Wat is Myasthenia Gravis (MG)
Terug na MG Indeks Blad
![]()
MG is ‘n outo-immuniteitsiekte. Dit is wanneer die liggaam
se immuniteitstelsel teenliggaampies produseer om stowwe en weefsel van die
liggaam self aan te val en te vernietig.
Om te verstaan hoe dit gebeur dat daar in die geval van MG ‘n abnormale werking plaasvind in die transmissie van impulse vanaf die senuwee eindpunte na die spier, is dit belangrik om te weet wat gebeur as ‘n normale spier saamtrek. Voordat ‘n spier kan saamtrek, gebeur die volgende: die brein stuur ‘n boodskap (impuls) deur die rugmurg na ‘n gegewe spier in die liggaam. Die impuls bereik die senuwee-eindpunte waar ‘n neuro-oordragstof, asetiel-cholien (Ach), geproduseer en vrygestel word. Tussen die senuwee eindpunte en die spier is daar ‘n sinaptiese opening waarin die asetielcholien gestort word. Die asetielcholien heg dan weer aan die reseptore van die spier. Daar is baie reseptore op ‘n spier en sodra genoeg reseptore geaktiveer is, trek die spier saam. In ‘n gesonde liggaam produseer die liggaam se immuniteitstelsel teenliggaampies om enige skadelike stowwe wat die liggaam binnedring, aan te val en te vernietig soos byvoorbeeld bakterieë en virusse.
In die geval van Myasthenia Gravis ontstaan daar ‘n wanfunksionering by die sinaptiese openinge wat te wyte is aan ‘n abnormale reaksie van die immuniteitstelsel. Die immuniteitstelsel sien die reseptore by die sinaptiese openinge as skadelik vir die liggaam. Dit produseer dan teenliggaampies wat aan die asetielcholien reseptore gaan heg. Dit vernietig of blokkeer dus effektief die oordrag van die boodskap. Daar is dan ‘n drastiese afname in aktiewe reseptore wat noodsaaklik is vir die spier om sterk saam te trek. Dit lei tot die swak, gebrekkige sametrekking van die spier, wat in MG ervaar word as spierswakheid.
Daar word aanvaar dat die timusklier ‘n belangrike rol speel in MG. Die timusklier is geleë net agter die borsbeen en speel ‘n belangrike rol in die vorming van limfosiete tydens die kinderjare. Limfosiete is tipe witbloedselle en help met die vorming van teenliggaampies. Soos ‘n persoon ouer word, raak die timusklier onaktief en die limfkliere neem die timusklier se funksie oor. In die meeste gevalle van MG is daar ‘n abnormaliteit van die timusklier, hiperplasie of timone. Meestal kom slegs hiperplasie van die timusklier voor. Hiperplasie is die buitengewone toename van selle, met die gevolglike vergroting van die orgaan - gewasse uitgesluit. In ‘n kleiner persentasie van MG gevalle kom timone voor. In die geval van timone is daar ook abnormale toename van selle, maar dit vorm ‘n gewas. ’n Timoon is gewoonlik ‘n kwaadaardige gewas en by uitsondering soms goedaardig. Dit kom voor asof die timus sekere tipe spieragtige selle bevat. Hierdie selle dien dan eintlik as die antigene (of vreemde materiaal) wat deur die immuniteitstelsel aangeval word en aanleiding daartoe gee dat die ander spiere in die liggaam ook aangetas raak. Om hierdie rede is dit waarskynlik dan, waaruit die voordeel spruit, indien die timus verwyder word.
| Let wel dat alle inligting op hierdie blad slegs daar is om u kennis aangaande MG te verbeter en dat besluite wat rondom u behandeling geneem word, slegs deur u geneesheer gedoen moet word. |