|
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-mail e-pos |
Op 31 Mei 1899 het die twee manne mekaar in die Vrystaatse hoofstad ontmoet. Hoewel Kruger bereid was om sekere toegewings te doen, was die eise wat Milner gestel het van so 'n aard, dat hy nie daaraan kon voldoen nie en die samesprekings het misluk.
|
|---|
Terwyl die Britse troepe besig was om aan te kom, is daar verdere onderhandelings tussen die Britse en Transvaalse regerings oor die saak van stemreg vir die Uitlanders gevoer. Chamberlain, die Britse koloniale minister, se eise was egter van so 'n aard dat aanvaarding daarvan die onafhanklikheid van die Z.A.R. in gevaar sou stel. Die spanning het steeds hoër gestyg en oorlog het onafwendbaar gelyk.
Mobilisasie het op 28 September 1899 begin. Op 21 September het die Kommandant-generaal van die Z.A.R. die bevel aan die verskillende kommandante in die Republiek uitgereik om hulle burgers vir krygsdiens op te roep en na aangewese punte op die grense te bring. Elke burger moes sorg vir 'n perd, saal, toom, geweer en 30 patrone en proviand vir 8 dae. Vyf dae later het ook die Vrystaat tot mobilisasie oorgegaan. Danksy die doeltreffende telegraafstelsels van die twee Republieke, kon die bevele spoedig uitgevoer word en op 29 September was die Transvaalse kommandos gereed om na die grense te vertrek.
Die meeste Wes-Transvaalse kommandos was reeds op 5 Oktober 1899 by hulle onderskeie bymekaarkomplekke en gereed vir aksie. Slegs 60% van alle dienspligtige Burgers in die Transvaal is op hierdie stadium opgeroep. Die voortsetting van die boerdery en ander bedrywighede, moes voortgaan.
|
|---|
Die totale sterkte van die Boeremagte aan die vier fronte het teen 11 Oktober sowat 32 500 man beloop, nl., die Natalfront: 11509; Wes-Transvaal: 6 000; Wes-Vrystaat: 4 800; Noordelike Front: 1 100; Suidelike Front: 2500. In die Oos-Transvaal was daar nog ongeveer 2 000 man gereed om te waak teen moontlike aanvalle vanaf Portugese en aanliggende swart gebiede en 1 000 man gereed op die Basoetogrens. Die twee Republieke het dus saam, tussen 32 000 tot 35 000 man in die veld gehad.
Die Britse garnisoen in S.A., was met die uitbreek van die oorlog, nagenoeg 22 000 man sterk. Dit is deur die Engelse owerheid as voldoende beskou om die twee Kolonies teen Boere-invalle te beskerm. Om die twee Republieke te verower, sou heelwat meer troepe verg. Hul voedingsbron was egter haas onbeperk - die Britse Empire kon ongeveer 1 053 865 man in die veld stoot as dit moet. Die probleem was dat dit oor die hele aardbol versprei was.
Lichtenburg Kommando met die uitbreek van die oorlog
Op 21 September 1899, het die Kommandant-generaal, genl Piet Joubert, sy vertroueling en vriend en die Volksraadslid vir Lichtenburg, Koos de la Rey, meegedeel dat oorlog met Groot Brittanje onvermydelik is. De la Rey was toe in Pretoria vir 'n sitting van die Volksraad.
Die opkommandering van die Boeremagte het op 28 September begin. Die Assistent-Kommandantgeneraal (die bevelvoerder) van die Wes-Transvaal, sou asst-genl Piet Cronjé van Potchefstroom wees. Naas Joubert, was hy die Boere-offisier met die meeste militêre ervaring. Ook die Veggeneraals vir die onderskeie kommando-afdelings in Wes-Transvaal, soos wat die geval was vir die hele Z.A.R., is ook nou deur die KG aangestel. Die kommandante en veldkornette, was die reeds dienende offisiere.
De la Rey is as Veggeneraal vir die Lichtenburg-Marico-afdeling aangestel. Die twee dienende kommandante onder hom was H. C. W. Vermaas van Lichtenburg en T. D. L. Botha van Marico. Genl. Joubert het egter op 21 September, De la Rey ook in 'n addisionele pos aangestel, nl., die van 'Adviseur' vir genl Cronjé. Joubert en Cronjé het nie langs dieselfde vuur gesit nie, en Joubert het ernstige bedenkinge gehad oor die voortvarende en hardkoppige Cronjé. Joubert het geoordeel (hy was ook reg) dat De la Rey die aangewese persoon was om Cronjé te temper. In die praktyk het dit daarop neergekom dat De la Rey nou Cronjé se tweede-in-bevel was. Cronjé was hoegenaamd nie hiermee beïndruk nie en die twee manne sou spoedig ernstige meningsverskille hê. Cronjé, wat hom weinig gesteur het aan De la Rey se weldeurdagte taktiese advies, sou binne vier maande na die aanvang van die oorlog, oneervol uit die stryd moes tree.
|
|---|
Genl. De la Rey was kommandant van Lichtenburg kommando vanaf 1886 (toe hy by kmdt H. Greeff oorgeneem het) tot 1893. In 1894 het hy lid van die Volksraad geword vir Lichtenburg. Vdkt. H. C. W. Vermaas het toe by hom oorgeneem as kommandant.
De la Rey was bestem om 'n groot rol in die komende oorlog te speel en sou uitstyg as een van die grootste Boeregeneraals. Vermaas, 'n stil maar sterk leiersfiguur, het in baie opsigte dieselfde natuurlike militêre aanleg as sy ou vriend, De la Rey gehad. Hy was ook 'n dapper en onverskrokke man wat geen lafhartigheid of verraad sou duld nie. Na die oorlog sou hy as politieke figuur ook sy rol speel. Hy was baie jare veldkornet van Wyk III van Lichtenburg kommando, waaronder die Korannafonteiners (later Ottosdal) geressorteer het. Hyself was ook 'n Korannafonteiner van die plaas Doornpoort.
Hy is opgevolg as veldkornet deur nog 'n Korannafonteiner, die bekende vdkt. J. C. (Hansie) Coetzee van Rietvlei. Coetzee was 'n swaer van kmdt Vermaas (Vermaas was met sy suster getroud) en het as vrederegter en naturelle-kommissaris, 'n leidende rol in sy gemeenskap en Lichtenburgdistrik gespeel. Sy vader was die ewe-bekende, T. C. Coetzee van Rietvlei wat 'n persoonlike vriend van pres. Kruger was met wie hy as kind saam grootgeword het.
Die Lichtenburg kommando het uit drie wyke bestaan en met die uitbreek van die oorlog was die volgende veldkornette dus in bevel:
Die Wolmaransstad kommando waaronder ook 'n gedeelte van die Korannafonteiners geveg het, het met die uitbreek van die oorlog soos volg daar uitgesien:
In die loop van die oorlog sou daar heelwat veranderings in die bevelstruktuur van hierdie kommando wees. Kmdt. u Toit is na die Slag van Magersfontein of voor die slag, aangestel as Veggeneraal vir die Wolmaransstad-Bloemhof-afdeling. As kmdt.is hy opgevolg deur vdkt. erdinand Potgieter wat deur die oorlog die bevel gevoer het en slegs 'n maand voor die vrede by Roodewal gesneuwel het. Hy is opgevolg deur vdkt. J. H. van Wyk as kmdt. Die bekende vdkt. D. R. I. van Vuuren (oom Danie), later 'n kmdt. in die Rebellie, was ook 'n offisier in hierdie kommando. Hy het veral teen die einde as 'Bittereinder', bekendheid verwerf vir sy onverskrokkenheid. Hy het later Ottosdaller geword waar hy 'n bekende in politieke kringe was.
Die Wes-Transvaalse kommandos wat onder bevel van Cronjé was, was Rustenburg, Lichtenburg, Marico, Bloemhof, Potchefstroom, en Wolmaransstad. Hulle het bymekaargekom op Polfontein, net wes van Lichtenburg en nie ver van Ottoshoop af nie. Hier het hulle verdere verwikkelinge afgewag. Nadat die ultimatum verstryk het, was die Regering se opdrag eenvoudig, nl., om
" ... den vijand aan te vallen waar gij die zult mogen aantreffen, hem te bestrijden en al datgene te doen wat gij zult doen en noodig oordeelen om de onafhankelijkheid dezer Republiek te handhaven en te onderhouden."
Vdkt. J. C. Coetzee skiet eerste skoot in oorlog
Binne 'n halfuur na die ontvangs van die regering se instruksies, het die kommandos begin ontplooi. Elke kommando het presies geweet wat van hom verwag word. Cronjé se eerste oogmerk was om die Britse troepe-versamelings langs die Wesgrens, veral by Mafeking, te isoleer en uit te wis en om alle spoorverbindings na die Transvaal te vernietig.
Om 9 nm. van die 11de Oktober het die eerste mag van 800 man, bestaande uit 200 berede burgers uit elkeen van die veldkornetskappe Lichtenburg, Boven-Schoonspruit, Gatsrand en Onder-Schoonspruit, onder bevel van genl. De la Rey, vertrek met die bevel om suidwaarts te beweeg na 'n punt in die nabyheid van Moshettestat om 'n Engelse troepemag van ongeveer 1 000 man, wat volgens berigte by 'n spoorwegstasie gestasioneer was, te gaan verdryf en die spoorlyn op te breek.
Die middag van die 12de Oktober bereik die saamgestelde kommando Kraaipan-stasie net oor die grens vanwaar die klompie Engelse soldate alreeds na Mafeking versit het. Hier gee De la Rey aan veldkornet Coetzee opdrag om met sy Lichtenburgers die spoor op te breek. Feitlik al die Korannafonteiners was hier teenwoordig waar Coetzee die burgers laat stelling inneem het in afwagting van die gepantserde trein wat in aantog was om die Boere se bedrywighede te kom stopsit.
Vdkt. Coetzee het sy burgers streng opdrag gegee om nie te skiet nie, maar te wag totdat hy self op die regte oomblik die eerste skoot skiet.
Die gepantserde gids-lokomotief, wat voor die troepetrein uit beweeg het, het kort voor 10 nm., van die spoor geloop en terwyl die troepe besig was om dit te probeer terugplaas, het Coetzee die eerste skoot gevuur waarop die geveg losgebars het. Onwetend het Coetzee die eerste skoot in die eerste geveg van die Tweede Vryheidsoorlog geskiet.
|
|---|
Op 23 November 1899 vind die eerste belangrike veldslag in die Weste plaas, toe die Vrystaatse kommandos onder genl Prinsloo, die Britse bevelvoerder, lt-genl. lord Methuen, se 10 000 troepe by Belmontstasie probeer stuit. Na 'n hewige geveg moes Prinsloo terugval tot op Graspan waar hulle aansluit by De la Rey se Transvalers.
Op 25 November vind die geveg by Graspan plaas. Dit was die eerste werklike slag waarin die Lichtenburgers onder kmdt. Vermaas deelneem en hulle was bestem om die hitte van die daaropvolgende gevegte swaar te voel. Die geveg hier het nie gunstig vir die Boere verloop nie en hulle moes terugval na Modderrivier waar die groot geveg op 28 November plaasvind.
Hier sneuwel genl. De la Rey se seun, Adaan (Adriaan) en word vdkt. Coetzee se oudste seun Hansie, dodelik gewond. Albei seuns word in Jacobsdal begrawe.