Lichtenburg: (by/deur Lichtenburg Museum, POBox/Posbus 7, Lichtenburg 2740, South Africa - Tel. (+27) 018-632 5051; Fax. (+27) 018-632 5247; Cell.08292 45983; museum@lichtenburg.co.za
Homepage - Tuisblad * Tourism Info (English) * Toerisme Info (Afrikaans) * Anglo Boer War / Anglo-Boereoorlog * Accommodation and Restaurants * Akkommodasie en Restaurante * Museums (English) * Museums (Afrikaans) * History of Lichtenburg * Geskiedenis van Lichtenburg * One Stop Search Engine Page * e-maile-pos

Die Slag van Boschbult, 31 Maart 1902

Cookson se kolonne wat die oggend van 31 Maart van Rietvlei in die rigting van Bospan beweeg het, het op Doornlaagte (vandag Humanskraal), die spore van 'n kommando opgemerk. Kanonspore was duidelik te sien en 'n streep stof het die teenwoordigheid van perderuiters verraai. Cookson het onmiddellik die kommando agterna gesit. Al langs die Brakspruit gaan die agtervolging en op Bospan maak hy kontak met die kommando se agterhoede. Dié beweeg egter vinnig verder tot op Boschbult, 28 km van Korannafontein, waar hulle stelling inneem in 'n doringbos en met hewige vuur die Engelse opmars stuit. Dit was die kommando van genl Liebenberg wat aanvanklik verras was met die aanval, maar onder dekking besluit om terug te veg.
Cookson, wat nou op die oopte aangeval word, slaag daarin om die aanval af te weer en retireer na waar twee woonhuise staan. Een met 'n vrou en kinders daarin en 'n kraal. In die oostelike woonhuis en kraal het hy sy Mounted Rifles laat stelling inneem en die waens en kanonne in die westelike huis waarin die familie was. Keir en die res van die kolonnes het aan die suidekant posisie ingeneem tussen die lae walle van die Brakspruit. Die Boere word besig gehou met skynaanvalle terwyl daar gewag word vir die transportwaens wat nog agter is.

Intussen het Liebenberg ook rapporte uitgestuur vir versterkings wat spoedig opdaag toe genls Kemp, Celliers en Du Toit op die toneel verskyn. 'n Redelike groot Boeremag was binne 'n paar uur saamgetrek en in die namiddag het Kemp en Du Toit bygestaan deur kmdte Potgieter, Vermaas en De Beer, 'n gedetermineerde aanval op die Engelse geloods en hulle terug geslaan tot by die huise.

As gevolg van 'n misverstand tussen Kemp en Liebenberg, lewer laasgenoemde nie ondersteuning nie en slaag Cookson daarin om die res van die kommandos met grofgeskut en hewige kleingeweervuur terug te dryf tot in die bosse. Vir die res van die middag tot die aand word slegs skote oor en weer gevuur.

Toe genl De la Rey later die dag by die slagveld opdaag, het hy onmiddellik gelas dat die geveg gestaak moet word en dat die kommandos moet terug trek. De la Rey se opsomming van die situasie was dat die Boere in 'n ongunstige posisie verkeer het en dat hulp vir Cookson vanaf Driekuil op pad was. Cookson het die hele dag probeer om met sy bevelvoerder op Driekuil in verbinding te kom vir versterkings, maar kon nie een rapport deurkry nie.
"In the afternoon, however, warned by the boom of distant guns, that Cookson was seriously engaged, Kitchener ordered out Lowe's column of 1 000 M.I. and Yeomanry, with three guns marched westward."
OP Doornlaagte bereik verskrikte vlugtende swartes met 'n "Dutch Guide" (m.a.w. 'n Boereverraaier) en nog ander, die kolonne van Lowe "...from. whose hazy, but exceedingly gloomy reports, Kitchener gathered that Cookson's camp had been rushed and overwhelmed. The sound of firing had ceased, night was drawing on and the bush was a source of so much embarrasment that he decided to return to Driekuil and defer action till the next day."

Nadat Kitchener teruggekeer het na Driekuil laat weet hy sy hoofkwartier op Klerksdorp dat sover sy inligting strek Cookson se mag oorrompel is. Verder vra hy dat Rawlinson wat pas begin beweeg het na Rhenosterspruit onmiddellik na Driekuil moet kom as versterking. Die volgende oggend op 1 April het Kitchener met 'n groot mag na Boschbult vertrek waar hy die middag om eenuur aankom. Die geveg was reeds verby, die kommandos het vertrek en Cookson was buite gevaar. Die gesneuweldes was ook reeds begrawe. Om 3 nm. verlaat Kitchener en Cookson Boschbult en keer terug na hulle basis op Driekuil waar hulle die oggend van die 2e aankom. Rawlinson met sy mag van ongeveer 3000 man was toe ook reeds daar.

Die verlies aan albei kante was hoog. Aan Boerekant is 40 man dood of gewond en aan Britse kant 118 dood en gewond. Die verlies van 400 perde en muile, hoofsaaklik deur kanonvuur, het Kitchener se mobiliteit eněstig benadeel.

Na die geveg by Boschbult is die Boeregewondes, o.a. vdkt J. H. van Wyk, wat na die dood van kmdt Potgieter kommandant van Wolmaransstad kommando sou word na Vaalbult. 10 km wes van Boschbult was daar 'n hospitaal in 'n ou sinkstoor ingerig .

Uit "Die Geskiedenis van ottosdal kommando" deur P.J. de Jager