|
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-mail e-pos |
In Ottosdal word nie net mielies en vleis geproduseer nie, dit is ook die enigste plek in die wêreld waar die unieke gesteente Wonderstone of Pirofoliet voorkom en ontgin word.
Agtergrond:
Hoewel John Campbell waarskynlik die eerste sendeling was wat sedert 1812 sendingwerk gedoen het onder die Griekwa en die Koranna, was daar volgens reisbeskrywings reeds talle blanke veetrekboere teen die einde van 1700 oor die Vaalrivier. Vroeg in 1800 was van hierdie veeboere en hulle gesinne reeds woonagtig in die omgewing wat vandag Ottosdal is. Die veeboere het grond gehuur van die Koranna en die Tswana en vreedsaam geboer en geleef van jag en handel dryf met die swart volke. In 1823 het Broadbent onder die Seleka-Rolong van Sefunelo by Makwassie sy sendingstasie begin. In 1831 was die Paryse Sendinggenootskap ook reeds onder die Hurutshe in Marico bedrywig. Tydens die Difaqane is van die blanke veeboere en sendelinge wat nie gevlug het nie, vermoor. Die ander het teruggetrek die Kaap Kolonie in of weswaarts in Betsjoeanaland tot sover as Namibië vandag. (Emil Holub en E.F. Sandeman).
Die groot intog van blankes het egter eers plaasgevind nadat Mizilikazi se mag verslaan is, toe die Voortrekkers vanaf 1838 op plase kom woon het wat aan hulle toegeken is volgens die Voortrekker Grondwet en later bekragtig deur die Regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal). Die meeste blanke boere het tussen 1838 en 1845 in die omgewing van Korannafontein hulle plase afgebaken, maar die plase is eers getransporteer aan hulle eienaars vanaf 1850 kragtens die Grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek wat in daardie jaar totstand gekom het.
Korannafontein
Die dorp Ottosdal is aangelê op die plaas Korannatontein, eers bekend as "Korans Fontyn", vernoem na die oorspronklike Korannastam wat hier gewoon het. Die oorspronklike plaas van 5900 morge (5053 ha) is in 1859 deur die ou Transvaalse Regering aan J.C.J. van Vuuren getransporteer, hoewel hy reeds sedert 1840/45 hier gewoon het. Hy verkoop die plaas in 1876 aan die Engelsman Adrian Brill wat waarskynlik reeds hier gewoon het en handel gedryf het onder die Korrannas. In 1880 verkoop Brill toe weer die plaas aan Gerhardus Petrus Otto. Brill, wat getroud was met 'n Griekwavrou, het op die plaas bly woon en albei is hier oorlede en begrawe.
Vanweë sy sentrale ligging in 'n destyds afgeleë gebied, het hier ná 1840 'n eie gemeenskap begin ontwikkel met die plaas Korannafontein as middelpunt. In 1889 het Otto waarskynlik dorpstigting in gedagte gehad toe hy aan Samuel Summers 'n handelskonsessie toegestaan het vir 99 jaar op sy plaas. Summers se bekende sinkwinkel en bottelstoor sou spoedig die sentrum word waarom die toekomstige dorp sou ontwikkel. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 was daar reeds 'n hele paar huise en 'n poshalte op Korannafontein. Ook die poskoetsroete vanaf Mafeking oor Klerksdorp na Johannesburg het vanaf ongeveer 1895 ook oor Korannafontein geloop.
Ottosdal 1916
Die groeiende gemeenskap van Korannafontein het 'n groot behoefte gehad aan 'n eie kerk omdat Hartbeesfontein, hul naaste gemeente, te ver was. Ná baie onderhandelinge, onderbreek deur die Anglo-Boereoorlog, kom hulle op 13 Aug 1913 bymekaar en stig die Nederduitse Gereformeerde Gemeente op die plaas Korannafontein en besluit dat hier 'n dorp aangelê moes word, Otto Snr was toe reeds oorlede. Die Ottofamilie aan wie die plaas toe behoort het, onderneem toe om 'n dorp te stig.
Toe hulle, en daarna Summers, ook nie daarin kon slaag nie, besluit die Gemeente om dit self te doen. In 1914 koop hulle 1000 morge (±850 ha) van Korannafontein by die Ottofamilie en in 1916 stig hulle die dorp wat bekend sou staan as "Ottosdal", vernoem na Gerhardus Petrus Otto en die Ottofamilie. Op 28 Januarie 1916 word die eerste Dorpskommissie gekies om die bestuur van die dorpie by die Kerkraad oor te neem. Die voorsitter van hierdie eerste bestuur was Dawid Louw Snr., bekend as "Groot-Brittanje" vanweë sy Engelsgesindheid. Die landmeters Moorcroft en Barry word aangestel om 200 erwe uit te meet en strate aan te lê. Die strate het name gekry en dorpsregulasies is opgestel.
Die dorp was egter nog nie amptelik geproklameer nie. Ná vele vertoë word Ottosdal uiteindelik amptelik as dorp in September 1920 geproklameer. Die eerste voorsitter van die verkose Gesondheidskomitee was ds. P.J. Swart, eerste leraar van die jong NG Gemeente Ottosdal, met P.M. Otto as eerste sekretaris. In 1933 verkry die Gesondheidskomitee regsbevoegdheid. In 1946 word ook Kort-Gert Otto se deel van Korannafontein van 485 ha by die NG Gemeente gekoop. Die swart woonbuurt, Letsopa, sou later hier ontwikkel. In 1956 bereik die dorp uiteindelik volwassenheid toe sy status verhoog word en die Gesondheidskomitee vervang word met 'n Dorpsraad. Z.B. Steyn, bekende boer en sakeman, word Ottosdal se eerste Burgemeester.
Ottosdal het sedert sy beskeie ontstaan, ontwikkel tot 'n moderne en vooruitstrewende dorp. In 1920 is die eerste handsentrale met drie telefone in gebruik geneem en in 1995, ná 75 jaar, is die telefoonstelsel geoutomatiseer. Die eerste Poskankoor was die Ottogeboutjie reg voor die Polisiestasie en later 'n sinkgebou. Ook die polisiestasie en landdroskantoor was aanvanklik sinkgeboue. In 1957 kry die dorp sentrale watervoorsiening en in 1963 elektrisiteit. Mel die loop van die jare is al die strate geteer.
OTTOSDAL VANDAG
Klimaat
OTTOSDAL lę 27° Suid en 26° Oos. Die gemiddelde jaarlikse reënval is ongeveer 550 mm wat
hoofsaaklik in die somermaande vanaf Oktober tot April val. Dit kom meestal voor in die vorm van swaar reënbuie gepaardgaande met hewige elektriese storms in die voorjaar en ligter algemene reën in die najaar. Hael kom redelik algemeen voor in die maande Desember tot Februarie. Die winters is baie matig met koue nagte en ryp en matige tot warm dae. Dit is selde langer as drie maande per jaar koud. Die somers word gekenmerk deur baie warm dae. Dit sneeu selde maar kom wel so een maal in 'n dekade voor. Die reënval is baie wisselvallig en periodieke droogtes is normaal. Hewige windstorms, veral die berugte Augustuswinde met sy stofstorms wat dag in skemerte kan verander, is tipies van die Noordweste.
Bevolking
Ottosdal en sy omgewing bestaan hoofsaaklik uit Tswana- en Afrikaanssprekendes met 'n klein
Indiërgemeenskap. Lg. speel 'n prominente rol in die ekonomie van ons dorp.
Skole
Ottosdal se Laerskool is in 1918 gestig uit die Korannafontein plaasskool. Tot 1919 toe die nuwe
skoolgebou voltooi is, word daar skoolgegaan in die NG Sinkkerkie in Ottosdal waar Japie Joubert die eerste skoolhoof was. Aanvanklik net tot Std 4 en vanat 1928 tot Std 8. Met die sentralisasie van plaasskole in 1937 het die leerlinggetal op 'n stadium so gestyg dat daar selfs sprake van 'n eie hoërskool was. Baie faktore het dit egler verongeluk. Namate die blankes stede toe getrek het, het die getalle so gedaal dat selfs die koshuis in 1965 moes sluit en die skool afgegradeer is na Std 5. Ottosdal laerskool se kinders is nog steeds 'n belangrike en gesogte voedingsbron vir omliggende hoërskole. Ottosdalgemeenskap is trots op sy kinders van wie baie op feillik alle terreine van die lewe gepresteer het.
Die gemeenskap het ook hulle 'n kleuterskool, Kleutergoud, wat in 'n groot behoefte vervul. 'n CVO skool is ook in 1995 gestig deur ouers wat gekant is teen die huidige onderwysstelsel. In ons swart woongebied Letsopa, is 'n baie groot nuwe hoërskool, die Leretletse-Lesedi High School en twee laerskole. Op een plaas is selfs 'n hoërskool en etlike laerskole op verskeie plase in die distrik.
Ekonomie
Akkommodasie en ander Besienswaardighede
Sport en ontspanning
Kerk- en Verenigingslewe
Opgestel deur P.J de Jager vir Ottosdal Toerismevereniging/Tourism Society, 1997