Kliniese kenmerke van Myasthenia Gravis (MG)
Terug na Indeks Blad
![]()
Die kenmerkendste eienskap van MG is die wisselende grade in spierswakheid asook die maklike uitputbaarheid van spiere wat gebruik word. Dit behels spierswakheid wat vererger as die spesifieke spiere gebruik word en wat gedeeltelik weer sterker word as die spiere toegelaat word om te rus. Spiere wat deur MG geaffekteer word, is dié onder willekeurige beheer (gestreepte spiere). Onwillekeurige spiere soos die hart, die gladde spiere van die maag, bloedvate en die uterus word nie aangetas deur MG nie.
Spiere wat ons heeltyd gebruik word gewoonlik, maar nie noodwendig aangetas nie. Hieronder resorteer die spiertjies wat verantwoordelik is vir die beweging van elke oogbal en vir die bewegings van die ooglede. Die spiere wat die gesigsuitdrukking, glimlag, kou, praat, hoes en sluk beheer, kan ook aangetas wees. Ander spiere wat geaffekteer kan wees, is die van die nek en ledemate. Ofskoon daar gesê word dat MG pynloos is, kan daar wel pyn ervaar word in die nek en kop as die nekspiere te swak is om die kop in posisie te hou. Simmetriese swakheid in ledemate kom dikwels voor by persone met spiersiektes, maar in die geval van MG is die swakheid dikwels nie simmetries nie. Een kant van jou liggaam is dikwels meer aangetas as die ander kant. Swakheid in die skouers kan waargeneem word, as daar probleme ondervind word om die arms regop te hou terwyl hare gewas of gekam word, geskeer word of grimering aangewend word. Die greep van jou vingers en hande mag swakker word en jy kan moeite ondervind om byvoorbeeld bottels oop te maak. Heupe kan swakker voel, wat dit weer moeilik maak om uit sekere stoele op te staan of om in en uit ‘n bad te klim. Bene word gou moeg as daar trappe geklim word of ente gestap word. Daar is ook ‘n neiging om effens onseker en waggelend te begin stap. Algemene swakheid en moegheid kan ook ervaar word. Waar die oë aangetas is kan dubbelvisie ervaar word, ‘n sensitiwiteit vir lig en ooglede kan hang. Weereens kan een oog meer aangetas wees as die ander oog.
‘n Miastenia pasiënt kan een van die simptome hê, ‘n kombinasie van dit of in sekere gevalle, wat baie skaars is, al die simptome. Die simptome kan wissel van vaag tot hewig wat dus die bevestiging van ‘n diagnose baie moeilik maak.
Die "Gravis" of ernstigheid van Miastenia is veral van toepassing as die asemhalingspiere aangetas word. Indien daar probleme ondervind word om normaalweg sterk en reëlmatig asem te haal en te hoes, ontstaan daar die sogenaamde Miasteniese Krisis. Hospitalisasie is dan noodsaaklik sodat kunsmatige asemhaling en die nodige noodbehandeling toegepas kan word. Alhoewel oordosering en onderdosering van medikasie ook aanleiding kan gee tot die sogenaamde Miasteniese Krisis, is persone wat sukkel met spraak- en slukprobleme meer geneig om asemhalingsprobleme te ondervind. Daar is genoeg waarskuwingsimptome wat so ‘n krisis voorafgaan. Gewoonlik is dit ‘n verergering van MG simptome in sluk, praat en asemhaal.
Die uitputbaarheid van spiere is die algemeenste en bekendste simptoom van MG en tog is algemene liggaamlike uitputting nie ‘n algemene klagte onder miastenia pasiënte nie. Gevoelsensasie op die vel word ook nie deur MG aangetas nie.
Die spiere wat geaffekteer word deur MG verskil van persoon tot persoon. So ook die graad van spierswakheid. Party het Okulêre Miastenia, waar slegs die oogspiere en ooglede aangetas is. Dan is daar Algemene Miastenia waar verskillende groepe spiere in die liggaam aangetas word deur MG.
By Okulêre Miastenia bly MG okulêr in 15% van die pasiënte wat aanvanklik as okulêr gediagnoseer is. Gedurende die eerste jaar wat okulêre simptome ervaar word, sal die helfte van die okulêre pasiënte begin om ook simptome van Algemene miastenia te ontwikkel. Nog 30% sal gedurende die volgende twee jaar, nadat hulle met MG gediagnoseer is, ook Algemene Miastenia ontwikkel. Die maksimale impak wat MG op jou liggaam sal hê, word gewoonlik binne die eerste vyf tot sewe jaar gemanifesteer. Gewoonlik raak MG nie daarna progressief erger nie, maar die graad van swakheid is nog steeds beïnvloedbaar en mag wissel van dag tot dag en uur tot uur. Slegs in die geval van ‘n asemhalings krisis kan MG fataal wees, indien daar nie onmiddellik behandeling ontvang is nie. Origens het miastenia pasiënte ‘n normale lewensverwagting met die nodige behandeling en medikasie.
MG kom wêreldwyd voor, onder beide geslagte en ook onder alle etniese groepe. Die aanvang van simptome kan op enige ouderdom begin, van geboorte tot in jou negentigerjare. Vrouens neig om meer vatbaar vir MG te wees tydens hul dertigerjare en mans weer in hul sestigerjare. MG is nie aansteeklik nie en ook nie direk oorerflik nie. Dit gebeur wel partykeer dat meer as een persoon in ‘n gesin of ‘n familie geaffekteer word deur MG.
| Let wel dat alle inligting op hierdie blad slegs daar is om u kennis aangaande MG te verbeter en dat besluite wat rondom u behandeling geneem word, slegs deur u geneesheer gedoen moet word. |