|
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-mail e-pos |
Jacobus Herculaas de la Rey is op 22 Oktober 1847 op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg gebore. Hy was die sesde kind van Adrianus Johannes Gysbertus de la Rey en sy vrou Adriana Wilhelmina, gebore van Rooyen. Kort na die slag van Boomplaas in 1848 verhuis sy ouers na die plaas Welverdiend in die huidige distrik Wolmaransstad.
De la Rey het weinig formele onderwys ontvang, maar die veldskool, sy ouers se toegewyde aandag en sy hoë intelligensie het vir ‘n goeie vorming gesorg. Na die ontdekking van diamante het sy ouers na Kimberley verhuis, waar die jong De la Rey met een skotskar en vier osse as begin, later ‘n suksesvolle transportryer geword het.
|
|---|
Die De la Reys vestig hulle op sy skoonpa (Hendrik Greeff - stigter van Lichtenburg) se plaas, Manana (Lichtenburg), waar Koos so vooruit boer dat hy spoedig die plaas Elandsfontein net buite Lichtenburg aankoop, waar hy tot met sy dood sou woon. As transportryer, landmeter en naturellekommissaris doen hy mettertyd ‘n intieme kennis op van die Wes-Transvaalse veld wat baie sou bydra tot sy latere sukses as bevelvoerder in die Tweede Vryheidsoorlog.
Gedurende die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881 neem De la Rey onder die bevel van genl. Piet Cronjé deel aan die beleg van die Britse fort op Potchefstroom en in 1885 word hy tot kommandant vir Lichtenburg verkies. In 1893 word hy lid van die Eerste Volksraad, waar sy kalm en regverdige geaardheid sterk invloed uitgeoefen het. As vurige patriot was die volkswil vir hom van groot belang.
Anglo-Boereoorlog
Op 27 September 1899 het kmdt.-genl. Piet Joubert vir De la Rey as adviseur van genl. P.A. Cronjé in die Westelike front aangestel. Genl. Cronjé en De la Rey het egter van die begin af verskil t.o.v. die strategie wat gevolg moes word. Vir De la Rey, wat gekant was teen die Anglo-Boereoorlog, was dit ‘n moeilike taak om vir die eerste skote verantwoordelik te wees toe hy opdrag gekry het om by Kraaipan ‘n gepantserde trein te ontspoor. Op 12 Oktober 1899 het hy daarin geslaag om 26 Britse soldate gevange te neem, asook 3 kanonne, ‘n aantal gewere en heelwat ammunisie.
Cronjé en De la Rey het daarna ‘n ernstige meningsverskil gehad oor dir beleg van Mafeking. De la Rey het die beleg teengestaan en is ook later korrek bewys. Op 19 Oktober 1899 is De la Rey tot veggeneraal benoem met die opdrag om Kimberley te beleër. Met die slag van Graspan (Rooilaagte) op 25 November l899 het genl. De la Rey vir die eerste keer teen lord Methuen te staan gekom, by welke geleentheid die Boere uit hulle stellings verjaag is. Die slag van Modderrivier, wat drie dae later plaasgevind het, het De la Rey as ‘n persoonlike terugslag ervaar. Hy is self in die skouer gewond en sy oudste seun, Adriaan, het tydens die geveg gesneuwel.
Magersfontein
Om Cronjé van sy sienswyse t.o.v. die taktiek wat by Magersfontein gevolg moes word, te oortuig, het De la Rey vir president M.T. Steyn oorreed om die Wesfront te besoek. Die gevolg was dat Cronjé die plan goedgekeur het en die burgers het in versteekte loopgrawe tussen 150 en 200 meter voor die koppies stelling ingeneem. Genl. De la Rey was egter nie self met die slag van Magersfontein op 10 en 11 Desember 1899 teenwoordig nie, maar het ‘n paar dae te vore na Riverton, noord van Kimberley, vertrek om van sy skouerwond te herstel. President M.T. Steyn het na die oorwinning vir De la Rey gevra om na die Modderrivierop te ruk om Cronjé te help.
Na die oorgawe van Cronjé by Paardeberg op 27 Februarie 1900, het De la Rey tevergeefs by Abrahamskraal probeer om Roberts se opmars na Bloemfontein te stuit. Gedurende Mei 1900 het De la Rey en Roberts weer eens teenmekaar geveg tydens die slag van Doornkop, net wes van Johannesburg.
Krygsvernuf
Tydens ‘n beplanningsbyeenkoms te Balmoral gedurende Junie 1900, is dit aan genl. De la Rey opgedra om Wes-Transvaal van die Britte te herwin. Op 11 Julie 1900, het hy dan ook begin met die herlewingsfase toe hy kol. H. Roberts by Silkaatsnek verslaan het. Verskeie burgers wat reeds
die wapen neergelê het, het daarna weer by De la Rey aangesluit en is veral op geïsoleerde Britse eenhede toegespits. Dit was vir genl. De la Rey ook belangrik om weer die Boeregesag in die hele Wes-Transvaal te laat geld en gevolglik het hy o.m. landdroste vir die gebied aangestel en ‘n doeltreffende militêre reorganisasie van stapel gestuur.
Op 3 Desember 1900 is ‘n waardevolle slag geslaan, toe 126 waens met klerasie, stewels en Kerslekkernye van die Britte gebuit is. Dié sukses is opgevolg deur ‘n oorwinning tesame met genl. Beyers se magte oor genl.Clements op 13 Desember 1900 by Nooitgedacht. Die amptelike Britse verliese was 638 terwyl aan Boerekant 17 gedood en 61 gewond is. De la Rey se uitmuntende vegmetodes en krygsvernuf het in laasgenoemde twee veldslae duidelik na vore getree. Sy uitstekende beplanning, verkenning en goeie kennis van die terrein, asook snelheid van aanval en dus die verrassingselement, het baie goeie vrugte afgewerp.
De la Rey het sy burgers ook in drie groepe verdeel om daarmee die vyand te omsingel en ook van ‘n doelbewuste "vlugmetode" gebruik gemaak, wat dan ook as "vlug vol moed" bekend gestaan het. De la Rey het verskeie kere die vyand agter hom aan laat jaag om dan blitssnel om te swaai en op ‘n geïsoleerde flank of kamp toe te slaan.
De la Rey het die hele westelike front in kleiner kommando's verdeel en self die Rustenburg- en Krugersdorpkommando's onder sy toesig geplaas. In 1901 is verskeie Engelse bevelvoerders o.a. Methuen, Dixon, Cunningham en Kekewich gestuur om De la Rey vas te trek, dog sonder enige sukses. Dit was dan ook gedurende hierdie tydperk dat genl. De la Rey met sy beroemde stormjaagtaktiek begin het en die vyand groot verliese toegedien het. Die burgers het die kuns verfyn om in ‘n stormloop vanuit die saal te skiet i.p.v. af te klim. Een van die groot oorwinnings wat De la Rey by Ysterspruit behaal het op 25 Februarie 1902, was ‘n duidelike bewys van die sukses wat hy met dié taktiek behaal het en tereg aan hon die naam "Leeu van Wes-Transvaal", besorg het.
Die slag van Tweebosch op 7 Maart 1902 het die kroon gespan op De la Rey se bekwaamheid as ruitergeneraal. Opmerklik is dit dat De la Rey wat vir die eerste skote van die Anglo-Boereoorlog verantwoordelik was, ook tydens hierdie laaste slag die Boeremagte aangevoer het.
Lord Methuen is tydens die slag van Tweebosch gewond en deur De la Rey gevange geneem. Genl. De la Rey het egter vir Methuen vrygelaat sodat hy beter mediese behandeling kon ontvang, ‘n daad waarmee hy ‘n groot indruk op die buitewêreld gemaak en ook ‘n lewenslange vriendskapsband met Methuen geknoop het.
Vrede
Die aanvanklike vredesvoorwaardes was vir De la Rey onaanvaarbaar, maar tog was dit hy wat met ‘n kort rede op 29 Mei 1902 die burgers en o.a. ook vir genl. C.R. de Wet oorreed het om die wapen neer te lê. Hy het gevoel dat sy kommando's sou kon voortgaan maar dat die res van die land se toestand te swak was. Hy het o.a. gesê:
"Hier word van geloof gepraat; wat is geloof? Geloof is: Heer, laat U wil geskied; nie my wil om oorwinnaar te wees nie."Die aand van 31 Mei 1902 is hy dan ook een van die medeondertekenaars van die Vrede van Vereeniging.
Gedurende die oorlog het De la Rey se vrou, Nonnie, hom op besondere wyse bygestaan. Tydens die eerste fase het sy hom dikwels op kommando besoek en vanaf 1 Desember 1900 het sy in noue kontak met hom gebly toe sy en die kinders vir 19 maande in die veld rondgeswerf het.
Siener van Rensburg het ook ‘n groot invloed op De la Rey gehad. Daar word selfs beweer dat Koos de la Rey hom voor elke geveg geraadpleeg het. In die beoordeling van sommige van De la Rey se optredes gedurende die oorlog kan van Rensburg se invloed wel gesien word, aangesien dit ‘n element van naïwiteit verraai wat nie met genl. De la Rey se persoonlikheid gestrook het nie.
Gedurende die tweede helfte van 1902 is De la Rey saam met genls. Botha en De Wet na Europa om fondse in te samel vir die heropbou van die gewese republieke. In 1903 is genl. De la Rey ook na Indië gestuur om ‘n aantal Boerekrygsgevangenes wat nie die eed wou aflê nie daartoe te oorreed.
Ná die Oorlog
Na die vrede het die De la Reys hulle op die verwoeste plaas net buite Lichtenburg gevestig en dit weer van vooraf opgebou. Die oorlog het egter sy tol geëis en teen 1907 was reeds ses van sy twaalf kinders oorlede.
Koos de la Rey het nie aktief aan die politiek deelgeneem nie, maar was wel lid van die Het Volk-party en ‘n ondersteuner van genl. Louis Botha. In 1908/09 is hy tot lid van die Transvaalse afvaardiging by die Nasionale Konvensie verkies. Hy is daarna tot senator benoem en was ook ‘n medestigter van die Nasionale Party. In 1913 het ook hy tevergeefs probeer om die breuk tussen Botha en Hertzog te heel.
In 1914 is De la Rey in bevel van die regeringsmagte tydens die staking in Johannesburg geplaas. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in dieselfde jaar kon De la Rey hom nie met die besluit van genl. Botha vereenselwig nie. Om vir Engeland ‘n aanval op Duits-Suidwes-Afrika te loods, was te veel gevra en hy besluit om ‘n vergadering van die rebelle in Potchefstroom by te woon. Dieselfde dag wat genl. Beyers as Kommandant-generaal van die Aktiewe Burgermag bedank het, het De la Rey saam met genl. Beyers per motor vanaf Pretoria na Potchefstroom vertrek. By ‘n padblokkade wat vir die voortvlugtende Fosterbende opgestel is, versuim die bestuurder egter om stil te hou en ‘n opslagkoeël tref genl. De la Rey in die rug. So sterf hy tragies op 15 September 1914.
De la Rey word bestempel as die grootste natuurlike soldaat wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Gevegte soos die by Magersfontein en Tweebosch (De Klipdrift) het De la Rey laat uitstaan as ‘n meester in stellingoorlogvoering en as ‘n uitsonderlike ruitergeneraal wat die vyand uitoorlê het.
In die S.A. Biografiese Woordeboek skryf prof. J.S. du Plessis dan ook:
"Sy Godsvertroue was die krag wat sy doelgerigte optrede onderskraag het; in die krygsgeskiedenis het hy sy naam groot geskryf as onvergelyklike taktikus wie se dade hom ewe merkwaardig as krygsman gemaak het."
BIBLIOGRAFIE
De Kock, W.J., (Hoofredakteur) S.A. Biografiese Woordeboek, deel I.
Meintjes, J., De la Rey. Lion of the West. Johannesburg, 1966.
Scholtz, L., (Redakteur) Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne. Kaapstad.