Mestinon
Terug na Indeks Blad

Mestinon (Piridostigmienbromied) is die mees algemeenste anticholinesterase middel wat gebruik word by die simptomatiese behandeling van MG. Dit is verkrygbaar in stroop, 10 mg, 60 mg en 180 mg tablette, alhoewel slegs die 10 en 60 mg tablette in Suid Afrika beskikbaar is. Mestinon vul die asetielcholien aan wat vernietig word met spiergebruik in pasiente met MG.

Mestinon genees nie MG nie, maar verlig slegs die meeste simptome. Pasiente met MG gebruik Mestinon om die swakheid en uitputbaarheid van spiere wat deur MG veroorsaak word te verbeter en te beheer. Dit verlig simptome soos dubbel visie, ooglede wat hang, probleme met sluk en spraak en ook baie ander simptome wat gepaard gaan met MG. Die hoeveelheid Mestinon wat geneem word om simptome te beheer verskil van pasient tot pasient.. Net so ook kan newe effekte ervaar word op enige dosis, wat ook weer verskil van pasient tot pasient. Sommige pasiente kan newe effekte ervaar op slegs 'n paar tablette per dag terwyl ander 10 of meer kan drink sonder enige newe effekte.

Die mees algemeenste newe effek word ervaar in die maagdermkanaal. Dit sluit in naarheid, braking, maagkrampe en diarree. Sommige pasiente staak die gebruik van Mestinon as gevolg van die simptome. Daar is egter soveel ander medikasie wat dié simptome kan teewerk en beheer, dat dit meer voordelig is om nie die gebruik van Mestinon te staak nie en slegs addisionele medikasie vir die maagderm kanaal te begin gebruik. Ander newe effekte wat ervaar kan word is oormatige speeksel, verhoog tranerigheid in oë, urineer meer dikwels, neiging om meer te sweet, oog pupille wat neig om klein te wees. Mestinon kan verhoogde brongiale afskeiding in die longe tot gevolg hê. Dit is egter nie lastig vir die meeste pasiente nie, maar kan probleme veroorsaak wanneer pasiente met asma sukkel. Spierkrampe en spier trillings kan as 'n newe effek ervaar word, maar dit is so gering dat dit die meeste pasiente nie pla nie. Indien 'n pasient simptome van 'n newe effek ervaar is dit die beste om mediese advies in te win. Deur 'n verandering en aanpassing in die daaglikse dosis van Mestinon aan te bring, behoort dit die probleem binne n dag of twee op te klaar.

Alle pasiente sukkel op 'n stadium met matige oordosering en onderdosering totdat hulle uiteindelik stabiliseer op 'n dosis wat hul simptome die beste onder beheer hou. Onderdosering is net so gevaarlik soos oordosering en beide se simptome is dieselfde. Indien daar 'n verbetering in u toestand intree binne 'n uur nadat u 'n dosis geneem het, weet u, u het die dosis Mestinon nodig. Indien die Mestinon sy werking te gou verloor mag dit 'n teken wees dat u meer Mestinon nodig het en dus onderdoseer is. Indien u oordoseer is sal daar geen verbeteringe in u simptome wees nadat u 'n dosis Mestinon geneem het nie. Daar sal 'n behoefte wees om met korter tussenposes al hoe groter hoeveelhede Mestinon te neem sonder dat dit die gewenste uitwerking het. Die maklikste manier om oor of onder dosering te monitor is om te oordeel of u spierkrag verbeter of dieselfde bly nadat u u medikasie geneem het. In beide gevalle is dit die beste om dit met u geneesheer te bespreek.

Een van die mees gevaarlikste komplikasies wat Mestinon kan veroorsaak is 'n Cholinergiese Krisis. Dit gebeur selde en gewoonlik net as 'n pasient op 'n hoë daaglikse dosis van Mestinon is. Die simptome van 'n Cholinergiese krisis sluit onder andere die volgende in; Verhoogde toenemende spier swakheid, oormatige speeksel en sweet afskeiding, naarheid, braking, diarree en spierkrampe. 'n Cholinergiese krisis kan lewens gevaarlik wees en so 'n pasient moet gehospitaliseer word. Die toenemende spierswakheid kan die asemhalingspiere aantas wat dan tot die dood kan lei. Indien 'n pasient simptome ondervind dat hy/sy swaar begin asemhaal, hoes of sluk is dit altyd raadsaam om so 'n pasient te hospitaliseer.

Let Wel :

Let wel dat alle inligting op hierdie blad slegs daar is om u kennis aangaande MG te verbeter en dat besluite wat rondom u behandeling geneem word, slegs deur u geneesheer gedoen moet word.

      Terug na Indeks Blad                        Na begin van blad