GENEALOGIE

Deur Elize Hough
Die woord genealogie word deur die Afrikaanse Vertalende Woordeboek omskryf as "..wetenskap wat die verwantskapsbetrekkinge tussen die lede van een of meer geslagte naspoor". Geen melding word egter gemaak van die siektetoestand waaraan die meerderheid genealoeë ly nie, ongeneeslik daarby! Ek noem hierdie siekte die "en van watter so-en-so is jy?" sindroom. Moet dit nooit waag om jouself aan 'n genealoog voor te stel indien jy nie ten minste twee van jou bloedlyne kan uitlê nie. Dink dus mooi voordat jy besluit om Genealogie as 'n stokperdjie op te neem want jou hele lewe gaan drasties verander, ten goede, moet ek byvoeg.

Waar begin ek?
Gaan besoek onmiddelik die oudste persoon in jou familie. Sorg dat jy nie haastig is nie, onthou bejaarde mense onthou moeilik en raak maklik verbouereerd. Begin deur uit te vra na die ouers en familie (sibbes) van die betrokke persoon. Jou doel is om die volgende inligting van elke persoon te bekom:

* Geboortedatum en plek
~ Kerk, dorp en datum van doop (hierdie datums is veral van toepassing wanneer 'n persoon deur kerkrekords opgespoor moet word).
X Huwelik of XX huwelike, persoon, plek en datum.
+ Sterftedatum en plek.
Enige addisionele inligting kan ook aangeteken word, aangesien dit later handig te pas kan kom om vermiste skakels op te spoor. Luister maar gerus na die staaltjies en herinneringe, dit is hoe jy uitvind waar om te begin soek na inligting. Jy kan besluit of jy bloot net die bloedlyn wil naslaan en of jy die familiegeskiedenis wil byvoeg. Stel `n vraelys op en stuur dit aan al die familielede wat aan jou bekend is.

Hoe gaan ek verder?
Sterftekennisse is in 1834 in Suid Afrika ingestel, en is waardevol vir die navorser aangesien dit die name van die oorledene, sy ouers, kinders, eggenoot en ander persoonlike inligting bevat.

Vir die tydperk 1758-1833 is daar drie sterfteregisters beskikbaar wat slegs die sterftedatum, naam en plek van oorlye vermeld. Ongelukkig is hierdie registers nie volledig nie. Die bovermelde registers word gehuisves in die Kaapse Argiefbewaarplek, Roelandstraat, Kaapstad. Boedelstukke van persone oorlede in Kimberley, Grahamstad en omgewings gedurende 1871-1956 is ook in besit van die Kaapse Argiefbewaarplek.

Na hierdie datums, word die registers bewaar in die onderskeie provinsies waar die persoon oorlede is, se bewaarplekke. Inligting van boedelstukke en sterftedatums wat na 1950 dateer kan verkry word by die Meester van die Hooggeregshof, Privaatsak X9018, Kaapstad, 8001. Skriftelike navrae word wel hanteer, maar dit is altyd beter om persoonlik te gaan naslaan. Name van persone wat genealogiese navorsing onderneem teen `n vergoeding is ook verkrygbaar by die onderskeie bewaarplekke.

Afskrifte van inskrywings uit geboorte-, huwelik- en sterfte-registers vanaf 1895 kan verkry word van:

Die Direkteur-generaal,
Departement van Binnelandse Sake,
Privaatsak x114, Pretoria, 0001.
(Hulle verlang egter volle besonderhede)
Soos vroeër vermeld, is doop-, huwelik- en lidmateregisters van die kerk waaraan u voorouers behoort het, ook `n belangrike bron van inligting. Die Kaapse Argief-bewaarplek beskik oor die dokumente van die N.G. Kerk vir die verskillende gemeentes in die Kaapkolonie vanaf 1665, St.George's Katedraal Kaapstad vir die tydperk 1806-1930 (onvolledig) asook die Evangeliese Lutherse Kerk Kaapstad (1780-1907). Daar is ook ander kerkregisters beskikbaar by die Cory Biblioteek, Rhodes Universiteit, Posbus 184, Grahamstad, 6140.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se Biblioteek en Inligtingsdiens is sedert 1971 betrokke by die opteken en ontleding van genealogiese inligting. Die Raad beskik ook oor navorsingsfasiliteite, inligting oor families en die persone wat spesifieke families navors. Skryf aan:

Die RGN,
Biblioteek en Inligtingsdiens,
Privaatsak x41.
Pretoria, 0001.

Die publikasie van dr. R.T.J. Lombard getiteld "Handleiding vir Genealogiese Navorsing in Suid- Afrika" is van groot waarde vir die beginner. Die boek bevat onder andere die formule waarvolgens geslagte genommer word.

Ander bronne wat ek kan gebruik?
Die Suid - Afrikaanse Geslagsregisters (4 dele) deur J.A. Heese en R.T.J. Lombard.
Geslacht-register der Oude Kaapsche Familiën deur C.C. de Villiers.
Die Groot Afrikaanse Familienaamboek deur C. Pama.
Stamregister van die Suid Afrikaanse Volk deur D.F. Malherbe.
Hugenote Familieboek deur A.F.Kanemeyer.
The Settler Handbook - A new list of 1820 Settlers deur M.D. Nash.
Die Suid - Afrikaanse Biografiese Woordeboek.
Familia: Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Genealogiese Genootskap. Intekengeld op Familia sluit lidmaatskap van die Genootskap in. Koste R45.00 per jaar. Adres:Postnet X2600, Houghton, 2041.
Nederlandse emigrasie na Suid-Afrika 1800-1900 deur Jan Ploeger.
Hierdie publikasie en nog meer verkrygbaar by.

Genealogical Publications,
p/a Prof. Gideon de Kock,
Universiteit van PortElizabeth,
Posbus 1600, Port Elizabeth, 6000.

Die Internet.
Hierdie databasis is omvangryk. Baie waardevol, veral wanneer jy na jou Engelse of oorsese familie begin soek.

Daar moet egter altyd in gedagte gehou word dat geen bron foutloos is nie. Indien jy onraad vermoed, slaan liewer self die oorspronklike dokumente na om vermiste skakels op te spoor.

Wees voorbereid daarop dat jy ou familie-geraamtes gaan opdiep en afstof. Soos Dot Serfontein destyds gesê het toe sy die Serfontein-familiegeskiedenis moes naspeur:
"Iewers loop jy jou vas teen iets wat iemand nie wil weet nie"!



© Copyright: Lichtenburg Museum, 1998. All rights reserved. Permission to use, copy and distribute documents and related graphics available from this address: museum@lichtenburg.co.za This Web Pages was designed and compiled by Jan Schutte, Lichtenburg Museum