Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Slag van Kraaipan 12-13 Oktober 1899 - Eerste geveg van die oorlog

deur J.H. Breytenbach

Met die uitbreek van die oorlog op 11 Oktober 1899 was die burgers (ongeveer 6000 man) onder opperbevel van genl. Pieter Arnoldus Cronjé as volg gelaer:

Genl. Cronjé se hooflaer was op Polfontein, waar die Regering se finale instruksies
,,den vijand aan te vallen waar gij die zult mogen aantreffen, hem te bestrijden en al datgene te doen wat gij zult doen en noodig oordeelen om de onafhankelijkheid dezer Republiek te handhaven en te onderhouden"
om 8.30 die aand van die 11de deur Neel Maartens - wat dit per rywiel van Lichtenburg af gebring het - aan hom oorhandig is, juis terwyl die burgers byeen was vir die aandgodsdiens. Die godsdiensoefening is daarop met 'n kort gebed beëindig, sodat daar onmiddellik tot militêre aksie oorgegaan kon word.

Genl. Cronjé se eerste oogmerk was om die Britse troepeversamelings langs die Transvaalse westelike grens - in die eerste plek dié te Mafeking, waar daar, volgens die inligting van die Transvaalse Regering, sowat 2,000 man gekonsentreer was - te isoleer en uit te wis. Binne 'n halfuur na die ontvangs van die Regering se instruksies het sy kommando's begin te ontplooi. Oor hoe daar opgetree sou word, is reeds op 3 Okt. 1899 finaal deur die krygsraad beslis, wat neergelê het dat, by die uirbreek van die oorlog, die kommando's te Bultfontein Mafeking aan die noordekant moes isoleer, terwyl die kommando's te Valleifontein en Polfontein dit aan die suidekant moes doen. Daar kon dus sonder verwyl tot aksie oorgegaan word.

Die geveg by Kraaipan

Om 9 nm. het die eerste kommando van 800 man, bestaande uit 200 berede manskappe uit elkeen van die veldkornetskappe Lichtenburg, Boven-Schoonspruit, Gatsrand en Onder-Schoonspruit, onder die bevel van genl. J. H. de la Rey vertrek, met die opdrag om suidwaarts op te ruk na 'n punt in die nabyheid van Moshettestat, om 'n Engelse troepemag van 1,000 man wat, volgens berigte, aldaar op 'n spoorwegstasie gestasioneer was, te gaan beveg en die spoorweglyn op te breek.

Triomfantlike Boere na die slag van Kraaipan
De la Rey het die taak om die vyandelike gebied binne te trek, met weersin onderneem, maar hy het besef dat dit nie verhelp kon word nie, en deurgedruk tot op Kraaipan, op die hoofspoorlyn tussen Mafeking en Vryburg, waar hy om 3 nm. die 12de eangekom het. Van die 1000 troepe wat hulle daar verwag het, was daar geen spoor nie, en nadat hulle die spoor 'n halfmyl aan albei kante van die stasie opgebreek en die telegraafdraad geknip het, het die kommando dus gaan rus, met die agterlating van slegs 'n wag by die spoorlyn.

'n Lang rus na die vermoeiende rit van die vorige nag was hulle egter nie beskore nie.

Gedurende die middag van 11 Okt. 1899 het die Britse bevelvoerder in Mafeking, kol. R. S. S. Baden-Powell, 'n gepantserde trein suidwaarts gestuur om twee seweponderkanonne wat uit Kimberley aan hom gestuur sou word, op Vryburg te gaan afhaal en na Mafeking te bring. Die trein wat die kanonne uit Kimberley na Vryburg moes vervoer, het laasgenoemde stasie egter, weens onvermydelike vertraging, eers die aand van die 12de bereik. Die gevolg was dat die gepantserde trein wat deur Baden-Powell uitgestuur is, nie voor die aand van die 12de van Vryburg af kon wegkom nie - d.w.s. nadat die Boere die spoorweglyn by Kraaipan verniel het.

Luit. R. H. Nesbitt, bevelhebber van Baden-Powell se gepantserde trein, die Mosquito genoem, is reeds die middag om 3.15 deur die Vryburgse magistraat in kennis gestel dat groot getalle Boere op die spoorlyn tussen Kraaipan en Madibogo gewaar is, en van die vernietiging van die telegraafverbinding, wat dit vir hom onmoontlik gemaak het om met Baden-Powell in aanraking te kom. Daaraan het Nesbitt hom egter nie gesteur nie. Die vorige aand, toe hy per telegraaf aan Baden-Powell gerapporteer het dat die kanonne eers die aand van die 12de op Vryburg sou aankom, het laasgenoemde hom geantwoord dat die reëlings van die 11de vir die 12de van krag sou bly. Hy was dus vasbeslote om, in opvolging van die instruksies van die 11de, na Mafeking toe te probeer deurdruk. In dié instruksies het duidelik gestaan:

"It is possible that attempts may be made to stop you. You must do your best to get through, or connect with us if in difficulties, when another armoured train can probably be sent ro your assistance",
en hy kon dus moeilik in die lig hiervan in Vryburg bly.

Nadat hy 'n spoorweginspekteur - ene Hensell - en vyf ploeë spoorwegwerkers opgelaai het om, waar nodig, herstelwerk aan die lyn te doen, het hy Vryburg om 6.45 nm. verlaat en noordwaarts gegaan, begelei deur'n gepantserde lokomotief, wat op 'n kort afstand voor sy trein uit gestoom het. By Madibogo-pan is hy deur sers. Matthews van die Kaapse Polisie verwittig dat die lyn sowat 10 myl verder, net ten suide van Kraaipan, deur die Boere verbreek is, wat oor artillerie beskik het, en gewaarsku om nie verder te gaan nie. Ook op dié waarskuwing het hy geen ag geslaan nie en, nadat hy nog 'n vergeefse poging aangewend het om vanaf Madibogo met Baden-Powell in telegrafiese verbinding te kom, aan sy masjiniste opdrag gegee om teen 'n spoed van hoogstens twee myl per uur voort te beweeg, sonder egter enige lig te vertoon.

Kort voor 10 nm. het die gepantserde gidslokomotief, wat 'n paar honderd tree voor Nesbitt se trein beweeg het, ontspoor op die plek waar die Boere die spoor opgebreek het. Vir Nesbitt, wat onmiddellik deur Flowerday, masjinis van die ontspoorde lokomotief, daarvan verwittig is, was daar meer as voldoende tyd om die Mosquito te laat teruggaan. In plaas daarvan het hy die trein egter laat voortstoom tot by die ontspoorde lokomotief, en die spoorwegwerkers aan die werk gesit om die lyn te hetstel en die ontspoorde lokomotief daarop terug te plaas."

Terwyl hulle hiermee besig was, het die burgers, wat deur die geraas van die trein en deur die wagte gewek is, geskikte stellings links en regs van die spoor ingeneem, wat hulle nou ook agter die trein opgebreek het, ten einde seker te wees dat dit nie ontsnap nie. Toe, teen 10.45 vm., het vk. J. C. Coetzee die eerste skoot van die Tweede Vryheidsoorlog afgevuur en daarmee aan die burgers die sein gegee om die geveg te begin, waarop hulle onmiddellik gereageer het."

Die Engelse het die vuur onmiddellik met grof- en kleingeskut beantwoord, dog sonder merkbare effek, en spoedig was hulle genoodsaak om skuiling in die pantserwaens te soek. Op dié stadium is Nesbitt in die mond gewond en het die bevel op korp. Williams oorgegaan, wat bevel gegee het dat daar dadelik teruggestoom moes word. Die vuur van die Boere was egter so effektief dat daaraan geen gevolg gegee kon word nie. Nie alleen is die masjinis, Booth, gewond nie, maar die stoompyp van die trein is sodanig deur Mauserkoeëls beskadig dat die rem nie losgemaak kon word nie.

Solank dit nag was, het die Engelse daarin geslaag om hulself te handhaaf, dog toe die dag aanbreek en kapt. Van der Merwe - wat die kommando met vier veldstukke gevolg het - die trein op 2 000 treë afstands onder kanonvuur begin neem het, was dit met die Engelse gedaan. Reeds met sy derde bom het hy die stoomketel getref, waarop die bemanning van die trein die wit vlag gehys en hulle aan die Boere oorgegee het.

Hoe groot die bemanning van die trein was - wat almal, behalwe die masjinis, in Boerehande geval het - is uit die onderskeie bronne nie duidelik nie. Volgens genl. Cronjé se amptelike verslag van 15 Okt.1899 ,,bleek het dat er 9 blanken en verschillende gekleurden gewond waren en plus minus 26 gevangenen de welke heden namiddag in het hoofdlager gebracht is." Voorts het die hele vrag van die trein, wat bestaan het uit drie kanonne, sowat 30 Lee-Metfordgewere, enige kiste Lee-Metfordpatrone, liddietbomme, volle, geopende en halwe kiste dum-dumpatrone, verskillende kiste dinamiet, asook draad en ander materiaal en gereedskap vir die herstel van telegraaf- en spoorlyne, in die hande van die Boere geval. Aan Boerekant was daar geen verlies te betreur nie.

Die verbinding tussen Mafeking en die Suide was nou afgesny en daarmee 'n begin gemaak om die dorp aan die suidekant in te sluit.

(Uit Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog 1899 - 1902 I , p.386-391,deur J.H. Breytenbach)