy moeder verras.

Op die ouderdom van sestien moes hy deelneem aan ‘n strafekspedisie teen ‘n swart kaptein, Mapog. Hy het malaria opgedoen en het ‘n noue ontkoming aan die dood gehad.

As gevolg van sy buitengewone kennis van die Bybel, is hy op die ouderdom van 21 as ouderling van die NG Gemeente Wolmaransstad aangewys (1883). Kort hierna is hy getroud met Annie Coetzee (1884).

Na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 is hy en sy broer opgekommandeer onder Genl. Du Toit.

Reeds vroeg, in die eerste dae van die oorlog, het Niklaas ‘n visioen gehad waarin hy brandende Boere-wonings en vroue en kinders wat vermoor word, gesien het. Daardie helse nag was hy in ‘n innerlike konflik gewikkel en keer terug na sy plaas Rietkuil om tot verhaal te kom.

Na hierdie episode het die vreemde visioene meer geword, en sy waarskuwings aan die Boerekommandos teen die vyand en ander visioene is keer op keer letterlik bewaarheid. Sy mede-burgers was oortuig dat hy in die toekoms kon sien en het van hom begin praat as "Siener van Rensburg", of "Die Siener" en van "Die Profeet".

Die burgers het geglo dat God aan hulle ‘n profeet gegee het om hulle in hul stryd teen die vyand by te staan.

Hy het nie by een kommando gebly nie, maar het van een plek na die ander met sy gesin getrek, en was ooral welkom.

Gen. Koos de la Rey het ook met hierdie buitengewone man kennis gemaak, en het hom ook as siener en profeet vir die Boerevolk aanvaar. Hy was nooit gevang nie en het die hele oorlog deurgemaak.

Reeds in 1911 het hy aangevoel dat daar ‘n Wêreldoorlog aan die kom is, en het hy eerste dit aan Kommandant Lucas Steenkamp in Lichtenburg meegedeel. Hy het ook die Rebellie van 1914 voorspel, asook die griepepidemie van 1918. Gedurende die Rebellie het hy gen.Jan Kemp vergesel, en ook dikwels as raadgewer opgetree en altyd ‘n veilige deurroete aan die rebellekommando uitgewys. Hy het ook die einde van die rebellekommando voorsien, asook talle kleiner gebeurtenisse wat net so waar geword het.

Hy het ook die dood van Gen.Koos de la Rey voorspel. Hy het persoonlik na Lichtenburg gereis om die ou generaal te kom besoek en te waarsku. In hierdie visioen het hy onder meer die nommer "15", die generaal sonder sy hoed, baie blomme, ‘n lamferdoek oor Lichtenburg, ‘n groot skare mense, en vlae wat halfmas hang, gesien (De la Rey, Lion of the West - J. Meintjies bl.320 - 324).

Hy het visioene van groot gebeurtenisse in Lichtenburg gesien waar rooi stowwe oprys (delwerye), diamante wat sy seuns uitgehaal het, die oorwinning van die Nasionale Party in 1924, die depressie van 1930-32, die simboliese Ossewatrek, en dosyne ander visioene van gebeurtenisse in die toekooms wat hy nie kon verklaar nie.

Hoe ouer hy geword het, hoe eensamer was hy. Baie van sy latere visioene (1916-1926) is deur sy dogter Anna Badenhorst opgeskryf - twee oefeningboeke vol. (Dié visioene word in die Lichtenburg Museum bewaar, en is as bronnepublikasie beskikbaar)

Nicolaas Pieter Johannes van Rensburg is op 11 Maart 1926 oorlede, op die ouderdom van 64 jaar.

Literatuur:

  • Profeet en Krygsman - S. Botha
  • De la Rey, Lion of the West - J. Meintjies