Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Ottoshoop

HISTORIESE AGTERGROND VAN DIE DORP OTTOSHOOP

(50 km noord van Lichtenburg)

Ottoshoop is sentraal geleë tussen Mafikeng, Zeerust en Lichtenburg.

BENOEMING VAN DIE DORP

Ottoshoop was bekend as Malmani, 'n afleiding van die Tswana Naam "Melemani" wat beteken "plek van baie water". Na die ontdekking van goud in I876 is die gebied deur President Paul Kruger besoek. Die landdros op daardie tyd was 'n mnr. Otto. Hy het die hoop uitgespreek dat goudvelde die plek in 'n groot dorp kon verander. President Kruger het daarop geantwoord "Goed, mnr. Otto, dan noem ons dit 'Ottoshoop'".

ONTDEKKING VAN GOUD

Die ontdekking van goud op die plaas Stinkhoutboom deur 'n mnr. M.J. Kelly in 1875 het 'n toestroming van mense veroorsaak en dit het gelei tot die stigting van die dorpie.

Mnr. Kelly was 'n Ier wat as jong seun gedros het van 'n skip in Tafelbaai. Hy het toe sy weg binneland toe gevind en het by mnr. J.J. Fritz, eienaar van die plaas Stinkhoutboom, werk gekry. Hy en mnr. Fritz se dogter is later getroud en kort daarna het hy die goud ontdek op die plaas wat as die eerste goudmyn geproklameer is. Sy graf, sowel dié van sy skoonouers, kan besigtig word op die plaas Stinkhoutboom.

Op een stadium was daar 1000 huisgesinne gevestig in Ottoshoop. Daar was 4 Hotelle, 'n apteek en menigte winkels. Een van die hotelle, nnamlik die Central Hotel, was die plek waar Dr Leander Starr Jameson van die bekende "Jameson Raid" altyd tuisgegaan het. Volgens oorlewering was dit Jameson se gewoonte om onder 'n Olienhoutboom wat nou nog hier is met sy geheime kantakte te gesels.

Daar is nie sekerheid oor die Jameson-roete nie, maar daar is vertel dat dit plaasgevind het tussen Slurry, Ottoshoop en die Molopo-rivier.

DIE DORPSUITLEG

Met die stigting van die dorp in 1876 is 'n dorpskaart opgestel deur Landmeter Gilfallen. Van die straatname was Commissioner-, Myn-, Pretorius-, Market- en Kerkstraat. Commissionerstraat was vroeër die deurpad na Johannesburg. Die oorspronklike kaart is te sien in Preioria se Museum.

In 1962-63 is 'n omweg gebou. Die grond van die brug oor die spoorlyn wat die uitgang is van die dorp na die hoofweg, is deur Kaptein W.J. W. Vorsterbrug geskenk.

JOHANNESBURG

As gevolg van baie onderaardse water (ou inwoners het melding gemaak van 'n rivier van 25km wyd) en wisselvalligheid van die goudriwwe (hier was aluviaal sowel as rifgoud) en die ontdekking van goud te Johannesburg en Barberton, het die ontginning hier begin kwyn. Mense het begin wegtrek. Die kaart van Ottoshoop is toe gebruik om die stad JOHANNESBURG uit te lê.

Die laaste myn was tot 1945 nog in werking. Die mynskag is nou nog te sien.

UITSPAN

Een oud-inwoner, mnr J.D.L. Faurie, (oorlede) het gesê dat Ottoshoop ook gebruik is as uitspanplek en waar van hoefsmidde se dienste gebruik is, terwyl die 'Pony Express" in gebruik was. Die Pony Express was 'n tipe posstelsel wat vroeër gebruik is. Hy was 'n boerseun wat op die plaas Kafferskraal gebly het net duskant Zeerust. Hy was kleinseun van Hoofkommandant J.D.L. Botha van die Marico Kommando van die Anglo-Boereoorlog. Hulle het as jong seuns, dikwels van die deurpad gebruik gemaak om na Mafeking toe te gaan.

GROTTE

In die omgewing is daar blykbaar van grotte gebruik gemaak in die Boeroorlog. Baie patroondoppies is al hier gevind wat bewys dat daar wel slagvelde hier was. Een van die grafte is op 'n mnr Cremer se plaas en die ander een is huidiglik op mnr Meyer se plaas.

MALMANI-OOG

Wyle mevrou Duncan-Rose het op 'n plaas Malmani-Oog in die omgewing gebly. Haar meubels was ingevoer vanaf Engeland deur haar ouers. Haar vader het 'n hele stel Historiese boeke aan die Witwatersrand Universiteit geskenk. Daar is ook 'n baie ou Waterwiel op hierdie plaas was as historiese monument verklaar is. Onlangs is blikkieskos ontdek op haar plaas wat aandui dat dit deur Engelse Soldate gebruik is tydens die oorlog. Hierdie plaas is na haar dood geskenk aan Noordwes Parkeraad.

LIVINGSTONE

Daar is ook beweer dat die ou Bobbejaan-druiweboom waaronder David Livingston, (die Sendeling wat noorde toe gegaan het) uitgekamp het nog te sien is voor die woonhuis van die plaas Windheuwel.

HOSPITAAL

Op die plaas Buffelshoek op pad na Zeerust is ook 'n huis wat as 'n hospitaal gedien het gedurende die Boere-oorlog. Daar is drie monumente op Mosega, een vir die Voortrekkers, een vir die Boere-oorlog en nog een vir 'n sendelingvrou.

KERKHOF

In die ou kerkhof op Stinkhoutboom is daar interessante grafte te sien. Die eerste Mynkommissaris is hier begrawe. Daar was ook Engelse en Australiese soldate wat gesneuwel het maar hulle is later herbegrawe by 'n oorlogsmonument. In die vroeë jare 1900's is 'n Landdros Marias doodgeskiet deur 'n Mnr. Schultz Mnr Schultz was deur Landdros Marais op 'n swartlys geplaas vir onwettige drankhandel. Hy het homself daarna geskiet. Albei is in hierdie begrafplaas begrawe. Mnr Schnltz se graf is agterstevoor gesit omrede hy 'n moordenaar was. Daar is ook grafte van Boere wat in in die Boereoorlog gesneuwel het. Daar is grafte van die jare 1800s met buitengewone tekse.

WONDERGAT

'n Ander interessante plek om te sien is die Wondergat. Die bodem van hierdie gat is nog nooit gevind nie en was in mensegeheugenis nog nooit leeg nie. Dit het geen ingaan of uitloop op die oppervlakte nie. Daar is melding van onderaardse strome. Baie duikers maak gebruik van hierdie plek en 'n hele paar het al hul lewens hier verloor. Daar is ook gesê dat die Matabele-stamhoof Mzilikazi hierdie gat gebruik het om mense in af te gooi as hul gestraf is.

HISTORIESE GEBOUE

Twee historiese geboue nog te sien is die Poskantoor en die Polisiestasie. Altwee is uit die dae van die Transvaalse Republiek. Die Poskantoor is die oorspronklike landdroskantoor. Daar is nie sekerheid wanneer die Polisiestasie sy beslag gekry het nie maar in 1908 is die aanbring van 'n omheining teen 32 goedgekeur. Op 13 November 1916 het die distrikskommandant van die "Zuidafrikaanse Politie" op Krugersdorp 'n bad vir die Polisiestasie op Ottoshoop aangevra. Op 16 Oktober 1925 het die personeel uit drie blank en drie swart lede bestaan. Op 11 Maart 1950 was daar slegs twee blank en twee swartlede.

(Saamgestel deur S.E. Bester - Julie 1998)

Bronne geraadpleeg: Ottoshoop Biblioteek, Ottoshoop Transitional Cortncil, Servamus May I988.