Lichtenburg: Oase van die Weste - Toeriste Inligting
Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Lichtenburg: "Oase van die Noordweste"

For English Text: click here

Algemene Inligting . . . (INFO SENTRUM / "DIAL-A-INFO" : Tel. 018-6320200, Fax. 018-6320100)


AKKOMMODASIE en EETPLEKKE

Lichtenburg is ongeveer 230 km wes van Johannesburg, op die hoofroete na Mmabatho. Dit is ongeveer 1 459m bo seespieël. Die klimaat is gesond en matig. Ryp kom in die winter voor met heerlike sonnige dae. Weens natuurlike waterbronne en uitgestrekte ruimtes, het dit nie alleen 'n bekoring van sy eie nie, maar is dit 'n ware oase in die ietwat dorre Noord Wes Provinsie..

HISTORIESE AGTERGROND
Lichtenburg is in 1873 deur kmdt. H.A. Greeff gestig. Die geskiedenis van die dorp is ook ineengevleg met die lewe van genl. De la Rey, wat nie alleen lid van die Volksraad vir Lichtenburg was nie, maar ook Assistent Kommandant Generaal van die Boeremagte en later, na Uniewording, ook senator. Na die noodlottige skietongeluk te Langlaagte is hy in Lichtenburg begrawe

NYWERHEDE
Nywerheidspersele met of sonder sylyngeriewe is beskikbaar vir vestiging van groot nywerhede. Vir die kleiner ondernemer is daar nywerheids- en kommersiële erwe van tot 12 000 vierkante meter beskikbaar. Pryse is vanaf R3,50 per m². Die dorp beskik oor talle fabrieke wat onder andere vloeistofkunsmis, dierevoedsel, landbouimplemente asook trekkers vervaardig. Twee van die grootste sementfabrieke in die suidelike halfrond naamlik Alpha en Blue Circle Sement asook die grootste kaasfabriek in die land nl. S.A. Clover, word ook hier aangetref.

BESIGHEDE
Die sentrale sakegebied bestaan uit ongeveer 150 kleinhandelondernemings, 30 finansiële instellings en ander diensleweringsinstellings. Winkel- en kantoorakkommodasie is ook redelik beskikbaar asook uitsoek besigheidserwe, aangrensend aan die sentrale sakegebied.

SPORT
Die Lichtenburg Motorklub bied gereeld motor-en motorfietswedrenne aan by die plaaslike renbaan. Die klub is geaffilieer met die S.A. Motorsportliggaam en welbekende renjaers neem deel aan wedrenne wat hier aangebied word. Die Dauth-Roodedam en die Eeufeesdam bied geleentheid vir hengel en die beoefening van watersport. 'n Interessante nege putjie gholfbaan bied ook 'n uitdaging aan die gholfgeesdriftige.

TOERISME

> AKKOMMODASIE en EETPLEKKE < . > Terug na begin van bladsy <

Saam met sy besondere historiese agtergrond en besienswaardighede, sy rustigheid en gematigde klimaat, behoort Lichtenburg definitief in die reisplan van die toeris ingesluit te word.

Die dorp beskik ook oor 'n Kultuur-historiese museum, ‘n Landboumuseum met 'n groot versameling antieke trekkers en ander interessante voorwerpe, asook ‘n nuwe Delwersmuseum.

'n Moderne openbare biblioteek en een van die grootste kunsgalerye in die platteland van Suider-Afrika, met kunswerke van gesogte S.A. kunstenaars, word aangrensend aan die Burgersentrum gehuisves. Kunswerke van Gregoire Boonzaaier, Irmin Henkel, Irma Stern, Louis Steyn, Walter Battiss, Dirk Meerkotter, Vader F. Claerhout, Bettie Cilliers-Barnard, Johannes Meintjes en die beeldhouer Hennie Potgieter is deel van die versameling.

UNIEKE WILDTEELSENTRUM (Toegang: R10 volwassenes, R5 kinders)
Gemsbokke Net 2 kilometer buite die dorp is 'n unieke wildteelsentrum wat bedryf word deur die Nasionale Diertuin van Suid-Afrika, waar wild soos die bedreigde addax, die dwergseekoei van Wes-Afrika en die Père David- en axis-herte van Asië geteel word. Witrenosters, blouwildebeeste, kwaggas, springbokke, gemsbokke en vele ander is in hul natuurlike staat te sien.

Die waterryke omgewing bied 'n paradyslewe vir talryke water- en ander voëls soos eende, bleshoenders, reiers, sekretarisvoëls en aasvoëls. Die Willie Marnewick-voëlverkenningspos word bestempel as een van die grootste van sy soort in die land en bied aan geesdriftige voëlwaarnemers die geleentheid om die volop voëllewe van nader te bekyk.

Diere wat plaaslik geteel word, word aan internasionale en plaaslike dieretuine en wildplase beskikbaar gestel. Belangstellendes kan ook lid van die Vriende van die Dieretuin Vereniging word. Die Wildteelsentrum is ongeveer 4 500 ha groot en braaigeriewe is beskikbaar waar besoekers rustig kan verkeer. Nagtoere word op aanvraag gereel (tariewe: R25 vir volwassenes, R10 vir kinders).

Selfsorgeenhede in die Sentrum is beskikbaar (tariewe per nag: volwassenes R95, kinders R45). Vir meer inligting, kontak André Matthee by tel.(018) 6322818, sel.0833 268721, faks.(018) 6321535.

MONUMENTE
a) Op die genl. De la Reyplein voor die Lichtenburg Stadsaal:

1) ‘n Tweekeer lewensgrootte standbeeld van Genl. De La Rey op sy perd Bokkie. Hierdie kunswerk is deur 'n seun van Lichtenburg, Hennie Potgieter, geskep.

2) Die Burgermonument met name van 87 burgers van Lichtenburg distrik wat tydens die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het.

3) Afrikaanse Taalmonument, deur Hennie Potgieter, opgerig in 1975 tydens die Taaleeufeesjaar.

4) Gedenktekens opgerig tydens die 1938 - Simboliese Ossewatrek.

b) Die Greeff-gedenkteken op Witklip 10 km noordoos van Lichtenburg ter nagedagtenis van H.A. Greeff.

c) Genl. Koos de la Rey se graf in die Lichtenburgse begraafplaas. 'n Borsbeeld van brons deur Fanie Eloff is op die graf aangebring.

d) 'n Voortrekker-monumentjie is op Genl. De la Rey se plaas Elandsfontein opgerig ter nagedagtenis aan die ontslape leier.

e) Op die Plaas Elandsputte, ongeveer 20 km ten noorde van Lichtenburg is 'n ou historiese beesdip wat reeds tot nasionale monument verklaar is.

f) Die slagveld op die plaas Gruisfontein is 24 km oos van Lichtenburg. 'n Monument ter nagedagtenis van die burgers wat gesneuwel het is daar opgerig.

HISTORIESE GEBOUE
I) Die NG Kerk in Gerrit Maritzstraat (wat tot Nasionale gedenkwaardigheid verklaar is) is opgerig in 1890.

2) Die Landdroskantoor dateer uit die jare 1895/96.

3) Genl. De la Rey-huis is 3 km wes van die dorp. Dit was gedurende die Anglo-Boereoorlog afgebreek en in 1902 op dieselfde fondamente herbou.

4) Die woonhuis van H.A. Greeff op Manana is ongeveer 10 km oos van die dorp geleë en in 1875 gebou.

5) 'n Ou plantasiehuis wat behoort het aan die vader van droëlandboerdery, Kol. H. Du Toit, is in 1910 gebou en staan ten suide van die dorp.

DIE DELWERYE
Grasfontein Diamantdelwerye 1927Sowat 20 km noord van Lichtenburg strek die diamantdelwerye van oos na wes oor 'n afstand van omtrent 35 km waar die grootste diamantstormloop ter afpenning van diamantkleims, toe ± 25 000 delwers gehardloop het om hulle kleims af te pen, plaasgevind het gedurende 1927. Die grootste suiwer rooi diamant ter wêreld is hier gevind. Daar is vandag nog enkele delwers in die gebied.

BRANDENDE VLEI
Die vlei wat Lichtenburg in twee verdeel is ook uniek in die sin dat die dik lae turf die produk van vleigewasse oor miljoene jare en die voorproduk van steenkool, vir jare onder die oppervlakte gebrand het en 'n groot gevaar vir mens en dier was. Slegs 'n paar soortgelyke plekke kom in die wêreld voor. Vandag is die vleiwater op drie plekke opgedam en vorm damme waar watersport beoefen word. In 1984 het die vlei weens die droogte weer plek-plek begin brand.

WONDERGAT
Ongeveer 40 kilometer vanaf Lichtenburg op die Mafikeng pad is wondergat, 'n sinkgat van baie eeue gelede. Die wondergat is die diepste duikgat in die binneland van Suid Afrika waar diepteduik beoefen kan word. Instrukteurskursusse word hier aangebied en dit is een van die populêrste skuba duikplekke. Volgens duikers het niemand nog duik ervaar alvorens hy in die Wondergat afgedaal het nie.

AKKOMMODASIE en EETPLEKKE

>Toerisme-inligting < . > Terug na begin van bladsy < . > E-pos vir nog inligting <