Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Die Beleg van Mafeking 14 Okt.1899 - 17 Mei 1901

deur Gert van den Bergh

Link to Mafikeng's own Webpages

Soos die geval was met die Eerste Vryheidsoorlog 20jaar vantevore, is Britse garnisoene op verskeie plekke deur Republikeinse magte in die aanvangsfase van die Anglo-Boereoorlog beleër. Waar een garnisoen in eersgenoemde stryd oorgegee het, het almal die tweede een oorleef. Dit het inderdaad voorgekom asof die Transvaalse aanvoerders geen nuttige les uit die 1880-1881-oorlog geleer het nie. Dit was veral die geval met genl. Cronjé, die Boere aanvoerder wat met die beleg van Kimberley en Mafeking op die Wesfront belas is en wat verantwoordelik was vir die oorgawe van die Potchefstroom fort in 1881. Vir Cronjé sou die geskiedenis hom nie herhaal nie.

Die beleg en ontsetting van Mafeking het die onderskeiding dat die die enigste militêre gebeure van betekenis was wat in die Noordwes Provinsie gedurende die konvensionele fases van die oorlog afgespeel het.

Die beleg het 'n onbelangrike rol in die strategiese ontplooiing van die oorlog gespeel. Tog is die stewige, en uiteindelik suksesvolle, verset van Mafeking te midde van 'n vloedgolf van Boere seges gedurende die eerste maande van die oorlog dwars oor die Britse Ryk geloof. Nadat die oorlogsgety gedraai het en ander beleërde dorpe, soos Ladysmith en Kimberley, ontset is, het belangstelling in Mafeking toegeneem, veral nadat vroeë aanduidings dat die dorp ontset sou word nie verwesentlik is nie.

Vergeleke met die bedrywige Kimberley, 375km verder suid, was Mafeking 'n onbenullige klein Noord-Kaapse grensdorpie aan die noordoewers van die Moloporivier 13km van die Transvaalse grens. Die dorp was ongeveer vierkantig uitgelê met 1,3km sye en met enkelverdieping geboue rondom twee pleine verspreid. Die belangrikste geboue was 'n aantal kerke, 'n poskantoor, regerings- en privaatkantore en hotelle. 'n Belangrike komponent was die groot spoonrwegkompleks met stasie, wonings, werkswinkels en pakhuise, waar nie minder nie as 18 lokomotiewe, 300 ton steenkool en groot hoeveelhede spoorwegmateriaal geberg is. Net buite die dorp, aan die ooste kant, was die dubbelverdieping kloosterskool en 'n hospitaal. Een-en 'n-half kilometers verder oos was 'n resiesbaan en suid daarvan, nader aan die rivier, die steenmakery. Water vir die dorp is voorsien deur 'n leikanaal uit 'n sterk fontein 2,5km wes van die dorp. 'n Kilometer suid van Mafeking was die sg. Fingo Dorpie waar die gekleurde bevolking gewoon het. Om 'n klipkoppie, 500m wes van Mafeking en aan beide kante van die rivier, was die digbevolkte en uitgestrekte Mafikeng waar die 6 000 volgelinge van die Barolong hoofman Wessel Montsioa, 'n voormalige oproerige onderdaan van die Zuid-Afrikaansche Republiek, maar in dié tyd 'n Britse onderdaan, gewoon het.

Lord Robert Baden-Powell
Met die uitbreek van die oorlog was die Republikeinse strategie daarop ingestem om die Britse magte wat aan sy grense saamgetrek was te vernietig voordat versterkings, wat ter see op pad was, by die fronte kon opdaag. Aan die Wesfront was Kimberley en Mafeking sodanige teikens. Meernog was Mafeking, ten spyte van sy geringe grootte, die spil waaromheen die administrasie van die Betsjoeanaland Protektoraat gewentel het en 'n lewensbelangrikke knooppunt op die Kaap-Rhodesië spoorlyn, wat as verklaring dien vir die groot hoeveelhede voorrade daar. Hierby moet die vrees van die Republieke se opperbevel, dat Britse beheer oor Betsjoeanaland sou dien om swartes daar aan te moedig om onrus op die Wes-Transvaalgrensgebied te saai, gevoeg word.

Die gevolg was dat alle kommando's van die westelike distrikte vir daardie front beskikbaar gestel is. Hul eerste taak was die vernietiging van die Britse magte te Mafeking wat, volgens gerugte, 2 000 man sterk sou wees.

In werklikheid was die garnisoen swak. Deur die pogings van kol R.S.S. Baden-Powell, wat as opperbevelvoerder van die North-West Frontier Forces aangestel is, is 1 370 gereelde blanke troepe vir die gebied gerekruteer. Van hulle was 469 lede van die Pròtectorate Regiment en minder as 100 elk van die Cape Police, die British South African Police en die Bechuanaland Rifles. Hierby moet ongeveer 300 Town Guards, wat bestaan het uit inwoners van die dorp en Britse onderdane wat Transvaal op die vooraand van die oorlog verlaat en in Mafeking versamel het, gevoeg word. 'n Verdere eenheid het bestaan uit 100 spoorwerkers. Baden-Powell het tot sy beskikking vier seweponder Nordenfelder en Hotchkiss kanonne en ses masjiengewere gehad. In sy arsenaal was ook 'n verouderde skeepskanon uit die tagtigerjare, bekend as Lord Nelson. Dit is in die spoorwegwerkswinkels opgeknap en op wiele gemonteer. Die werkswinkels het ook ammunisie daarvoor vervaardig. Nog 'n veldstuk, bekend as die "Wolf"is ook in die werkswinkels gebou. Op ysterwiele gemonteer, kon dit 'n 8,25kg granaat 3 500m ver skiet. Intussen het die spoonrwerwe ook rollende materiaal in drie gepantserde treine omskep, die "Firefly", die "Wasp" en die "Mosquito". Elk was bewapen met 'n Nordenfeld en masjiengewere en uitgerus met 'n gasvlamsoeklig. 'n Gepantserde lokomotief was reeds beskikbaar en nog een is vanaf Vryburg beloof. Landmyne, wat met van die groot hoeveelheid plofstof wat in die spoorwegpakhuise beskikbaar was, gelaai is, is ook vervaardig en op strategiese plekke om die dorp geplant.

In 'n poging om van die kommando's wat teen hom gemonster sou word weg te lei, het Baden-Powell 600 van die B.S.A. Polisie en die Rhodesië Regiment onder kol. Plummer voor die uitbreek van vyandelikhede noordwaarts na Tuli in Betsjoeanaland gestuur. Dit het aan hom slegs 770 gereelde soldate in Mafeking gelaat. Verbinding tussen die twee groepe is bewerkstellig deur swart boodskappers wat, met groot risiko, tussen die Boerelinies moes deursluip.

Onmiddellik na sy aankoms in Mafeking het Baden-Powell met sy voorbereidings begin. Deur gebruikmaking van swart arbeid het hy Mafeking en Mafikeng met 'n 10km ring van verdedigingsstellings wat 60 groot en klein vestings ingesluit het, omring. Met die fort op "Kanonkop" suid van die rivier en oos van die spoorlyn na Vryburg as spil, het die verdedigingslinie na die suidelike rand van Mafeking gestrek, waar 'n tweede vesting, Marsh se Fort, opgerig is. Wes van Mafikeng en 500m verder noord is Fort Limestone opgerig. Noord van die rivier en steeds wes van die dorp was Godley se Fort. Oos daarvan was Fort Cardigan en ietwat wes en tussen Cardigan en Godley Forte, op 'n lae heuwel, was Fort Ayr, wat as waarnemingspos bedoel is. Fort Miller was tussen Ayr en Cardigan. Die kwesbaarste sektor was die noordelike. Naas die plasing van 'n aantal loopgrawe daar het Baden-Powell hom verlaat op sy pantsertreine om, as "mobiele forte", sy noordfront te beskerm. Vir hierdie doel het hy 'n taklyn parallel aan die dorpsgrens gelê tot by die resiesbaan. Forte Westdyk en East York moes die oostelike toegange tot die dorp bewaak. Tussen hierdie vestings is talryke kleinere poste ingerig om die buitenste verdedigingskring te voltooi.

Die binneverdediging is op die rande van die dorp self opgerig. Hulle het bestaan uit loopgrawe wat plek-plek deur forte en skuilings versterk is. Op die noordwestelike hoek was die Convent Redoubt. Suid daarvan was Fort Recreation, Fort De Kock, Elliston's Kraal, en Ellis's Corner. Langs die suidelike rand van die dorp was Fort Dall, Dixon se Redoubt en Fort Early. Naby verdediging aan die weste kant het gewentel om die B.S.A. Polisiebarakke en aan die noorde om Fort Victoria. As bykomstige voorsorgmaatreël, is 'n digte doringdraadheining aan die oostelike en noordelike rand van Mafeking opgerig en al die toegange tot die dorp gebarikadeer. In die dorp self is meer loopgrawe gebou en bomvaste skuilings vir gebruik deur burgerlikes gebou. Lady Sarah Wilson, eggenote van kapt. Wilson, Baden-Powell se adjudant, en dogter van die Hertog van Marlborough, het haar eie 8x9,6m privaat skuiling in die dorp gehad. Dit was 2.5m diep met houtpaneelwerk aan die mure en 'n plafon, 2m hoog, wat versterk was deur twee lae spoorstawe waarop 3m grond gestapel is. Die sye van die ingang is deur sandsakke en 'n stewige deur beskerm. Hierde skuiling was tipies van wat in elke agterplaas en Mafeking te vinde was.

Baden-Powell het sy hoofkwartier in Dixon se Hotel ingerig, waar alarm- en seinstelsels, bestaande uit telefone, megafone, heliograwe en lamp- en vlagseinuitrusting aangebring is en posduiwe aangehou is.

Die hoof-taak van die Barolongs tydens die beleg was om die vee van die gamisoen te bewaak en as wagte op te tree. Vir die bemanning van die verdedigingstelling by hulle eie dorp, is aan 300 - 500 van hulle verouderde gewere uitgereik. Die Britte, soos die Boere, het omvattende gebruik van swartes gemaak vir konstruksiewerk. Anders as die verknogdheid aan hulle meesters van die swartes onder die burgers, het dié te Mafeking, hoewel lojaal teenoor die Britte, die pligte wat hulle opgelê is en waarvoor daar geen vergoeding was nie, teensinnig verrig. Ook die Town Guard het onwilliglik 'n rol vervul waarvoor hulle geen vergoeding ontvang het nie en wat hulle gemeen het die taak van beroepsoldate was en gekla oor die onhoflike gedrag van die offisiere teenoor hulle.

Soos wat die oorlog nader gekom het, is 503 blanke vrouens en kinders en 150 swart bediendes uit die dorp na 'n plaas 1,5km wes van die dorp, waar daar 'n yslike bomvaste skuiling vir hulle gebou is, ontruim. Dit het ongeveeer 1 600, meesal lojale, bewapende mans in die dorp gelaat. Ten slotte het Baden-Powell se omvattende voorbereidings die vervaardiging van lewensgrote poppe behels wat, as troepe vermom, in die forte en leë loopgrawe geplaas is om by die Boere die indruk te skep dat sy mag aansienlik groter was as wat werklik die geval was - 'n set wat geslaagd was.

Vir die Republikeinse oorlogspoging was dit krities dat Mafeking so spoedig moontlik tot 'n val gebring word ten einde die groot Boere mag daar beskikbaar te stel vir 'n aanval op Kimberley. Cronjé het egter vas geglo dat hy 'n groot Britse mag, wat andersins Wes-Transvaal sou binneval, in Mafeking vasgepen gehou het. In werklikheid was dit andersom. Die klein en onbeproefde gamisoen was besig om 'n Boere mag van 6 000 van belangriker gevegte elders te weerhou. Teen die einde van die sewemaande beleg egter, toe die burgers se getaal tot 1 200 gekrimp het, was dit Baden-Powell se beurt om te glo dat dit steeds 4 000 burgers was wat vir die beleg gebruik moes word.

Op die vooraand van die oorlog is die burgers van verskeie kommando's in 'n half-sirkel tussen 20km en 30km van Mafeking saamgetrek. Die plan was dat die Marico en Rustenburg kommando's van kmdte. Botha en Snyman Mafeking uit die noorde sou insluit terwyl die Potchefstroom Kommando onder kmdt. Wolmarans, die van Lichtenburg onder kmdt. Vermaas en die van Wolmaransstad van kmdt Potgieter, uit die suide sou inbeweeg.

Die eerste geveg wat uit die bewegings ontstaan het - trouens die eerste van die oorlog - het plaasgevind by die Kraaipan stasie vroeg die oggend van 13 Oktober 1899. Daar het seksies van die Potchefstroom Kommando onder genl. Koos de la Rey, wat gestuur is om die spoorverbinding na die suide te ontwrig, 'n pantsertrein, die Mosquito, in 'n hinderlaag gelok. Die trein, onder bevel van lt. Nesbitt, was besig om die beloofde pantserenjin en nog twee kanonne na Mafeking vanaf Vryburg te vervoer. Een-en-dertig krygsgevangenes, waarvan nege, insluitende Nesbitt, gewond was en 'n aantal swartes en die twee kanonne met 'n groot voorraad ammunisie, 'n aantal gewere en ander voorrade, is geneem. Die Transvalers het geen ongevalle gely nie.

Later dieselfde dag het die hoof-aanvalsmag die grens oorgesteek, Britse verbindings verbreek en 'n aanvang gemaak met die insluiting van Mafeking. Genl. Cronjé het sy hoofkwartier suid van die dorp te Rietfontein gevestig en kmdt. J.P. Snyman syne wes van die dorp en noord van die rivier. Nog 'n groot laer was wes van die dorp. Hierna het die burgers begin om 'n reeks van 10 forte van hulle eie rondom Mafeking op te rig op afstande van tussen 3 en 6km van die dorp af. Een so 'n fort was by die resiesbaan.

Bewus van hierdie bewegings het Baden-Powell gepoog om 'n uitklophou te lewer. Vroeg die oggend van die 13e het 'n lokomotief twee trokke met 22,5 ton dinamiet noordwaarts in die rigting van die vyandelike stellings, 15km ver, gestoot. Die verwagting was dat die Boere sou nader kom om vas te stel wat die inhoud van die trokke was en, deur die dinamiet te ontsteek, hy 'n groot aantal ongevalle en verwarring sou veroorsaak. Die enigste uitwerking van die ontploffing, wat 55km ver in Lichtenburg gehoor is, was om die spoorlyn onherstelbaar te beskadig en sodoende die Boere se isolasietaak te vergemaklik.

Teen die aand van 13 Oktober was die omsingeling voltooi. Die volgende dag het 'n eskadron van die Protectorate Regiment onder Lord Charles Cavendish-Bentick noordwaarts uitgetrek om vas te stel hoever die kommando's langs die spoorlyn af gevorder het. Toe hy in 'n Boerepatrollie vasloop het hy sy manne laat omdraai. 'n Pantsertrein en nog 'n eskadron ruiters onder kapt. Fitzclarence is gestuur om die Boere te verdryf, maar is amper vasgetrek deur van Snyman se burgers by Vyfmylbank, 'n ent duskant die toneel van die vorige dag se ontploffing. Van die Protectorate Regiment is vier man gedood en 16 gewond voordat hulle, onder dekking van die vuur uit die pantsertrein, kon terugval. Boere ongevalle was twee dood en ses gewond.

Dit was vir die entoesiastiese burgers 'n goeie voorteken, maar Cronjé was, sonder dat hy 'n poging aangewend het om die ware sterkte van die vyand te bepaal, nie van plan om 'n oorwoë aanval te waag nie en het besluit om die garnisoen uit te honger soos 20 jaar vantevore te Potchefstroom. Die mees inspannende taak wat hy aangepak het was om die dorp se watervoorraad afte sny en homself te troos met 'n daaglikse bombardement van die dorp met 'n 155mm Creusot "Long Tom" wat 43kg granate gevuur het.

Op Dinsdag 24 Oktober is die Britse stellings vir die eerste keer swaar bombardeer en op die volgende dag het die krygsraad besluit om die dorp aan te val ten einde vas te stel watter stellings verdere bestoking geregverdig het. Teen die middag het die aanvalsmag tussen 1 500 en 900m van die Britse buitestellings gevorder toe Baden-Powell se grofgeskut hulle laat omdraai het.

Op die 27e het die Britte op hulle beurt 'n nagaanval met 55 man geloods om die burgers uit hulle loopgrawe te verdryf. Ook dit was 'n duur mislukking waartydens die Protectorate Regiment ses dooies en twee krygsgevangenes moes afstaan, terwyl nege gewondes afgevoer moes word. Burgerongevalle was drie gewondes en die dood van die kommandant van die Marico Kommando wat in die hitte van die geveg deur een van sy eie burgers geskiet is.

Nog meer onbeslisde klein aanvalle is heen en weer gemaak, o.a. deur die burgers op Kanonkop op 13 Oktober en op die westelike laer deur die Britte op 7 November.

Op 20 November het Cronjé met die grootste gedeelte van die burgers van Mafeking suidwaarts vertrek om die Transvaalse en Vrystaatse kommando's, wat besig was om aan die Oranjerivier in te grawe in afwagting op genl. Buller se aanslag daar, te steun. Om Baden-Powell te bedwing is 1 800 man onder kommandant Snyman, wat nou tot generaal bevorder is, agtergelaat. Na vier weke se beleg het Cronjé met sy 6 000 sterk mag geen vordering gemaak teen Baden-Powell se 1 600 nie.

Waar Cronjé 'n onbevoegde bevelvoerder was, was Snyman nog swakker. Met geen flikkering van inisiatief nie en met minagting van die aansporing uit Pretoria om Mafeking te neem, het hy hom daarop verlaat om 'n daaglikse kwota granate die dorp in te stuur en origens in afwagting op verwikkelinge elders te wag. Ernstige gevegte het na November drasties afgeneem en beide kante het hulle toegespits op die opknapping van hulle stellings.

Op "Swart Tweede Kersdag" het die gamisoen, gesteun deur 'n pantsertrein, 'n aanval uit twee rigtings op die onderskatte Boere stellings te Wildsbokkop, noord van die dorp, geloods. Die gevolg was 25 dooies en 22 gewondes vir die aanvallers, almal van die Protectorate Regiment. Die verliese was so swaar dat die regiment van vier tot drie eskadronne verklein moes word. Kapt. Charles FitzClarence, sers. Martineau en troeper Ramsden se heldhaftigheid tydens die geveg het aan hulle Victoriakruise besorg.

Die lewe in Mafeking het voortgegaan en was nie so opwindend of gevaarlik as wat die buitewêreld geglo het nie. Aanvanklik het die daagliks bombardement lewensgevaar ingehou, maar daarteen was die doeltreffende skuilings wat Baden-Powell en individuele gesinne voorberei het, opgewasse. Namate die beleg aangesleur het, het entoesiasme daarvoor aan beide kante gekwyn, die geskiet het afgeneem en die skuilings is al minder gebruik.

Wat wel gebeur het was dat die moreel van die burgers getap geraak het. Verbeeldinglose leierskap, die verveling wat in die onaktiewe laers geheers het en onrusbarende berigte vanaf al die gevegsfronte het die geesdrif gedemp.

Dieselfde verveling, wat soms aan moedeloosheid gegrens het, het ook in Mafeking geheers en 'n vername rede vir kwelling onder die aanvoerders geword. Met die aanvang van die beleg het Baden-Powell slegs genoeg voedselvoorrade gehad vir 400 mense vir twee weke. Gelukkig was daar voldoende ander voedselbronne. Die pakhuise van Weil & Co. is voor die aanvang van die beleg oorvloediglik bevoorraad. Daar was ook 'n groot aantal slagbeeste binne die dorpsgrense en die oorvloedige reen wat tydens die beleg geval het, het die aanplanting van groentetuine vergemaklik. Tog was die voorraad nie voldoende om 10 000 wit en swart mage te vul nie. Ten einde 'n eweredige verspreiding te verseker het die militêre gesagvoerders alle voedsel in die dorp teen die einde van Januarie gekonfiskeer en 'n streng, en steeds krimpende, daaglikse rantsoen uitgedeel. Vanaf Februarie was slegs die vleis van perde beskikbaar. Vir die Barolong bevolking was slegs sop en sult van perdebene, -hoewe en -velle voorberei beskikbaar. Baden-Powell het op daardie stadium die voedselprobleem probeer bylê deur van 2 000 Barolong vrouens en kinders "ontslae te raak" deur hulle na Plummer se stellings 56km noordwes van Mafeking te stuur.

Die swaarkry is blymoedig verduur solank die vooruitsig op spoedige ontsetting bestaan het. Die kanse daarop het rooskleurig gelyk toe Lord Roberts op 10 Februarie 1900 algehele bevel oor die Britse magte in Suid-Afrika oorgeneem het.

Toe Kimberley vyf dae later ontset is, was almal daarvan oortuig dat Mafeking volgende aan die beurt sou wees. Na die oorgawe van Cronjé te Paardeberg op die 27e het Roberts se opmars egter van die Mafeking rigting na die hartland van die Vrystaat afgewend en hy het Baden-Powell laat weet dat hy nie voor middel-Mei ontset sou kon word nie.

Intussen het slegs kmdt. Eloff onder Snyman se offisiere enige inisiatief aan die dag gelê. Hy het 'n plan aan die Generaal voorgelê om met 400 vrywilligers 'n aanslag op Mafeking te maak. Uiteindelik was hy, met die 260 man wat hy versamel het, op 12 Mei gereed. Snyman sou die aanval rugsteun met 'n tweede fase aanval met 500 berede burgers. Teen 23:00 het Eloff se aanmars vanaf sy kamp te Jakkalsboom, 10km ten suide van die dorp, na die Molopo wes van Mafeking begin. Daar aangekom het hy gewag vir die maan om teen 04:00 onder te gaan. Om die geluid van Eloff se bewegings te verberg is 'n artilleriebestoking op die Britse stellings vanuit die ooste aangeknoop. Dit was vir Eloff ook die sein dat hy met sy beweging in die rivierbedding verby forte Limestone en Hidden Hollow tot aan die grense van die Barolong woonbuurt kon begin. As sein aan Snyman dat hy met die tweede fase van die aanval moes beging, het Eloff 'n aantal hutte in Mafikeng aan die brand gesteek. In die proses het 'n aantal van sy manne hul pad tussen die brandende hutte byster geraak. Eloff, met net die helfte van sy mag, is gelaat om die eerste doelwit, die B.S.A. barakke, wat tussen hom en die dorp geleë was, aan te pak. Op hulle hoede geplaas deur die paniek in Mafikeng het Fort Barracks 'n mate van teenstand gebied, maar kol. Hore en die troepe daar het spoedig oorgegee. Eloff het die fort beset en die koms van Snyman se burgers afgewag.

Toe dit duidelik geword het dat die Boere bombardement nie maar net nog 'n roetine saak was nie, het Baden-Powell vinnig opgetree. Telefonies het hy vasgestel waar Eloff hom bevind het en sy reaksiemag na die wes-dorp geskuif. Eloff se burgers wat in die Barolong dorp agtergelaat is, het in twee groepe verdeel. Een groep is na die koppie in die middel van die dorp en die ander na 'n kraal tussen die eerste groep en Eloff se posisie. Die groep by die kraal is stelselmatig deur troepe van die Protectorate Regiment, onder aanvoering van maj. A.J. Godley, omsingel en moes oorgee. Daarna het Godley die groep op die koppie aangedurf, maar daar was die weerstand taaier en na sonsonder het dié groep burgers veilig na die rivier teruggetrek.

Vir eers was Eloff veilig aangesien Baden-Powell nie sonder meer 'n stelling sou bombardeer waarin Britse krygsgevangenes aangehou is nie. Maar hy het 'n kordon deur die Protectorate Regiment, die Town Guard en die Kaapse Polisie om die fort laat trek, 'n maneuver wat teen 08:30 afgehandel was. Daarna is die fort voortdurend met kleingeweervuur bestook. Aangesien die fort se watertenks stukkend geskiet is, het beide Eloff en Hore se manne dwarsdeur die dag dorsgely. Na gelang Boere ongevalle toegeneem het, het 'n veearts, lt. Dunlop-Smith, 'n Engelse hoefsmid, korporaal Nicholls en ene Forbes, na hulle omgesien. Naby die fort was 'n kinderhospitaal waarheen van die gewondes vervoer en deur twee verpleegsters, mev. Buchan en haar suster, mej. Crawford, versorg is. Uit erkentlikheid hiervoor het Eloff hulle tweekeer toegelaat om vir sy krygsgevangenes tee te neem.

Toe Snyman se aanval teen sononder nog nie gelewer is nie, het Eloff besef dat verdere verset sinneloos was. Hy het sy rewolwer aan Hore oorhandig en die oorblywende 67 burgers gelas om hulle wapens neer te lê. Eloff en twee van sy offisiere, Weiss en De Fromond, is daama deur Baden-Powell vir aandete genooi waarna hulle in die Vrymesselaarslosie krygsgevange gehou is.

Die Eloff-aanval het die grootste getal ongevalle van die beleg aan Boerekant opgelewer. Tien is gedood, 19 gewond en 94 gevange geneem. Onder diegene wat van die koppie weggekom het was 'n verdere ses lig gewond. Britse verliese was vier gedood en 10 gewond. Op Sondag, 13 Mei het Baden-Powell 'n Boere-ambulans toegelaat om die dooies en gewondes af te voer. Die nalating van Snyman om Eloff te hulp te gaan was skandelik. Sy mag van 500 man was gretig en gereed om Eloff te steun, maar hulle is dwarsdeur die dag in gereedheid gehou en teen sononder onverrigter sake na hulle laers terug gestuur.

Eloff se aanval was 'n laaste en desperate poging om die dooiepunt by Mafeking te verbreek in weerwil van Snyman se lamsakkigheid. Na die voorval het die sinneloosheid daarvan om Mafeking te bly beleër nadat die Republieke aan ander fronte binnegeval is, geblyk.

Aan die ander kant het Baden-Powell Roberts laat weet dat hy nie langer as 22 Mei sou kon uithou nie. Slegs na die ontvangs van hierdie tyding is 'n ontsettingsmag van 1 225 troepe onder kol. B.T. Mahon saamgestel. Mahon het vanaf Barkly-Wes noordwaarts beweeg en het wes van Mafeking saamgesmelt met die mag van kol. Plummer. Die taak om hierdie mag te stuit het op die skouers van genls. De la Rey en Liebenberg geval. Laasgenoemde se mag het hoofsaaklik uit Griekwaland-Wes Rebelle bestaan en die van De la Rey uit die onbeproefde Rustenburg en Marico Kommando's wat die hele tyd by Mafeking weggekwyn het. Op 14 Mei het De la Rey, op dié stadium in algehele bevel van die Republikeinse magte in Wes-Transvaal, aan Snyman opgedra om sy laers van Mafeking weg te skuif ingeval hy nie daarin sou slaag om Mahon se opmars te stuit nie, maar die opdrag is nie uitgevoer nie.

Toe De la Rey se pogings om die Britte aan die Maloporivier te keer nie geslaag het nie, het Mahon Mafeking die volgende dag binnegery. Soos deur De la Rey voorspel het Mahon 'n dag later Snyman se laers aangeval. Op dié laat stadium moes die Boerestellings met soveel haas ontruim word dat die Creusot en heelwat ammunisie, Snyman se veldambulans, sy dokumente en telegraafuitrusting alles in Britse hande geval het.

Die nuus van die ontsetting is op die 18e om 21.00 per telegraaf na Londen gesein en 'n uur later is die Britse Hoofstad op horings geneem. Vreugdetonele wat slegs na die Eerste en Tweede Wêreldoorloë geëwenaar is, het hulle afgespeel. Die bewoners van Mafeking het egter min rede gehad om in die vreugde te deel. Baden-Powell se eie syfers het Britse ongevalle op 803 gestel. Hiervan het 82 blanke en nie-blanke vegtendes omgekom en was 186 gewond. Van sy 44 offisiere was 21 ongevalle. Teenoor slegs vier Blanke burgerlike ongevalle, het nie minder nie as 329 swartes die lewe gelaat. Amptelike Boere syfers dui op 29 burgers gedood, 81 gewond en 94 gevange geneem. Die grootste terugslag van Mafeking was sonder twyfel die verpletterende uitwerking van die mislukte beleg op die Republikeine se moreel.

Ten tye van die ontsetting is Baden-Powell as die grootste held van die oorlog in Engeland geroem, maar meer onlangse herevaluering van die Held van Mafeking kasty hom vir sy windmakery, die oordrewenheid van sy selfroem en ongevoelige behandeling van die burgerlikes, veral die swartes, van Mafeking.

(Uit 24 Veldslae en Slagvelde van die Noordwes Provinsie deur Gert van den Bergh, te kry by Lichtenburg Museum)