Hospitalisasie
Terug na Indeks Blad
Alhoewel MG die afgelope 10 jaar meer bekend geword het, blyk
dit nog steeds n seldsame siekte te wees waarvan baie mense, medici en
verpleegpersoneel nog nooit gehoor het nie. Dit mag wees dat ‘n persoon met MG
van tyd tot tyd ‘n mediese probleem ontwikkel wat hospitalisasie benodig. Dit
is dus raadsaam vir die persoon met MG om bedag te wees op die feit dat daar
onkunde rondom MG mag bestaan. Spesiale aandag moet daaraan gegee word sodat die
MG pasient seker is dat die hospitaalpersoneel op hoogte is met MG en ‘n MG
pasient se behoeftes. Deur spesiale maatreels te tref en die hospitaalpersoneel
voor te berei, mag baie probleme en ongerief uitgeskakel word.
Tref die nodige maatreels met elke besoek aan die hospital. Nuwe
personeel mag aan diens wees wat nie vertroud is met MG nie.
- Stel jou neuroloog in kennis dat jy gehospitaliseer gaan word, sodat jou
mediese dokter, hospitaal en neuroloog enige probleme wat mag ontstaan saam
kan oplos.
- Indien jy oor enige literatuur aangaande MG beskik wat die verpleeg
personeel tot hulp kan wees, gee dit aan hulle en bespreek MG met hulle.
- Voorsien die verpleegpersoneel van jou persoonlike MG geskiedenis wat jy
self saam gestel het. Lys onder andere die volgende: Die geskeduleerde tye
waarop jy jou Mestinon drink. Merk dit as belangrik dat jy ten alle tye,
nooit ‘n dosis mag mis nie, nie eens in noodgevalle nie. Lys alle ander
medikasie wat jy neem, hetsy vir MG of ander probleme. Noem medikasies en
behandelings wat jy weet wat jou MG vererger. Teken duidelik aan waarvoor jy
allergies is. Beskryf die simptome wat jy ervaar as jou MG begin vererger.
Beskryf behandeling en medikasies wat op vorige geleenthede onder sulke
omstandige baie gehelp het.
- Dring daarop aan dat jy jou MG medikasie by jou mag hou sodat jy dit op
jou geskeduleerde tye kan drink. Verduidelik die belangrikheid van die
medikasie aan hulle. Dat ‘n drastiese afname in spierkrag (wat ook die
asemhalingspiere insluit) kan plaasvind indien jy dit nie op die
geskeduleerde tye dink nie. Jou dokter kan toestemming gee dat jy wel jou
medikasie by jou mag hou.
- Indien jy op immuniteitsonderdrukkers soos Imuran en Azapress is, moet
versigtigheid aan die dag gelê word, saam met wie jy ‘n kamer deel. Dit
is belangrik om nie kamers te deel met iemand wat ‘n siekte het wat
skadelik kan wees vir n pasient wie se liggaam onderdruk word met
immuniteits - onderdrukkers nie. ‘n Onderdrukte immuniteitstelsel het
swakker weerstand om kieme en virusse te beveg . Dit sluit siektes soos
longontsteking, griep, verkoues en virusse in.
- Vergewis jou van die hospitaal roetine, toetse wat gedoen gaan word,
addisionele medikasie wat jy sal moet neem en operasie wat jy moet
ondergaan. Dis jou reg om te weet wat hulle beplan sodat jy voorbereid op
alles kan wees.
- Indien jy narkose gaan kry, moet jy dit aan die narkotiseur noem dat jy MG
het. Al staan daar duidelik op jou kaart dat jy MG het, is dit steeds
noodsaaklik dat die narkotiseur dit aan jou bevestig dat hy\sy bewus is van
sekere addisionele maatreels wat getref word by pasiente met MG wat narkose
gaan ontvang.
- Waak teen enige medikasie wat aan jou gegee mag word. Bespreek dit met
elke dokter wat medikasie aan jou voorskryf dat sekere medikasie MG
vererger. Maak seker of die dokter navraag gedoen het of jy die medikasie
met veiligheid kan gebruik en of dit nie jou MG sal vererger nie. Indien
daar twyfel bestaan vra dat hulle jou neuroloog moet skakel vir bevestiging.
Hospitale kan gevaarlik wees vir persone met MG. Dokters en
verpleegpersoneel is altyd goed opgelei en behulpsaam, maar gewoonlik baie
onkundig aangaande MG. Dit is dus die persoon met MG se plig om
verantwoordelikheid vir hom\haarself te aanvaar en die verpleegpersoneel goed in
gelig te hou. Maak seker dat almal weet jy het MG en moenie huiwer om ‘n klomp
vrae te vra waar dit jou eie veiligheid raak nie. Indien jy nie in staat is om
dit te doen nie, vra ‘n naasbestaande wat goed vertroud is met MG om dit
namens jou te doen en om die personeel in te lig oor MG. Jy sal vind dat die
verpleegpersoneel gewoonlik baie gretig is om meer te leer oor MG sodat hulle
jou beter kan versorg.
Die kundigheid, wysheid en geduld van die verpleegpersoneel moet
nooit onderskat word nie. Hulle is toegewyd en goed opgelei en moet nie as
onkundig beskou word net omdat hulle nie vertroud is met MG nie. Aangesien jy as
MG pasient oor die daaglikse praktiese ervaring van MG beskik en van al die
gevare en implikasies bewus is wat MG kan meebring is jy dus die ideale persoon
om hulle te help om hul kennis aangaande MG te verbreed.
| Let wel dat alle inligting op hierdie blad slegs daar is om u kennis aangaande MG te verbeter en dat besluite wat rondom u behandeling geneem word, slegs deur u geneesheer gedoen moet word. |
Terug
na Indeks Blad
Na
begin van blad