Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Die Beesdip wat 'n Nasionale Monument geword het

> Kaart van die Lichtenburgse Delwerye < . > E-pos aan museum <

Die jaar 1924. Dit was 'n moeilike jaar vir die Voorendyks van Elandsputte. Delwers by hul diamantwasmasjiene
Delwers by hul diamantwasmasjiene

John Voorendyk, posmeester van Lichtenburg, is al lankal moedeloos. Hy kry nie eens 'n koper vir die plaas teen die verspotte prys van 7/6 (75c) 'n morg nie. En die beeste vrek van 'n vreemde siekte.

Op sy seun Koosie se aandrang, maak hulle nou 'n beesdip om die vrektes teen te werk. Die dipgat is klaar en hulle is juis besig met die laaste gat vir die dipkraalpale, toe die arbeider 'n verdagte klippie raaksien wat pas uitgespit is, en aan Koosie gee.

"Pa ! 'n Diamant!" Effens ongelowig, maar gedagtig aan die sporadiese diamantjies wat die afgelope jare hier in die distrik opgeduik het, besluit hulle om mnr Bosman, skeikunde-onderwyser op die dorp, te vra om dit te toets. Dit is Desember 1924... 'n Pragtige steen van 3 karaat! Wel vuil en gebreek, maar werklik 'n diamant!

Dit is hier waar van die ongelooflikste gebeurtenisse in die wêreldgeskiedenis van alluviale delwerye sou plaasvind, en die beesdip was die wegspringlyn. Potensiële Delwers inpekteer kleims, 1926 Elandsputte
Potensiële Delwers inpekteer kleims, 1926 Elandsputte

"Bird dropping"

Dr Harger, staatsgeoloog en prospekteerder, is dadelik laat weet van die vonds, maar was nie beïdruk nie. Tydens 'n besoek in 1925 het hy wel op die plaas rondgedwaal, maar sy reaksie was: My boy, there are no diamonds on this farm, a bird must have dropped it here!" Te gou bly geword...?

Kort hierna verneem dr Harger van 'n diamant op Manana, 'n plaas aangrensend van Lichtenburg, en gaan prospekteer daar. Die eerste proklamasie van delwery-grond vind hier plaas. Honingklip, 'n plaas noord aan Elandsputte, word volgende deur dr Harger besoek. Hy verdwaal egter en begin onwetend op Elandsputte prospekteer. Voor hy nog "gewas" het, het hy al reeds 'n mooi 6 karaat klip in die hand gehad!

Die begin

Onmiddellik verskuif hy sy kamp na Elandsputte. Hy begin prospekteer by die "donkiegat", waar 'n donkie begrawe was en wat later 'n bekende baken op die delwerye geword het. Die eerste gruiswas lewer 21 diamante, die volgende 36! Die plaas is in Februarie 1926 geproklameer, die eerste groot stormloop met duisende delwers het plaasgevind! Grasfontein delwerye 1927
Grasfontein delwerye 1927

Die vuur was aan die brand, een van die opwindendste tydperke in die twintigste eeuse S.A. het 'n aanvang geneem. Die towerwoord: "Daaimans!" het delwers en fortuinsoekers in hul duisende gelok.

Propekteerdery neem toe, en van Mei 1926 tot einde 1927 volg nog 45 proklamasies op 8 plase. Die omvang van die delwerye kom aan die lig: 36 km lank, 1,6 km breed. Teen 1945, toe die bedrywighede afgeneem het tot dieselfde skaal as 1925, was 104 delwerye op 13 plase geproklameer.

Die jare 1926 tot 1929 was die hoogtepunt van die diekens. Die lak was in met die blinkossies (diamante) en die siwwe is blinkpens omgeslaan. Daar is wel dié wat breek geraak het en op die bottom was, maar net 'n kwessie van oopmaak, op porrel kom en wassies deursit, want die ghriwweltjies dra goed, dis nie lui of doterige grond nie. Janee, die duimkoppe en blinkoë sal sorg vir 'n groot skôrtjie. En as jou lak hou, straaik jy dalk nog 'n pothole en dan is dit net swaar stof al die pad!

Na Elandsputte volg Treasure Trove, Bakers en Ruigtelaagte in Augustus 1926, met Witklip en Klipkuil voor die einde van die jaar. Met blink motors en ou karre, met fietse en te voet, met donkiekarre en ossewaens en die trein het hulle aangetroom: Beroepsdelwers, geluksoekers, verarmdes en avonturiers. Selfs van die buurlande, Australië en Europa het hulle gekom. Almal ken net een pad: Lichtenburg... diekens... daaimans...

Dit was die rykste openbare spoeldelwerye in die land, met die grootste saamtrek van delwers in die geskiedenis. "By Lichtenburg delf jy nie met graaf en sif nie, man, jy trek net 'n bossie uit en die daaimons hang sommer so aan die wortels!!!" is die soort stories wat daarvoor help sorg het.

Stad van Sak en Blik

'n "Kaiastad" verrys binne 'n jaar op twee, en huisves na bewering sowat 150 000, ongeveer 7 keer so groot as Lichtenburg vandag. Dit was 'n "tydelike stad", enig in die wêreld. Selfs straatname soos Eloff, President en Prichardt is gevind, geleen van Johannesburg as gevolg van die miernes van bedrywighede. Enige vervoer denkbaar is gebruik op die delwerye
Enige vervoer denkbaar is gebruik op die delwerye

Bakers, vernoem na die eienaar Albert Baker, en later bekend as Bakerville, is allerweë as die "hoofdorp" beskou. Hier het huisies en kaias vir etlike kilometer feitlik muur aan muur gestaan. In die sakesentrum was na bewering tot soveel as 250 diamandkoperskantore (elk met sy eie vlag), eetplekke, bioskope, tot 'n mallemeule en sowat 60 kafees, winkels, slaghuise en ander besighede. Die skool, een van 17 op die delwerye, het 15 klaskamers gehad.

Wat die delwerye so uitsonderlik gemaak het, was die geweldige hoeveelhede wat so vlak onder die grond gevind is. Op Treasure Trove is in een besondere week £75 000 se diamante uitgehaal. Volgens vandag se geldwaarde (teen 15% inflasie per jaar vanaf 1961) sou dit meer as R10 miljoen beloop het!

Grasfontein

Grasfontein (grootste diamantstormloop in wêreldgeskiedenis, 4 Maart 1927), het meer as 2 miljoen karaat diamante gelewer. Uitgevonden (waarop Bakers geleë is) en Welverdiend het elk meer as 1,5 miljoen karaat gelewer.

In die tydperk 1926 tot 1945 is meer as 7 miljoen karaat diamante ter waarde van £14,6 miljoen ontgin, 'n astronomiese R2 000 miljoen in huidige geldwaarde. In 1927 lewer die delwerye 79% van Transvaal se alluviale produksie, terwyl Transvaal op sy beurt 94,41% van die Unie s'n gelewer.

Natuurlik is die diamantmark beïnvloed, soveel so dat, met gebrek aan beskermende wetgewing, sir Ernest Oppenheimer moes ingryp met die stigting van die Oppenheimer-sindikaat, wat onder meer groot hoeveelhede diamante opgekoop en dan weer stadig na die wêreldmark laat terugvloei het. So is gekeer dat die mark heeltemal in duie gestort het.

Water bring ook rykdom

Bantoms word deursoek vir diamante...
Bantoms word deursoek vir diamante...
Dit is nie net delwers wat 'n skat ontdek het nie, maar ook die grondeienaars wat kleims en water verkoop het, die boere in die omgewing wat 'n mark vir hul produkte verkry het, en natuurlik die sakemanne van slaghuise en barbiere tot klerewinkels en skoenmakers. Die Voorendyks het byvoorbeeld met waterverkope £40 000 (meer as R4,6 miljoen vandag) in die eerste ses maande verdien! In 1927 is meer brandstof as in Johannesburg verkoop, en 2000 motors is in die eerste vyf maande van dié jaar in Lichtenburg geregistreer.

Waar die plaaslike N G Kerk net een gemeente gehad het, met net een wyk noord van Lichtenburg met 8 gesinne, was daar teen die einde van 1927 in dieselfde wyk 15 000 lidmate, met nog sowat 18 500 mense na wie die kerk omgesien het!. Voorheen was daar geen skool nie, maar in 1930 was daar 16. Aan die einde was daar 103 onderwysers op die delwerye.

Die naaste hospitaal was die Cottage Hospitaal in Lichtenburg, met ses beddens vir blankes en geen hospitaal vir nie-blankes in die distrik nie, dus moes mediese dienste voorsien word. Verder het die ekonomiese posisie van die delwers vanaf 1928 vinnig verswak as gevolg van uitgewerkte oppervlakgruis, val van diamantpryse, die depressie wat met mening toeneem, kredietbronne wat opdroog en arbeid wat onbekostigbaar geword het.

Vandag

Koosie Voorendyk en sy pa John by die beesdip, ongeveer 1926
Koosie Voorendyk en sy pa John by die beesdip, ongeveer 1926
Vandag is daar bitter min oor van hierdie eens kosmopolitaanse "diamantstad" en sy sinkhuise en kaias, duisende voertuie en donkies, delwers en sakemanne. Nog net 'n handjievol vasbyters is oor tussen die derduisende tonne gruishope. 'n Era in Suid Afrika se geskiedenis is afgesluit...

Soos P.J.Niemand dit stel: "'n Duisend mense kan 'n boek oor die delwerye skryf, en alles sal nog nie vertel wees nie". Hierdie is egter 'n agtergrond tot die groot verhale soos die Grasfontein-stormloop waaraan 25 000 hardlopers deelgeneem het, die beroemde Rooi Diamant van 33 karaat wat vir £66 verkoop is, en later waardeer is op $150 000 en wat vandag nog aangeteken staan in die Guiness Book of Records as die suiwerste rooi diamant in die wêreld, en die potholes en hul ongelooflike skatte.

Dan is daar manne soos Jimmy Bouwer (oorlede op 30 November 1992) wat langer as 'n halwe eeu in sy klipkaia gewoon het, Siener van Rensburg se voorspelling van die Skaapkop-Diamant, die skole wat agter die leerlinge aangetrek het, en al die ander wel en weê van 'n beduidende deel van Suid Afrika se inwoners wat gelei het tot die verklaring in 1980 van die beesdip op Elandsputte tot 'n Nasionale Gedenkwaardigheid.

Terug na die TuisbladJy is welkom om aan ons e-pos te stuur.


© Copyright: Lichtenburg Museum, 1998, 1999. All rights reserved. Permission to use, copy and distribute documents and related graphics available from this address: museum@lichtenburg.co.za Web Pages designed and compiled by Jan Schutte, Lichtenburg Museum