Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

LICHTENBURG EN DIE ANGLO-BOEREOORLOG 1899- 1902

VOORSPEL

Na die Jameson-eskapade van 1895/96 was daar 'n voortdurende onrustigheid onder die burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Dit was die tweede poging wat aangewend was om die Transvaal tot Britse gebied te dwing. Die ryk goudvelde was die sterk lokaas en die groot getal ontevrede vreemdelinge aan die Witwatersrand sou gewillige ondergrawers van die Boererepubliek wees. Allerlei klagtes en beskuldigings is teen die Republiek opgetower en die finale aanslag deur Groot Brittanje het reeds duidelik aan die horison kop uitgesteek.

Omdat Lichtenburg na-aan die wesgrens van die Zuid-Afrikaansche Republiek geleë was met Brits-Betsjoeanaland (Botswana) aangrensend, was die Wes-Transvalers ook die eerste om hulle land teen die vyand te verdedig. Teen die laaste helfte van 1899 het Britse magte aan die Transvaalse wesgrens begin saamtrek. Op 11 Oktober 1899 word genl. Piet Cronje wat in bevel van die westelike magte was, in kennis gestel dat onderhandelinge om vrede misluk het en dat 'n ultimatum aan die Britse regering oorhandig is. Die Lichtenburgers en Noordwes-Transvalers trek op, weswaarts, in die rigting van Mafeking (huidige Mafikeng). Koos de la Rey, L.V. vir Lichtenburg is aangestel as adviseur van genl. Piet Cronjé. Teen die aand van die 11de Oktober word De la Rey deur die generaal opdrag gegee om met 'n klein afdeling die volgende dag op te trek na Kraaipan, 'n stasietjie 40 km suid van Mafeking om 'n ammunisietrein daar voor te keer en tot oorgawe te dwing.

Teen die aand van die 12de was De la Rey en sy manne op weg na Kraaipan. Daardie oggend, teen dagbreek, word die eerste skote van die oorlog gevuur. 'n Paar Lichtenburgers het daarop aanspraak gemaak dat elk van hulle die eerste skoot geskiet het. Hulle was Hendrik Oberholster, Jaap van Deventer en Dirk van Deventer. Daar is ook ander wat op die twyfelagtige eer aanspraak gemaak het terwyl een van die historici, E.J. Weeber, na langdurige navorsing hierdie "eer" aan die luitenant Fred Townsend toegeken het.

Lichtenburg het skielik leeggeloop van al sy weerbare manne tussen sestien en sestig jaar. In 'n brief meld Lennie Mathews, jarelange onder-balju, dat sy broer, veldkornet Eddy Mathews, aangesê was om met vyftien man in die dorp agter te bly ter wille van die handhawing van wet en orde en die beskerming van die vrouens en kinders teen moontlike aanvalle deur vyandige inboorlinge. Onder hierdie manne was landdros J.H. Maartens, ds. H.J.L. du Toit, die landdrosklerk Christoph Schulenburg, die skoolhoof Gert van Wyk, dr. S. Kohn, die winkelier Gustav Anderholdt, die posmeester H.W. Milner en W.H. Langrish, die hotelier. Daar was ook 'n aantal bejaarde mans wat vanweë swak gesondheid en ouderdom in die dorp agtergebly het.

PLAASLIKE ROOIKRUISTAK GESTIG

Nadat die oorlog tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en Engeland 'n voldonge feit was, is daar oral in die twee Boererepublieke Rooikruistakke gestig. Dit was 'n noodsaaklikheid ter wille van die goeie versorging van gewonde en siek krygsmanne. In 'n brief gerig aan "Mev. Landdrost Maartens", gedateer 7 November 1899 te Pretoria, stel H.H. Sheppard, die waarnemende ere-sekretaris van die Transvaalse "Vereeniging het Roode Kruis van Genéve", die volgende persone aan as die plaaslike gemagtigde Rooikruislede:
Mej. E. Mathews, mej. De Necker, mej. G. Hamman, mej. A. Joubert,
mej. D. Joubert, mej. M. du Toit, mej. C. de la Rey, mev. G. van Wyk,
mej. L. Bosman, mej. W. Boshoff, mej. A. Pohl, mev. H. Malan,
mej. H. Wolfaardt, mej. Nita Maartens, mej. S. de Beer,
asook landdros J. H. Maartens en ds. H.J.L. du Toit. Die geneeshere was drs. C. Dunlop, S.Kohn en N. Scheineson wat in 1898 as distriksgeneesheer aangestel is. Daar mag miskien ook ander persone wees wat op die Rooikruistak gedien het. Ons weet dat die destydse welbekende mej. Suster Retief, van Doornfontein (sy was toe reeds 19), na die oorlog vir baie jare 'n aktiewe lid van die Rooikruis was. Mnr. Sheppard spreek dan sy spyt uit dat hulle geen armbande meer het om aan die persone te skenk nie en beveel aan dat mev. Maartens iemand moet nader om dit te maak. Aan elkeen van hierdie persone is 'n sertifikaat uitgereik wat bepaal dat die persoon "een werkende en geregistreerde lid van deze Vereniging is en gerechtigd is tot het teeken van onzydigheid en de privileges verbonden aan de Conventie van Genéve"

Bogemelde jongdames was almal dogters van bekende inwoners van Lichtenburg. Die aanstelling het in die teken van die tyd gestaan. Die goewermentskool wat so pas in 1898 in gebruik geneem was en op die hoek van Scholtzstraat en Krigelaan geleë was, is na die uitbreek van die oorlog in 'n hospitaal omskep. Nadat die dorp op 1 Junie 1900 deur Britse soldate beset is, is dit ook deur hulle as hospitaal gebruik.

Trouens, vroeg in 1899 het die regering van die Z.A. Republiek al besef dat 'n militêre botsing met Engeland onvermydelik was. Neerslag daarvan word ook in die argiefstukke van Lichtenburg gevind. In Januarie 1899 is dr. C. Dunlop na Lichtenburg gestuur en in Julie word navraag by die staat gedoen of hy wel al genaturaliseerd is. Teen Augustus organiseer hy eerstehulpkursusse op die dorp. 'n Hele aantal jong dames en vrouens verwerf later daardie jaar eerstehulp-sertifikate.

In Junie 1899 ontvang die landdros 'n groot hoeveelheid ammunisie: 24000 mauser- en 25000 martini-henrypatrone en in September 99000 mauserpatrone. In Desember van dieselfde jaar word 151 gewere aan sy kantoor gestuur, almal bedoel vir die kommandant van die gebied. Volgens mej. Sijbrandi, 'n destydse onderwyseres te Lichtenburg, is die skool as stoorplek vir allerlei voorraad wat vir die burgers bedoel was gebruik.

In Februarie 1900 is 'n verdere voorraad aan die landdros gestuur nl. 100500 mauser-, 20000 martini-henry- en 22002 leemetfordpatrone sowel as 16 sakke sout, 20 sakke boermeel en 'n hoeveelheid rosyne, tee en rys. Die skool is deur die plaaslike dokters omskep in 'n hospitaal vir behandeling van gewonde en siek burgers.

OORLOG IN ALLE ERNS

Na die skermutseling op Kraaipan is Koos de la Rey en sy manskappe terug na Polfontein waar genl. Cronjé voorbereidings getref het om teen Mafeking op te ruk. Op 19 Oktober word Koos de la Rey as veggeneraal aangestel en na Kimberley gestuur om die aankomende Britse magte daar te gaan probeer voorkeer, terwyl genl. Cronjé met 6000 man na Mafeking op pad was om die dorp te gaan beleër en tot oorgawe te probeer dwing.

Dit was teen die advies van genl. Koos de la Rey in omdat hy dit as tydverspilling beskou het. Dat veggeneraal Koos de la Rey reg was blyk uit die feit dat die beleg wat van 16 Oktober 1899 tot 17 Mei 1900 geduur het, uiteindelik deur genl. Cronjé afgelas moes word. Hierdie neerlaag van die Boere het groot gejuig in Engeland en elders laat losbars.

Op 22 Oktober neem genl. De la Rey Vryburg in besit en vertrek daarvandaan na Kimberley. Na genl. Cronjé se mislukte poging om Mafeking tot oorgawe te dwing, is hy ook met sy leërmag na Kimberley waarheen 'n groot Britse mag op pad was. Die Lichtenburgers was gevolglik in die brandpunt van die oorlog aan die westelike front.

Twee seuns van genl. Koos de la Rey was saam met hom. Hulle was Adaan, toe negentien, en Koos, net maar sestien jaar oud. Tydens die gevegte rondom Kimberley het 'n hele aantal Wes-Transvalers die hoogste tol betaal. Onder hulle was Adaan de la Rey en sy boesemvriend Hansie Coetzee, asook sy vader, veldkornet J.C. (Hansie) Coetzee, wat ‘n staflid van genl. De la Rey.

Berigte van dood en ernstige verwonding van Boerekrygers het vrouens en moeders van Lichtenburg sporadies bereik. Baie Lichtenburgers was in rou gedompel en 'n lanferkleed het voortdurend oor die eens vrolike ou dorpie gehang.

Mettertyd is die dorp ook gestroop van baie van sy gesinne deurdat hulle na konsentrasiekampe, veral by Mafeking en Klerksdorp gestuur is.'n Groot aantal Lichtenburgers het dwarsdeur die oorlog die wapen gedra, getrou aan volk en vaderland. Ongelukkig was daar ook die swakkelinge in hierdie gebied wat diensplig versuim het en selfs verraad gepleeg het. Op 'n stadium is P.F. Retief van Lichtenburg aangestel om lakse burgers wat by die huis gesit het, aan te spoor om die vegtende burgers in hulle stryd om die behoud van hulle gemeenskaplike vaderland te gaan help.

Baie Lichtenburgers is as krygsgevangenes na die uithoeke van die aarde gestuur. Ook daar het die dood baie van hulle getref en moes hulle in die vreemde begrawe word.

LICHTENBURG DEUR DIE VYAND BESET

VROUE - VREES EN VLUG

Tydens die oorlog was daar gedurig gerugte van gevalle waar rondlopende Swartmense vrouens en kinders op eensame plase gemolesteer het, groot en kleinvee en pluimvee gesteel en iewers heen weggedrywe het waar dit dan óf self geslag óf aan die Britse magte verkoop is. Op allerlei wyse het die Boervrouens hulle dan teen die treiteraars verdedig. Waar vuurwapens ontbreek het, is byle en kieries en selfs seepsoda as verdedigingswapens gereed vir gebruik gehou.

Die Pos-, Telegraaf- en Landdroskantore op Lichtenburg wat deur die Britte as hoofkwartier ingerig is. Die groot bloekomboom is as uitkykpos gebruik.
Baie Boervrouens het met hulle gesinne op die plase gebly. Hulle was daaraan gewoond om dikwels, wanneer die mans op jagtogte of militêre diensplig vir lang tye weg was, die boerdery waar te neem. Sulke huisgesinne was oral oor die distrik versprei. Een van die gesinne was dié van Andries Petrus du Preez wat hom in die laat agtiennegentigerjare op Elandsfontein, aangrensend aan Lichtenburg, kom vestig het. Sy broer Willem Morkel du Preez was toe reeds op Elandsfontein woonagtig en baie bedrywig as groenteboer. Hy het algemeen bekend gestaan as oom Willem, die groenteboer, wat die dorpsmark weekliks van groente voorsien het. Van sy nasate woon nog steeds hier.

Andries Petrus du Preez het toe die oorlog uitbreek, dadelik by die kommando aangesluit. Na etlike maande in die veld doen hy 'n ernstige siekte op. Hy keer terug huis toe waar sy vrou, tant Elsie, hom versorg. Een nag is daar 'n harde klop aan die deur. Toe tant Elsie die deur oopmaak staan een van hulle bediendes voor die deur. Hy sê daar is manne by die kraal wat skape en beeste van hom eis. So gaan hulle almal doodgemaak word. Siek soos hy was stap oom Andries met sy geweer na buite. Hy word dadelik gegryp, sy geweer word afgeneem en hy word daarmee oor die kop geslaan. Al die beeste en skape word uit die krale gejaag en hy word gedwing om saam met hulle te gaan, in die rigting van Rooigrond. Wonder bo wonder is hy nie doodgemaak nie. Die volgende aand kom hy doodsiek by die huis aan.

Dieselfde gebeur met die gesin van Barend Visser van die plaas Sooikraal. Haastig moes hulle uit hulle huise vlug toe 'n aantal vyandige Swartes hulle verdryf om hulle rooflus te bevredig. Die huis word gestroop en die vee gesteel. Laat die middag van 30 Mei 1899 kom hulle met leë hande in die dorp aan en soek skuiling by die pastorie. Ds. Du Toit en sy gade moes hulle van die nodige kos en slaapgoed voorsien. Daardie nag en 'n aantal nagte moes hulle in die konsistorie van die kerk deurbring. Ook Monty Pohl van Vlakplaas is deur die wettelose Swartes geterroriseer.

Die vrouens en kinders in die dorp het voortdurend in vrees en bewing verkeer weens die barbaarse vyandigheid van die rondlopende Swartes. Die oggend van 30 Mei 1900 word daar dringend aan elke bewoonde huis in die dorp geklop.

Mnr. Gert van Wyk, hoof van die skool, is een van die boodskappers. Alle gesinne word dringend in kennis gestel dat daar sterk sprake is dat 'n groot getal Swartes in die "fynbosse" noord-oos van die dorp bymekaar gekom het en dat sekere van die bevriende huisbediendes die gerug versprei dat die Swartes van plan is om die nag van die 30ste die dorp in te val om alle mans, vrouens en kinders te vermoor.

In haar dagboek beskryf mej. M. de Beer, destyds 'n onderwyseres en 'n dogter van J.J. de Beer, hierdie oorhaastige vlug van vrouens en kinders na die tans nog bestaande kerkgebou van die Ned. Geref. Gemeente.

Alhoewel die waarskuwing reeds voor middag alle inwoners bereik het het die "vlug" nogtans met groot ontwrigting gepaard gegaan. Sy skryf o.a.: "Genoeg beddegoed, want dit was koud, kos en klere en een en ander waardevolle artikels en dokumente, iets wat nie ruimte in beslag sal neem nie, sal geneem moet word, want wie weet wat vannag kan gebeur! Nog voor sononder sien jy ma's met kindertjies na die kerk toe kom. Elke huisgesin begin vir hom 'n plekkie af teskort. Die banke word paar-paar opmekaar gestapel. Een help die ander want die banke is swaar en die kindertjies is in die pad of huil. Alles word ingepak; kos, beddegoed, medisyne, trommeltjies, kissies. Slaapkans was daar uit angs en vrees nie ... ten minste nie vir die oues nie. Van die mans daar buite - hulle was maar net 'n paar - kom die bevel: "Nie ligte brand nie"! ... Hier en daar is daar 'n siek kindjie wat medisyne moet kry. Ander huil geweldig en 'n ander enetjie vra water of kos. Dit raas en huil en gesels en party moeders sing dat Baba kan slaap ... En so gaan 'n hele lange bange nag verby, gelukkig sonder dat een van die wagte nodig het om 'n skoot te skiet. Die rusteloosheid binne-in die kerkgebou het aan die wagters groter hoofbrekens veroorsaak as die vyand daar iewers buite tussen die fynbosse! 'n Paar bekommerde moedertjies het selfs vuurtjies aangeslaan om iets warms vir kermende kleutertjies te maak!

Die volgende oggend vroeg-vroeg streep moeders met hulle kleingoed huiswaarts. Daardie aand moes dieselfde veilige hawe weer opgesoek word. Baie gehoorsaam hierdie bevel, maar van die dapperstes verkies om in eie huisie die moontlike aanval in die duisternis van die nag tegemoet te gaan en verkies om in eie bed te slaap. Soos die vorige nag het ook hierdie nag sonder voorval verbygegaan.

Daardie middag storm 'n hele menigte Britse soldate op stywe galop Lichtenburg binne. Vrouens en kinders is verskrik. Nuuskieriges waag dit buite om die nuwe skouspel te aanskou. Nou is dit nie die Swartes nie maar die Rooibaadjies wat die dorp inval en beset. Landdros Maartens moet die sleutels van die landdroskantoor aan die Britse offisiere oorhandig. Die poskantoor word beset en so ook die skool op die hoek van Scholtzstraat en Krigelaan, die eerste ou kerkgeboutjie op Kerkplein en die kerk van die Ned. Herv. Gemeente in Burgersstraat langs Presidentplein. Die Union Jack word voor die landdroskantoor gehys.

Bevele word aan alle inwoners gegee om hulle stil te gedra en om nie op straat te verskyn nie.Voer vir die perde word opgeëis en veral groenvoer word haastig afgesny en aan hongerige perde gegee.

PREDIKANT GEVANG

Die middag op 1 Junie 1900 ry ds. Hennie du Toit met sy perdekar in die rigting van die huidige stasie met sy geweer by hom om sy koei in die veld te gaan haal. 'n Paar Engelse soldate kom hom teë.

Met 'n geweer by hom, wek hy dadelik agterdog by die Tommies. Hy word beveel om dadelik na die aanklagkantoor te gaan. Daar word hy vir 'n lang tyd ondervra waarna sy geweer gekonfiskeer en hy losgelaat word. Die volgende dag, Saterdag word hy weer aanklagkantoor toe ontbied, onder kruisverhoor geplaas en weer vrygelaat. Sondag kon hy sy gewone preke in die kerk lewer, maar daardie aand, pas na die diens, word hy deur 'n paar offisiere by die pastorie ingewag en aangesê om dadelik gereed te maak aangesien hy as krygsgevangene na Simonstad gestuur gaan word.

Mev. Du Toit met haar klompie kinders, agt van hulle, word agtergelaat.

Op 6 Junie word sy en haar kinders aangesê om die pastorie te verlaat om sodoende plek te maak vir 'n paar Britse offisiere. Sy betrek 'n klein ou huisie, aan Greeffstraat skaars honderd meter van die pastorie af. Verlof is later aan mev. (ds.) Du Toit gegee om na die Kaapkolonie te verhuis.

Terwyl ds. Du Toit as krygsgevangene in Simonstad was, het hy daar as prediker vir 'n paar duisend ander Boerekrygsgevangenes opgetree. Vier en twintig van die preke wat hy daar gelewer het is later in boekvorm gepubliseer onder die titel: "Aan de Rivieren van Babel". Na vyf maande is hy op parool vrygelaat om op Stellenbosch te gaan bly waar hy hom gereeld by die polisiestasie moes gaan aanmeld.

Na die oorlog het hy en sy gesin na Lichtenburg teruggekeer. Die pastorie was in 'n uiters haglike toestand, so ook die kerkgebou asook die ou kerkie wat deur die Engelse as magasyn gebruik was.

Nadat die Britte onder leiding van genl. Hunter, Lichtenburg op 1 Junie 1900 in besit geneem het, het hulle gekom en gegaan. Hulle het spoedig tot die besef gekom dat Lichtenburg van strategiese belang vir hulle militêre offensiefstelsel in Wes-Transvaal was. Vanaf November 1900 beset Britse magte die dorp permanent.

Mev. Nonnie de la Rey het teen die helfte van 1900 reeds haar plaas, Elandsfontein, verlaat a.g.v. veiligheidsredes en in hulle dorpshuis noord-aangrensend aan Ajam se winkel, gaan woon. Die winkel het op die perseel gestaan waar Volkskas vandag geleë is, op die hoek van Melvill- en Gerrit Maritzstraat.

Die Engelse afdeling op Lichtenburg het die dorp deeglik gefortifiseer, dele met doringdraad omhein,'n paar forte gebou en op plekke loopgrawe gemaak. 'n Paar ou reuse-bloekombome is as uitkyktorings gebruik. Die vrees het by hulle bestaan dat die Boere die dorp sou aanval om dit weer in eie hande te kry.

Nieteenstaande al die voorsorg het enkele burgers tog daarin geslaag om tydens die nagtelike ure die dorp binne te sluip om 'n haastige besoek by hulle gesinne af te Iê. Wanneer dit op een of ander wyse bekend geraak het, is daardie gesinne summier na 'n konsentrasiekamp toe gestuur.

Verskillende Engelse generaals het Lichtenburg in daardie tyd besoek, en soms 'n week of langer hier vertoef. Onder hulle was genl. Sir Archibald Hunter, genl. Douglas en Lord Methuen (Paul Sanford). Die Britse digter Rudyard Kipling het die skoonheid van die doringbome in 'n gedig besing. Die skrywer Rose Innes het die volgende van Lichtenburg geskryf:

"The town Lichtenburg is by far the prettiest of all I saw during my sojourn in South Africa. There is abundance of water, little streams in every street and lane, large trees and luxuriant vegetation".
Nadat Nonnie de la Rey met haar kinders haar plaashuis veriaat het, is die huis deur Britse soldate beset. Lord Methuen het persoonlik na haar pleitrede geluister en haar belowe dat daardie huis nie afgebreek of verbrand sou word nie. Op 'n keer het genl. Koos de la Rey 'n paar burgers gestuur om te gaan kyk of die huis nog staan. Hulle het tussen die fynbos nader gesluip en toe hulle die huis in sig kry, kom twee offisiere net die huis uitgestap. Die versoeking was groot. Die burgers Iê aan en skiet albei dood. Hierdie daad het daartoe aanleiding gegee dat Lord Methuen die huis later tot op die grond laat afbreek het.

Voordat die De la Rey-huis op Elandsfontein deur die Engelse afgebreek is, was 'n afdeling Britse soldate daar gestasioneer. Hulle was Paget's Horse, 'n gesofistikeerde klomp jong manne wat die oorloguitstappie na die Transvaal skynbaar geniet het. Blykbaar het die sporadiese leeglêery hulle begin verveel. Benewens krieket en ander ontspanningsbedrywighede waarmee hulle die tyd "far from home" probeer verdryf het, het hulle hulle ook op die skryfkuns begin toelé.

Een van die offisiere wat daar in die netjiese plaaswoning saam met Paget's Horse gebly het, was die Hertog van Connaught. Of hy die inspireerder was, of een van die offisiere, of dalk een van die gewone manskappe, weet ons nie. Maar hierdie manne het besluit om 'n eie koerantjie die lig te laat sien. Hulle het hulle koerantjie "THE COSSACK POST" genoem. Elf uitgawes het tussen 27 Februarie en 5 Junie 1901 verskyn, netjies gedruk en gebind, met 'n sierlike voorblad wat die De la Rey-huis en werf verbeeld. Dit is teen 3 pennies per eksemplaar verkoop.

Teen die helfte van 1901 is hierdie garnisoen terug Engeland toe waar die hele koerantjie in boekvorm uitgegee is. Ons Lichtenburgse museum is gelukkig om 'n eksemplaar van hierdie kosbare stukkie Lichtenburgiana te besit.

Blykbaar was hierdie koerantjie, of joernaal, die enigste van sy soort wat deur Britse soldate tydens hierdie oorlog in Suid-Afrika uitgegee is. Nadat Paget's Horse Elandsfontein verlaat het, is die De la Rey-huis tot op die grond gesloop.

Sien ook: Die Slag van Lichtenburg

Uit: Lichtenburg 1865 - 1985 deur A.D.Bosman, 1986