Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Die Slag van Roodewal, 11 April 1902

Die voorspel tot Roodewal

Na die tweede dryfjag teen De la Rey en die Slag van Boschbult, was die Britse opperbevel beslis nie gelukkig met die toestand in Wes-Transvaal nie. Die strategie om die beweeglike Boeremag vas te trek, het misluk nieteenstaande duisende troepe wat in die veld gestoot is. Kitchener het besluit dat Hamilton nou te velde sou gaan ten einde alle maneuvers te koördineer en te beheer.

Op 1 April 1902 het It-genl Sir Ian Hamilton op Klerksdorp aangekom en onmiddellik na Kekewich op Middelbult vertrek wat hy as hoofkwartier sou gebruik. Op die 8e kom hy daar aan en stel al die bevelvoerders van sy planne in kennis wat reeds op die 9e sou ontplooi. Hamilton se plan was
"... to sweep around to the south and east in a semicircle of 140 miles, by the Great Hart's River and the Vaal, and so to Klerksdorp."

Die hele operasie moes binne vier dae afgehandel wees omdat daar slegs voorrade vir so lank saam geneem kan word en net genoeg was vir een groot maneuver.
"The first day was devoted to preliminary movements. At the end of the second day the troops were to take up an intrenched line on the Brak Spruit, with the right touching the Great Hart's. On the third day they were to march due south for forty miles; and on the fourth to swing round to the east, till the right touched the Vaal, and then drive to Klerksdorp."

Die Britse offisier wat bestem was om die grootste spit in hierdie operasie af te byt, was kol Kekewich wie se afdeling die regterflank van die linie moes vorm; Rawlinson in die middel en Kitchener links. Rockfort langs die Vaal, sou stil lê. Ten einde die linie in posisie te bring, het Kekewich op 9 April na Noodshulp beweeg en Rawlinson na Driekuil waar hy by Kitchener aangesluit het. Op die 10e het hierdie massiewe oorlogsmasjien in posisie begin beweeg vir een van die grootste vee-operasies in Afrika. Dit sou begin vorm op die suidelike front van Brakspruit en verder na die ooste. As gevolg van 'n boodskap wat nie by Kekewich uit kom nie, het hy die verkeerde rigting ingeslaan.

Plaas van op die mees westelike punt van Brakspruit uit te kom met sy regterflank by Hartsrivier, bevind hy hom teen die middag op Boschpan, 16 km te ver oos en agter Rawlinson, i.p.v. in lyn met hom. Rawlinson se linie het gestrek vanaf Oshoek oor Boschpan tot op Doornpan. Oos het W. Kitchener se linkerflank gestrek tot op Klipdrift. Ofskoon dit te laat was om die fout te herstel, het Kekewich laat in die middag sy hele linie weswaarts verskuif sodat sy regterflank teen donker op die oosteiike deel van die plaas Roodewal, 5 km van Hartsrivier, was. Sy linkerflank was nou in kontak met Rawlinson se regterflank op Oshoek. Nadat die soldate begin het om hulle in te graaf vir die nag het 'n kommando skielik op die linkerflank reg teenoor W. Kitchener verskyn en 'n skyn-aanval geloods. Toe die son ondergaan op 10 April 1902 het nie Boer of Brit besef dat dit die vooraand van die laaste groot slag van die oorlog in Suid-Afrika was nie.

Toe die eerste Boere-afgevaardigdes op Klerksdorp op 1 April begin aankom vir die beoogde vredesamesprekinge tussen die Transvaalse en Vrystaatse regerings, het Hamilton dieselfde dag van die trein geklim en haastig per spaaider na Middelbult, 100 km daarvandaan vertrek. Dit was vir die Engelse belangrik met die oog op moontlike vredesamesprekinge dat die belangrikste simbool van weerstand, De la Rey se mag, in Wes-Transvaal gebreek moet wees.

De la Rey het die 9e op Klerksdorp aangekom as verteenwoordiger van die Z.A.R.-regering en in sy afwesigheid van die front genl Kemp aangestel as bevelvoerder van die Westelike Boeremag. Die grootste deel van die kommandos, met 'n totale sterkte van ongeveer 2 500 man, was op hierdie stadium op Goedgevonden aan die suidelike kant van Roodewal. Die res van die Boeremag was op Bossielaagte, Brodericksvlei en Simonsvlei, nader aan Hamilton se linkerflank wat op Klipdrift was.

Die Boereverkenners het Kemp op hoogte gehou van die naderende kolonnes in 'n aaneengeslote linie en hy het onder geen illusie verkeer van wat aan die kom is nie.

Kemp se kommandos op die vooraand van Roodewal; was onder bevel van genls Liebenberg (Potchefstroom en Wolmaransstad), Celliers (Lichtenburg en Bloemhof), en kmdt Potgieter (Rustenburg, Pretoria-Wes en Krugersdorp). Potgieter het bevel oorgeneem van Kemp se kommandos nadat hy by De la Rey die hoofbevel oorgeneem het.

Genls L. A. S. Lemmer en Du Toit is met 500 man deur die Brakspruit gestuur om die linkerflank van die linie aan te val sodra die geveg begin. 'n Groot deel van die Marico-kommando was op hierdie stadium onaktief as gevolg van 'n gebrek aan perde. Die krygsraad het Vrydagaand 10 April vergader om finaal te besluit of die Boeremag moet retireer of aanval. Die oormag was duidelik. Kemp, haastig en voortuarend soos altyd het voet by stuk gehou dat hulle die Engelse die volgende oggend moes storm. Daar was ernstige meningsverskil die aand en kmdt Potgieter het vir Kemp gesê hy is dwaas om aan te val. Die Engelse was ingegrawe aan die oewers van die Brakspruit, terwyl die Boere uit die oop vlaktes en mielieland wat vir haas geen muis skuiling bied nie, moes aanval. Kemp het hierop vir Potgieter van lafhartigheid beskuldig. Dit was 'n ernstige beskuldiging teen 'n man wat sulke diep spore in die oorlog getrap het en altyd onverskrokke aan die voorpunt was, soos wat die volgende dag ook weer die geval was.

Genl De la Rey het later na die slag sy ontevredenheid daaroor uitgespreek en oom Niklaas Siener het die aand voor die slag na Kemp gegaan en hom ernstig gewaarsku dat die kommandos betyds moes padgee en nie aanval nie. Kemp het egter onwrikbaar by sy besluit gebly en gemeen dat die Boeremag die Britse linie kon breek en deurkom. Liewer dit, as om soos skape aangejaag te word en oneervol oor te gee, het hy gemeen.

Die Slag van Roodewal, 11 April 1902

Kemp is in sy besluit om aan te val, beïnvloed deur die feit dat volgens sy verkenners, Kekewich se linie nie in posisie was nie. Dit was 'n belangrike swak skakel wat hy kon benut. Derhalwe maak hy sy skynaanval die aand van die 10e op die linkerflank. Kekewich se swak skakel was regs. Hamilton het egter deur hierdie taktiek gesien en opdrag gegee dat Kekewich met sy linie weswaarts skuif om die gaping op die regterflank toe te maak.

Kemp was onbewus van hierdie beweging. Hamilton was feitlik seker dat Kemp op daardie punt sou aanval en het Kekewich ook beveel om die volgende oggend nie in verspreide linie nie, maar in geslote geledere te marsjeer.

Met eerste lig die oggend van 11 April, het die Boere met hulle toe reeds beroemde stormaanval, op die vermeende swak skakel in die Engelse linie begin. Dit was egter spoedig duidelik dat hulle die vyand se mag op daardie flank totaal onderskat het. Hulle beland onder hewige spervuur van die versteekte Kakies en word genadeloos afgemaai. Die burgers op die linkervleuel slaag daarin om deur te dring tot naby die waens, maar in die middel van die Boerelinie word hulle eenvoudig platgevee. Om sake te vererger daag Rawlinson met 'n sterk berede mag op en dryf Liebenberg op die regterflank terug. Kemp gee onmiddellik bevel dat die kommandos moet retireer. Vir die dapper kmdt Potgieter was dit reeds te laat.Hy het gevorder tot 70 treë van die vyand se bajonette voordat hy neergevel word met 'n skoot in die kop.

Genl Hamilton skryf later in sy herinnennge hieroor:

"Potgieter, foremost of the brave; leader of the burghers of Rustenburg, West Pretoria and Krugersdorp, Potgieter in his blue shirt leading a line of 1 200 Boers - pick of the backveld - at a steady canter, over ground that could not give cover to a mouse. Straight a mile and a half in bright sunlight, at a massed column of 1 500 British bayonets and another similar massed column standing by support. Every rifle, pom-pom and field gun that can be brought to bear is firing for dear life. The charge of the Light Brigade at Balaclava was child's play to this! Miraculously, incredibly, on and on they come until Potgieter falls with a bullet through his brain only seventy yards from the centre of the Scottish Horse. When we buried these heroes we did so as reverently as if they had been comrades."
Die Britse teenaanval het eers 'n halfuur na Kemp se aanslag begin. Honderde perde is doodgeskiet en het weggehardloop onder die oorlogslawaai. Dit alles het die teenaanval vertraag en kon eers begin toe Rawlinson opdaag van Oshoek en Boschpan. Kemp het teruggeval tot by Brodericksvlei en Simonsvlei, waas hulle teenstand probeer bied het. Die slag was egter gelewer en die kommandos beweeg verder suidwaarts in die rigting van Schweizer-Reneke en Vleeschkraal. Op die 12e en 13e het die kolonne teruggekeer na hulle beginpunte Middelbult en Driekuil.

Die "Times" stel die Boereverliese op 50 dood en 30 gewond en Kekewich se verliese op slegs 1 dood en 56 gewond. J. F. Naudé (Vechten en Vluchten), stel Kemp se verliese op 32 gedood en 120 gewond, terwyl 250 perde doodgeskiet is. Die Slag van Roodewal was een van die hewigste veldslae tydens die hele oorlog. Nie soseer vanweë die getal gesneuweldes nie, maar deur die intensiteit daarvan. Die vreesaanjaende stormaanval en die felheid waarmee dit teruggeslaan is.

Na die slag begin die kommandos stadig terugtrek na die Zwartruggensgebied vir die wintermaande wat voorlê. Op Kameelbult wag hulle vir De la Rey wat op die 22e daar aankom. Vergesel van waarnemende pres Schalk Burger wat die burgers in Wes-Transvaal kom inlig oor die vredessamesprekinge en verteenwoordigers te laat kies om na Vereeniging te gaan waar besluit sal word of die oorlog moet voortgaan.

Die laaste skermutseling van die oorlog in die Weste vind plaas op die blokhuislyn tussen Lichtenburg en Mafeking, naby Lichtenburg, toe genls Kemp en Celliers gaan om die burgers bymekaar te maak vir die voorgenome verkiesing. Onder hewige vuur word die drade geknip en deurgejaag. Drie burgers word gewond en een wa met sout bly in die slag.

Hamilton se laaste dryfjag vind plaas van 7 tot 11 Mei. Sy mag is versterk deur 2400 Australiese 'Bushmen' onder Thorneycroft. Met die bestaande kolonnes van W. Kitchener, Rawlinson, Kekewich en Rockfort, het Hamilton nou 17 000 man in Wes-Transvaal in die veld gestoot vir sy laaste dryfjag. Met 'n linie wat gestrek het vanaf Korannafontein tot by Rooijantjesfontein, 'n afstand van nagenoeg 50 km, het die mars begin van 130 kan na Vryburg waar ses pantsertreine gereed gestaan het om die gevangenes in te vervoer. Alle bewegings was snags en die kolonnes het stadig en metodies te werk gegaan. Op hierdie stadium was die kommandos egter reeds so verdeel en die Burgers in al vier windrigtings in, dat teen die vierde nag, slegs 300 man, en op die 1le, 367 in die net beland het en gevang is. Selfs die Engelse bron sê: "The Boers taken were the siftings of many commandos, the least fitted, in body and in spirit, to survive. There was no symptom of any general collapse."

Op die 10e Mei het wapenstilstand ingetree en vanaf die 12e, het die oorlogspanning begin verslap. Van oral in die twee Republieke het afgevaardigdes na Vereeniging opgetrek na die beoogde vredessamesprekinge. Genl Smuts was te midde van die beleg van Okiep teruggeroep en hy is per boot vanaf Port Nolloth na Kaapstad en daarvandaan na Vereeniging per trein. Vyftienhonderd kilometer van Okiep het genl Beyers sy kommando by Waterberg agtergelaat en na Vereeniging vertrek.

Van Wes-Transvaal het genls De la Rey, Kemp, Celliers, Liebenberg, Du Toit, en vdkte B. J. T. van Heerden (Rustenburg) en P. D. Roux (Marico), as afgevaardigdes na Vereeniging vertrek. Die groot beslissing van vrede of oorlog moes gemaak word.

Uit "Die Geskiedenis van ottosdal kommando" deur P.J. de Jager