|
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-mail e-pos |
Tydens die oorlog is sowat 27 000 Boere gevang waarvan ongeveer 24 000 in krygsgevangenekampe oorsee beland het. Altesame 576 Boere en seuns uit Lichtenburgdistrik was onder dié krygsgevangenes. Dit sluit nie die aantal vroue en kinders in wat konsentrasiekampe toe gestuur is nie.
Volgens ‘n verslag van 1898 was daar ongeveer 700 Blankes in Lichtenburg self woonagtig, en sowat 7000 Blankes in die distrik, met ongeveer net soveel Swartes.
|
|---|
Die eerste krygsgevangene uit Lichtenburg was Jan Jacobus Nel (26) van Zoopersfontein wat met die slag van Modderrivier gevang is. Dit was dieselfde veldslag waarin genl.Koos de la Rey se seun Adaan noodlottig gewond is. Nel was ook die enigste Lichtenburger wat in 1899 gevang is.
Daar was net drie Lichtenburgers onder die 4 080 burgers wat saam met genl.Cronjé by Paardeberg op 27 Februarie 1900 gevang is. Hulle was Carel Johannes de Wet (21) van Rietfontein, Marthinus P.W. Naudé (22), en Andries Johannes du Plessis (29) van Zoutpan.
Die jongste krygsgevangene uit ons distrik was Barend Jooste van die plaas Vaalkop, ‘n skrale 7 jaar oud! Twee negejarige seuns, Jacobus Johannes van Wijk en Willem Jooste, is ook terselfdertyd gevange geneem, kort voor die einde van die oorlog op 11 Mei 1902, op die plaas O'Rieliespan, naby Vryburg. Hulle was deel van ‘n groot groep Boere (102 net uit Lichtenburg distrik alleen) wat met hierdie laaste groot Britse "vee-aksie" in Wes-Transvaal deur die Britte gevang is.
|
|---|
Nog jong seuns wat hier gevang is, was Petrus Johannes Rautenbach van die plaas Borneo (10 jaar), Johannes Hendrik Jooste (11 jaar) van die plaas Vaalkop, en drie 12-jarige seuns, Arie Willem Smit van Rietspruit, Willem Johannes Lemmer van Groenfontein en Johannes Zacharias van Doornlaagte. Vrede is egter verklaar voordat hierdie seuns na ‘n konsentrasiekamp gestuur kon word.
Die jongste Lichtenburg-seun wat in ‘n konsentrasiekamp beland het, was die 10-jarige Herman Barend Putter van die plaas Putfontein. Skynbaar is Herman saam met twee van sy broers, Hendrik Stefanus en Johannes Gerhardus (onderskeidelik 12 en 14 jaar oud), en sy oupa Johannes Putter (61) op 7 Januarie 1902 op Kalkfontein gevang, en na Indië gestuur.
Altesame 56 seuns uit Lichtenburg-distrik onder die ouderdom van 16 jaar is as krygsgevangenes aangekeer. Volgens die krygswet van die ZAR was slegs manspersone tussen die ouderdom van 16 en 60 oproepbaar vir militêre diens. Hierdie jong seuns het egter deel uitgemaak van die penkoppe. Penkoppe was normaalweg seuns tussen die ouderdom van 14 en 19, en hulle het meestal as vol kommandolede aangesluit, hoewel baie van die jongeres vir die take soos perde oppas en kosmaak gebruik is.
Een van die redes van die Britte om sulke jong kinders krygsgevange te neem, is omdat hulle germeen dat as ‘n Boerseun groot genoeg was om ‘n geweer vas te hou, dan sal hulle op die Engelse skiet.
Die eerste Boerseun uit Lichtenburg onder die ouderdom van 16 is op 23 Augustus 1900 gevang, en hy was Jasper Antoni Hoegh (15) van die plaas Brakpan, en hy is Bermuda toe gestuur.
|
|---|
Die oudste Krygsgevangene uit Lichtenburg was Lucas C.J. van Vuuren van die plaas Leonard, wat deel was van die groep Boere wat op O'Rieliespan op 11 Mei 1902 gevang is. Hy het ook die Konsetrasiekamp vrygespring deurdat die oorlog kort daarna beëindig is.
Abraham Johannes van Aardt van die plaas Rietkuil was op 74 die oudste uit Lichtenburgdistrik wat konsentrasiekamp toe gestuur is, en wel na Indië op 6 Maart 1902. Hy is deur die Britte gevang by Doornbult op 12 Februarie 1902.
Altesame 30 Lichtenburg-Boere oor die ouderdom van 60 jaar is krygsgevange geneem, van wie sewe in Mei 1902 gevang is en dus nie weggestuur is nie.
Petrus Johannes Jansen van Rensburg van Rietdraai (64) is die eerste "Oupa" uit ons distrik wat gevang is toe hy op 16 Mei 1900 op sy plaas gevang is. Hy is egter Mafeking toe gestuur, en nie oorsee nie.
Die omstandighede in die Krygsgevangene-kampe was strate beter as dié van die konsentrasiekampe in Suid-Afrika waar oorwegend vroue en kinders aangehou is. Van die 577 burgers wat in die vreemde gesterf het, was net ses uit Lichtenburgdistrik.
In die kamp op Ceylon, Colombo, is Petrus Johannes van Biljon van die plaas Leeuwpan op 8 April 1902 aan "pernisieuse Anemie" oorlede. Hy was 47 jaar oud en was op 24 Oktober 1900 op Zeerust gevang. Hy is in die Kanatta-Begraafplaas op Colombo begrawe.
In Indië is drie Lichtenburgers oorlede, naamlik Nicolas Cornelius Jacobus Classen van Bultfontein, Herculaas Albertus Coetzee van Grootfontein en Philippus A. Badenhorst van Doornlaagte.
|
|---|
Nicolas Classen (67) is op 12 Augustus 1902, meer as twee maande ná vredesluiting, op Madras aan "hartsiekte" oorlede en is in Wellington Regeringsbegraafplaas begrawe. Hy was gevang op Brakpan op 17 Februarie 1901, en met die Roslin op 11 April 1901 oorsee gestuur.
Herculaas Coetzee is op 7 April 1901 op sy plaas gevange geneem en na Madras gestuur. Hy is in die ouderdom van 63 in die kamp Trichinopoly oorlede aan "Enteritus", op 3 Desember 1901. Sy graf is in die Weslyaanse begraafplaas.
Philippus Badenhorst (40) is aan hittesteek oorlede in Khandema op 10 Julie 1902, Indië, en is te Kasauli begrawe. Dit is aan ons onbekend wanneer en waar hy gevang is.
Op St.Helena lê twee Lichtenburgers begrawe, albei in die Knollcombe-begraafplaas. Albei van hulle is op Elandsputten op 9 November 1900 gevang, kort na die Britte Lichtenburg permanent beset het. Hulle was Hendrik Buys en Gerrit Venter.
Hendrik Willem Johannes Buys van die plaas Tweebosch (vandag Sannieshof-distrik) is op 27 Desember 1900 oorlede op die ouderdom van 21. Die oorsaak van sy dood word aangegee as "Meningitis".
Gerrit Stefanus Venter (31) van Rietkuil is op 27 Mei 1902, 4 dae voor vredesluiting, aan "Tifoïede Koors" oorlede.
Een krygsgevangene op Bermuda, ene R.J. Swanepoel van Lichtenburg, het meer as 20 jaar gevat om oortuig te word om wel die Eed van Oderdaanskap aan Brittanje te onderteken en so terug te keer na Suid-Afrika. Dit was moontlik Johannes Swanepoel van die plaas Zoetmelksvlei wat op 24 Maart 1902 op Vaalbank gevang is. Toe hy terugkeer, was dit al die Unie van Suid-Afrika en ná die Eerste Wêreldoorlog!
Ten spyte van die hoë getal krygsgevangenes, was daar volgens ‘n Britse inteligensieverslag van Mei 1902, nog meer as drie honderd burgers uit die distrik saam met Genl. De la Rey in die veld. Voorwaar ‘n prestasie!
|
© Copyright: Lichtenburg Museum, 1998, 1999. All rights reserved. Permission to use, copy and distribute documents and related graphics available from this address: museum@lichtenburg.co.za
Web Pages designed and compiled by Jan Schutte, Lichtenburg Museum
|
|---|